MEV. DOEMINIE BESIN OOR MARTHA EN SUPERMAN
’n Goeie vrou wag mooi aangetrek, sonder klagtes en ekstra vrolik vir haar manlief, met alle huiswerk afgehandel, kinders gebad/gevoer/tjoepstil en boonop met ’n koue drankie AS hy tuiskom, want hy mag mos sonder jou by sy vriende kuier so laat hy wil.
Hy werk hard en jy as onderdanige vrou, mag NOOIT sy integriteit of besluite bevraagteken nie. As hoof van die huis, moet sy wil geskied: hy is immers altyd regverdig en betroubaar. (Aldus: Housekeeping Monthly, 13 May 1955.)
1955. Ai, in ’n perfekte wêreld? Vandag se vrou moet dikwels werk (weg of tuis). Menige man verwag van haar om soos Supervrou hierbo op te tree. Oor niks te kla nie. Hom totaal te vertrou al bly hy saans hoe laat uit en kom hoe gesuip huis toe. Dis so van voor-Bybelse tye af. En dit terwyl niks van die onberispelike man verwag word nie. O ja, hy bring geld huis toe en hou dit soos ’n swaard oor haar kop.
Ek ken sulke mans wat dink hulle is die über-kroon van die skepping: Superman met bonatuurlike insig. Sy moet spring as hy praat, hom nooit bevraagteken nie en kos reg hê as hy honger is. Never mind die Bybel wat die man beveel om sy vrou lief te hê en te versorg soos sy eie liggaam (soos Jesus!) Dié man sal eerder meen die vrou moet hom respekteer al doen hy WAT. Hy hoef haar nooit te komplimenteer nie, of bederf of met huistake of kinders se skoolprogram by te staan nie. MAAR sy moet respek toon, spog met sy goeie kwaliteite en hom ophemel.
Indien nie, is sy ’n vrot vrou en poplap by die werk is anyway meer onderdanig en lieftallig. En bewonder vir Superman. Sy verdien dus meer aandag en geskenke. Ek wens party mans wil oor hulself kom. As jy respek wil hê, gee liefde, sê en doen mooi goed, waardeer die vrou wat alles vir jou en jou kinders gee: sy SAL jou outomaties respekteer (en jou diensbare Martha wees). Dankie, as jy só Jesus-man is.
************************************
MEV. DOEMINIE WURG DAAI MUIS!
Watter muis? Die tandemuis? Mickey Muis? Die rekenaarmuis? Nee, man daardie verdekselse kerkmuis. Ek lees iets oor wat ’n mens genoegdoening en tevredenheid gee. En ek, as kerkmuis, ken die antwoord, maar as jy gewonder het, hier is ’n opsomming.
Mense hardloop blykbaar winkels toe as hulle beursies vol is. Elke aankoop maak jou gelukkiger, maar o, wee, na ’n paar dae is daardie plesierigheid wat jy gevoel het skoon weg. Wat gee mens dan aanhoudende gelukkige gevoelens? (Ek praat nou nie heeltemal net godsdiens nie.) Blykbaar is aanpassing die grootste probleem vir geluk. Sodra ons gewoond raak aan iets is ons nie meer gelukkig nie. Die vlak van plesier verdwyn na ’n ruk en ons word basies gedwing om verdere aankope te doen om net weer daardie plesier te smaak. ’n Bose kringloop dus. (Selfs in jou huwelik, as jy te gewoond raak aan mekaar of ‘die nuwigheid’?)
’n Slim professor het nou bewys dat ons dieselfde geluk ervaar wanneer ons op REIS gaan as wanneer ons iets nuuts koop. Waar die plesierige ervaring verdwyn nadat ons iets gekoop het, is dit nie so met reis nie. Die herinnering van die reis-ervaring voorsien ons permanent met ‘happy hormones”. ’n Nuwe motor, rok of gholfstel word baie gou net ’n gewone item, maar as ons unieke reise, geleenthede, selfs ekstreem sport aanpak of selfs nuwe vaardighede aanleer, is dit vir ons die ideale manier om gelukkig te wees. Elke nuwe herinnering word ’n bron van geluk wat jou bybly die res van jou lewe.
God het ons ’n wonderlike wêreld gegee om te ontdek. Hy gee ons boonop ’n huweliksmaat, gesin en vriende om saam met ons dit te ervaar. Ek as selferkende kerkmuis wil ’n permanente wêreldreisiger wees, maar het nie altyd geld nie. Hoe nou gemaak? Doen net iets. Moenie by die huis sit nie. Gaan kuier by vriende en familie op ver plekke. Hou piekniek. Besoek ander dorpe naby jou, stap ’n staproete, doen iets! Jy en jou huweliksmaat gaan soveel gelukkiger wees. Klim uit jou groef. Los die televisie en die winkels. Trek daardie tekkies aan. JUST DO IT!
No comments:
Post a Comment