Thursday, August 11, 2011

DIE VETGEMAAKTE KALF WORD GESLAG!

Hierdie lyk soos die 22ste hoostuk van die spannende lewe van mev. Doeminie en haar Annus Horibilis. Geen blog in my lewe is volledig sonder hierdie hoofstuk nie. Dit is op sy eie 'n tema wat elke jaar horribaal maak, vir mev. Doeminie en ek is seker vir miljoene vroue wêreldwyd. Die kwessie van flippen vet! Die mans wat DALK hier lees, kan maar ophou: hierdie is 'n vroue-ding en is nie sodanig geestelik nie. Julle mans sien mos 'n sexy ou in die spieël al lyk julle hoe oorgewig of sleg. Ons vrouens sien net 'n dik trol voor ons in die spieël met dik boude en 'n dik pens en 'n krom neus. Ek glo dat net tydens die romantiese Middeleeue toe vet vrouens nakend geskilder is en dit seker toe hoogmode was, was hierdie ding aanvaarbaar vir vroue in die samelewing. Maar met Hollywood, Bollywood, Hellcats en ander cheerleading movies, en Desperate Housewifes en Melrose Place, en elke soapie wat jy aan kan dink, selfs 7de laan, is die dik enetjie die lelike enetjie, al is sy hoe mooi, slim en bekwaam, want ons dink al nes Hollywood.
(Op die foto is my sus Esmé en sy stoot my klein dik baba-lyfie in 'n pram rond.)
Van ek maar kan onthou, as derde dogter in die gesin, voor die vierde kind, 'n seun (die kroonprins) nog gekom het, was ek die groot baba! Ja, ek was drillend vet en so oulik. (Op hierdie foto is ek mooi aangetrek vir 'n fotosessie as baba.) Ek was later die lang lomp ene, die tomboy (want sien, meisieklere het nie lekker gesit nie – net seunsklere kon om my heupe kom en het seker genoeg verberg van wat ek gedink het vet was!) En nee, ek was as kind nie vet nie, kan ek vandag met eerlikheid sê! Maar ek was langer as my twee ouer susters en my ma het in haar wysheid en liefde my probeer troos deur te sê ek is net groot gebou en ek het 'n growwe beenstruktuur! My ma het nie geweet my verbeelding was net so groot nie en dat hierdie woorde my in 'n reus verander het nie, een wat my die res van my lewe soos 'n groteske skaduwee sou volg nie. Om sake te vererger was my een suster, Elsa, nog boonop ’n kranige balletdanser en het selfs aan 'n modelkompetisie of twee deelgeneem. My ander sus, Esme’ was lekker kort en het te pragtig in 'n skinny jean of bikini gepas. In daardie dae was daar nie vreeslik baie televisie nie, so ek kan nie my dik selfbeeld aan iets anders koppel nie. Ja ek was besotterd op The New Avengers en Purdey met haar wilgerlatlyf wat kon fight soos geen vrou in die geskiedenis nog nie! Ons almal wou mos toe Purdey haarstyl gehad het. Dit was so bob-bakkie om die kop tipe styl. Ek het dit ook probeer met my kroeshare en dis my ander rede tot swak selfbeeld tot vandag toe nog! (Ek moet dalk maar gaan vir berading, noudat ek daaraan dink, voordat ou Griekie Galbraak hier binne in my weer begin brom.) En boonop was byna alle meisies op skool heel paslik skraal en kort en hul hare het nie gekroes nie!
En die feit dat my kleiner broer Josua met wie ek 'n Dawid en Jonathan verhouding gehad het, my elke keer ‘ou vetgat’ of ‘dikkes’ noem as ons baklei, het ook nie gehelp vir 'n goeie selfbeeld nie. Op Universiteit was ek baie aktief met muurbal, onderwater hokkie en kaskar ry vir my koshuis en sokkie. Ek was super-sokkie-fiks. (Op die foto's links en regs is ek op universiteit tydens 'n staptoer en 'n dinee - met my man Anton. Ek het toe gedink ek is dik en sou altyd iets voor my vet maag probeer voorhou op 'n foto!) Ek was in 'n dames dorpskoshuis (jy studeer uit jou huis maar is deel van 'n ‘koshuis’ in naam) en daarom was ons trapkar spanne klein (mense onbetrokke) en moes jy meer rondtes ry as die ander koshuise waarvan daar tientalle ryers opdaag! Ek het byna elke vakansie op staptoere gegaan. Ek was in goeie kondisie maar het gedink en is oorgewig. Na my troue en drie kinders wat gevolg het moes ek maar veg teen die skaal om die swanger gewig telkens af te bring... en nooit regtig geslaag om weer te kom by my universiteitlyf nie. So word liggaamsbeeld nog vrotter. Elke keer probeer mens maar ’n nuwe dieet, oefen bietjie (ek hou nie juis van oefen nie!); jy verloor bietjie maar die vetjies om die middel bly maar dik sit. Ek het al dinge probeer soos daardie elektriese kontrapsies wat hulle op jou sit dan trek dit jou spiere so styf dan word dit so geoefen (ja, het gewerk toe dit moes maar was soveel moeite!) en ek was al gewrap – selfs deur my eie vriendin wie se naam ek nie mag noem nie... sy het so tuisgemaakte chilli-pepper mengsel op my vel gesmeer en my naakte liggaam met plastiek toegedraai, maar minute later is ek so aan die brand dat ek net so in die kar spring en huistoe jaag om te stort – en dit toe net vererger. Die vriendin, kom ons noem haar mev. Chilli, is verbied om ooit weer aan my liggaam te vat in hierdie lewe en die volgende! Ter verdediging wil ek net sê dat ek nooit tot dade oorgegaan het soos verslankingsmiddels gebruik, of vinger in keel gedruk of gevas nie en veral nie ge-weighless nie, want soveel kos kan geen mens laat gewig verloor nie (so dink ek mos)! Die ergste wat ek gedoen het, was asynpille drink toe dit mode word, maar ek was so hardlywig dat ek dit na 'n week moes staak. (Op die foto is ek -na universiteit - op 'n besoek aan Anton wat met sy eerste weermagjaar besig was.)
En hier sit ek plomp in die veertig met 'n skildklier wat nie saamwerk nie en 'n metabolisme so stadig soos 'n kreupel skilpad. Op my oudag probeer ek dikwels weer diëet of reg eet, maar gewig verloor ek nie. En met my 2010 Annus Horribilis en die groot spanning en pyne van die Tradisionele kerk-rugsteek-komplot en my droom-vernietigingstoer na die London boekskou (hiervan kan jy lees op 'n ander bloginskrywing as jy nou so agter is en nie weet waarvan ek praat nie!) – toe sit ek in een jaar tien kilogram aan. Ag dis maklik. Jy steur jou net nie aan wat is gesond en wat nie, jy gee vrye teuels aan eet en jy het geen krag vir oefen of bene in die lug sit in die gim waar al die goeie kerkmense heen gaan nie. En jy drink liewer rooiwyn as water as daar gebraai word! En daarby moet ek sê – ter verdediging - dat depressie self ook swaar weeg. Mens dra swaar daaraan en dit vat al jou energie. Ek is seker dit weeg ook ten minste 10 kg op sy eie!
En wat help dieet, wonder ek tog? Jy eet minder en mooier, lyk goed vir 'n rukkie en blaas op soos 'n blaasoppie sodra jy stysel en suiker terugbring in jou dieet. Of in my geval as jy net dink daaraan! Dit was my lewenspatroon en daar sit ek toe met my plompe self, en die laaste paar pogings tot minder eet het niks gehelp nie. Wat ook teen my tel is my O-bloedgroep, besluit ek want net hierdie groep moet “Excersize vigorously”. Kan jy glo, die ander bloedgroepe moet ligte oefening doen en joga! En ek hou Niks van oefening nie. Ek dwing myself om op die plot te loop. Ek is amptelik te oud vir gewig verloor besluit ek. Ek beplan om al hoe dikker te word, tot ek so dik is dat hul my nie meer uit my bed of by die deur uit kan kry nie, soos daai vrou in die fliek: What’s eating Gilbert Grape. En as ek sterf moet hul die huis om my afbrand want dit lyk na die goedkoopste opsie! (Op die foto is ek en my vriendin Atha in Rome, toe ons en ons manne daar getoer het in 1988 ek dink? Al het ek shorts gedra het ek altyd gevoel ek is dikker as almal om my. En ek moes koel goed dra want ek kry mos maar altyd warmer ook as almal om my!)
So gaan ek toe vir my jaarlikse check-up dokter toe. My cholestrol en insulien en wat als toets bietjie hoog (geen verrassing vir my nie!) en die dokter kyk my plompe self so en besluit ek moet maar dieetkundige toe. Bla bla bla! Dink ek. Ek kan die dieetkundige iets vertel van eet en dieet. Wat de hel kan sy my leer wat ek nie in 45 jaar geleer het nie? Maar daar gaan so baie mense om my dood aan hartaanvalle, beroertes en wat als, dat ek besef ek moet nou iets aan my eie gesondheid doen, ek is nie meer jonk nie. So kom ek toe uit by die maer jong vroutjie in 'n onindrukwekkende kantoortjie in Brits. Sy gee my so 'n stabiliserings dieet vir die eerste week: iets soos 'n eier, koppie outs pap en vrug in die oggend en vir middag en aandetes hoender of vis met groentes/slaaie. En so ewe 'n vrug tussen etes en laataand. En geen koffie of tee want kafeïen is gif. Bla bla bla. Net 8 glase water per dag plus nog twee. Ek sê vir haar dis te veel kos. Ek gaan gewig optel. Ek weet. Ek ken my lyf. 4 Vrugte per dag? You must be joking! Al hoe ek in die verlede ooit gewig verloor in my lewe is as ek geen vrugte eet nie vir ten minste drie weke. En die koffie? Geen probleem. Ek drink 5 of so koppies per dag en om 'n week uit te hou sal my niks doen nie. My lyf hou van sy koffie en kan dit hanteer. Ek sal haar wys my lyf gaan nie hou van hierdie sogenaamde stabilisering nie. So eet ek mooi daai week, maar teen Woensdag en Donderdag is ek so siek soos 'n hond van onttrekkingsimtome van die kafeïen! Ek is naar, gooi op en voel vrot. Ek is bedlêend!
En dis nie al nie. Toe ek die volgende week by haar kom is ek 3.3 kg af! Ek is verras maar skepties. Sy gee my die opvolg plan: wat toe baie klink soos die weighless tipe eetplan. Sy druk goetertjies aan my voete en hande en meet iets op ’n masjientjie – soos my vet of waterinhoud en wat als en die rekenaar spoeg ’n eetplan uit wat insluit: 5 stysels per dag, 6 proteïene. 3 vrugte, 3 vette, 3 groente en ’n halwe glas laevet melk. En 8 glase water plus 2. Nog steeds geen koffie en tee. Gif. Ek, meer nederig as die vorige keer, smeek vir een in die oggend. Ja goed. En verder net rooibostee en water! Jekkie! Ek sê vir haar ek kan nie op hierdie plan gewig verloor of enigiets regruk soos insulien en suikers en cholestrol nie, want die KOS IS TE VEEL! Sy sê ek moet so eet want ek gaan die res van my lewe so eet. Sy gee my 'n lys kosse en hoeveelhede; daar is selfs koek en drank op, wat ek kan uitruil onder my stysels en vette. Ek besluit ek sal elke krummel eet en haar wys my liggaam kan en kon nog nooit gewig verloor met so baie kos nie. Al is die porsies klein, daar gaan soveel skuldgevoel by my mond in saam met die kos wat oor jare gevorm het uit onkunde en van al die ‘gesonde’ diëte volg. En elke hap skuldgevoel alleen weeg seker 10 kg!
Ek is al 'n maand besig met die eetplan. Ek koes elke week vir die skaal want my lyf kan mos nie met al die kosse tevrede wees en nog gewig verloor nie??? Dit is toe al wat my lyf nodig het. Ek is elke week nog 300g of 500g af. Al gaan ek uiteet en al eet ek ’n sny koek (die koek is nie goed vir die cholestrol en insulien nie, maar as ek dit uitruil met my stysels en vette, dan kan ek soms wegkom daarmee! Selfs soms 'n glas rooiwyn!). Na 'n maand se vasbyt weet ek nou watter porsies is toelaatbaar, watter kosse is beter wat lae GI aanbetref en watter is nie goeie keuses nie. En wat nog? Ek slaap soos 'n engel, waar ek vroeër gedink het my gedagtes hou my wakker of my depressie of wat ook al. Dit was seker maar die kafeïen, ja verseker. Elke koppie koffie steel twee glase water uit jou lyf. Water wat goed is vir suurstof in jou brein, vir skoonmaak van jou liggaam en wat als. Ek glo dit nou. En ek het sowaar 'n plaasvervanger gekry vir koffie: Chikree. Meeste koffiedrinkers gaan hul neuse optrek vir suiwer sigorei, maar dit proe vir my soos manna, want dit is wat ek die res van my lewe kan drink, saam met rooibostee (Jêkkie!).
Op my oudag het ek nou besef, ek kan my kos geniet, weet net wat jy in jou mond prop en hoeveel daarvan. Ek kan enige plek gaan uiteet maar met kennis en slim keuses kan ek dit net so geniet soos ander. Die baie water kry my onder maar ek vat 'n Pump (750ml) saam in die kar as ek kids op en aflaai vir skool en voor ek tuis is, is dit op: 3 glase! As ek dit kon leer en dit kan doen, kan enigiemand. Maar moenie dink die kinders wil so eet soos ek nie. Hulle glo wat ek geglo het: dis die kos wat evil is en jou wil vet maak. Dit gaan my lank vat om hulle die waarheid hiervan te laat insien, of ek gaan dit dalk nooit regkry nie. Al vertel ek hul elke dag van hul lewe hoe mooi en oulik hulle is, is dit nie goed genoeg nie want die wêreld daarbuite vertel iets anders. Hulle moet hul eie pad stap met hul selfbeeld en liggame. Hulle het 'n groter geveg om te wen, want die duisende rolprente en tv waaraan hul blootgestel is, wys nie hoe die filmsterre dag en nag hulself uithonger en heeldag gim nie.

(Op die foto is ek in 2006 in Ierland en het maar lekker dieet om te gaan lekker vakansie hou. Ek het toe ook gedink, sjoe, kyk net hoeveel kilo's het ek opgetel van ons troue af. En was ook maar nie tevrede nie. En as ek nou terugkyk, lyk ek heel skaflik!)
Met dié dat ek hierdie jaar nog rus van my stresvolle 2010 Annus Horibilis, is ek rustiger, koester nie groot verwagtings nie, kom nie baie uit die huis nie, werk rustig aan die kinderkerklesse vir die Kuierkerk, en ek het besluit om meer gesonde tyd met die dogters te spandeer: ons speel nou in die middae muurbal. Ek leer hulle, kry dalk nie soveel oefening in nie, maar hul word elke dag beter en gaan my binnekort ore aansit. Ek voel op 'n goeie plek met my lyf en my lewe...(ja, sê Griekie Galbraak, tot ek my kop by die deur uitsit en party mense my energie steel met hul onopgeloste issues en haat vir hulself en die lewe.) Maar ook hiermee moet mens seker kalm deel. En ook hiermee moet hulle eendag deel. Vir nou, op hierdie oomblik, is ek oraait. Die Here lei mens mos maar so met die berge op en weer af. Hy stap saam; na waters waar rus is, lei Hy my heen. En ja, al gaan ek ook deur 'n dal van doodskaduwee, is Hy met my en vertroos my. As mens dit net so kalm kan insien as jy wel in daardie dal van doodskaduwee vasgekoek raak. Maar dit is weer 'n heel ander storie! Ek sien God nogal in 'n arend. Hier op ons plot is so 'n witbors slangvanger arend met so hoekige kop soos 'n Bataleur en elke nou en dan sit hy in 'n boom so in die middel van 'n oopte en dan weet ek, God is met my. En so nou en dan vlieg hier 'n visarend oor die plot en roep sy mooi roep, dan weet ek ook God is met my. Dit help nogal vir 'n mens in donker tye om so herinner te word. Kry gerus vir jou ook so 'n teken wat jou kan verras as jy dit nodig het. Mag jy elke dag God se nabyheid beleef, in die slegte en goeie tye! En as jy dit nie voel nie, WEET net dit is daar.

Tuesday, August 2, 2011

AS HEILIGE KOEIE JOU HEILIGMAKING OPVREET

Dit klink nou amper soos een van die Farao in Genesis se drome... Mev Doeminie sukkel steeds om die ou koeie uit die slote te sleep... of dalk permanent toe te gooi... maar hier het nou 'n nuwe soort koei sy kop uitgesteek dié week. Ek handhaaf hierdie laaste paar maande 'n lae profiel met ou Griekie Galbraak en Drucilla die dromer en my ander wanaangepaste alter-egos. Na ek heelwat mense hierdie jaar aan die dood afgestaan het wat vir my baie na aan die hart was, het my lewensuitkyk ook maar heelwat verander. Ek het skielik besef dat mens se tyd min is om impak te maak in die wêreld.
Ek het besef hoe min mense leef hul droom en karring dag na dag aan met of 'n saai bestaan wat hulle haat (soos sekere onderwysers/predikante/besigheidsmanne/ens wat geen passie het vir wat hul doen nie maar voortneuk en almal se lewens versuur.) Vanoggend is 'n vriendin dood wat saam met ons ge-Kuierkerk het al vir jare... 'n pragtige sagte vrou met 'n wonderlike man. Skielik. En skielik is hul drome saam dood. Planne wat gemaak is, is nou tot niet. Ek gaan maak 'n draai by haar man en toe ek so met nat oë uit die huis uitstap terug kar toe, besef ek dit... as iemand na aan jou doodgaan en die nuus is nog so vars in jou kop, so skokkend vars, dan skielik is al jou sintuie hiper-sensitief. Die son is skerper, die voëls kwetter harder, die karre ry meer lawaaierig... dis of 'n mens skeilik die wêreld so vars en duidelik sien en hoor soos nog nooit nie. Jy kyk vars en nuut na jou eie lewe of mortaliteit. Ek wil Drucilla die Dromer hier binne my gou kans gee om haar sê te sê:
Ek dink in hierdie vars doodsuur, is daar 'n oop portaal hemel toe waarin sekere energieë op mens inwerk: die wonderwerk van 'n mens wat 'n pad oopvlieg hemel toe (dalk saam met 'n skare engele of saam met Jesus self wat jou aan die hand vat), die genade wat inwerk op ons almal wat agterbly, die krag van God wat afkom aarde toe om ons by te staan saam met die Gees. Daarom dink ek is ons sintuie opgehelder en sien mens dinge nuut. In so oomblik wil jy die wêreld, jou wêreld, verander en mense wakker skud en sê: Leef, terwyl jy op aarde is. Leef jou droom. Leef God se droom vir jou, moenie tyd mors nie.
Ek wys so nou en dan vir my kinders die goeie rolprente (vir my!) wat hul te klein was om te kyk toe dit uitgereik is, soos Pretty Woman, Pride and Prejudice, Wuthering heights, Lady Hawke, en nou die dag kyk ons Forrest Gump. Ek het al vergeet hoe 'n juweel dit was. Kyk dit maar weer as jy opbeuring nodig het. My dogter Chantal vra hoekom maak hulle 'n fliek van so dom outjie - spot hulle met hom of wat? Forrest het 'n IK van 75 gehad en sy ma het hom altyd vertel: Remember what I told you, Forrest. You're no different than anybody else is. Did you hear what I said, Forrest? You're the same as everybody else. You are no different. Forrest was eenvoudig maar het elke kans wat hy kon kry aangegryp want hy het nie gedink hy is so danig anders nie. En in die proses het hy uitgedraf vir sy College se rugbyspan, drie presidente van Amerika persoonlik ontmoet, vir 'n jong Elvis sy danspassies geleer, 'n medalje vir dapperheid gekry in Vietnam omdat hy uit sy pure onnoselheid sy manne gered het; hy het 'n shrimp bootjie gekoop en sakke vol geld gemaak en het selfs sy luitenant (wat sy bene in die weermag verloor het) met die bootbesigheid uit sy depressie gekry. Toe word hulle miljoeners; die einste luitenant het toe hul geld in 'n 'fruit company' belê (Apple computers) en toe is hulle gizilionêrs! En Forrest het vir die Amerikaanse pieng-pong span regoor die wêreld gespeel want hy kon. En Forrest het vir Jenny liefgehad tot sy eendag na hom toe teruggkom het - nadat sy haar hele lewe met dwelms en seks en mans weggegooi het. Hy het haar versorg toe sy aan 'n ongeneeslike siekte sterf maar darem het sy hom 'n seun gegee, 'n slim seun aan wie hy sy wysheid kon oordra. As iemand hom vra of hy stupid is dan antwoord hy: My mama always said: Stupid is as stupid does. In sy eenvoud het hy ook soos 'n kind geglo, dat God sy Pa is en vir hom sal sorg. Sy luitenant is eenkeer erg depressief oor hy sy bene in Vietnam verloor het en omdat Forrest hom toe nog boonop gered het en nie maar laat sterf het nie. Hul gesprek gaan so: Lieutenant Daniel Taylor: Have you found Jesus yet, Gump? Forrest Gump: I didn't know I was supposed to be looking for him, sir. (Want hy het net geweet Jesus is daar by hom.) Die beste wysheid wat sy ma hom kon gee was: Mrs. Gump: Life's a box of chocolates, Forrest. You never know what you're gonna get. En selfs so dom outjie soos Forrest het die lewe maar gevat soos dit kom, soos 'n boks sjokolade, want nie een van ons weet wat ons gaan kry nie. Maar soos Forrest weet mens mos dat God in beheer is. Ek wil vandag praat oor ons 'slimmetjies' wat nog niks van die lesse van Forrest geleer het nie, wat nie besef die sjokolade wat jy kies is dalk nie die lekker een nie, maar weet jy wat, dan kies jy 'n ander een - en dis dalk daardie een wat super-lekker gaan wees vir jou. So, hoekom maak hulle so 'n fliek van 'n dom outjie? Sodat ons slimmes kan leer: Stupid is as stupid does! Kom ons maak minder stupid keuses en gryp die lewe aan!



Ons is almal so vasgevang in ons eie verslawings en vrese en groewe. Dis so moeilik om 'n verandering te maak want dis onbekend en onveilig. Ek kan legio name opnoem van hier en in die Bybel van mense wat verandering aangegryp het om hul doel op aarde te verwesenlik. Petrus, Paulus, Abram, Moses, Josef, ens ens. Ek dink aan my man Anton, wat op 38 'n nuwe beroep begin het. Hy het begin predikant swot, voltyds. Dit was nie maklik nie maar God het ons versorg. En vandag leef Anton sy droom, en met sy foute het mense respek vir hom want hul sien die Goddelike fokus en passie wat hy in die Teologie ontdek het. Niemand is volmaak nie, maar as jy fokus op jou roeping en jou meer en meer verbeter en toespits op jou spesifieke taak/passie, dan sien mense God se werk raak – hul kry respek vir jou wat gefokus jou taak verrig en dan vir ander 'n seën is. Dis mos nou heiligmaking, man! Dit hou jou sommer uit die kwaad uit!
Ons het 'n gegradueerde vriend wat deur sy lewe al heelwat projekkies aangepak het, deur 'n paar huwelike is en nou 'n verkoopswerkie het waar hy nie veel doen nie maar heelwat tyd het om met mense wat in en uit die winkel kom te gesels. Ek het aanvanklik gedink hy is nou op 'n rustige plek waar hy 'n seën is vir ander... hy is baie inteligent, uitgesorteer, gee raad en maak geselsies met almal van die staatspresident tot die boemelaar wat daar aankom. Maar weet jy, nee, toe nie. Hy het al so baie rondgeval en nie uitgekom by daardie fokus en passie wat jou so vervul en wat jy met mense wil deel om hul lewe te verryk nie. Hy glo hy is eksentriek en kan sê en doen wat hy wil jy moet hom net so vat. En o ja, hy het op sy ou dag ook dagga ontdek wat hom gelukkig laat voel as dinge druk. Sodra iemand naby hom kom, stoot sy selfsug mense weg. Hoekom het hy nie vervulling nie? Hy is onbetroubaar, hy hanteer mense takloos, sonder empatie en is totaal op homself ingestel.
Hierteenoor kan ek van iemand vertel wat soos hy is, eksentriek, intelligent, grootpraterig – wel 'n televisie-karakter. Die program Lie to Me, op Mnet , het ek ontdek. Dit gaan oor 'n geleerde sielkundige, Dr. Cal Lightman, wat spesialiseer in mikro-gesigsuitdrukkings en kan sien as iemand jok of watter emosie ook al het. Hierdie ou is so 'n mislike Britse mannetjie met sy eie demone wat hy maar moet veg uit sy verlede en in sy persoonlike lewe. Hy is enige tyd net so takloos soos hierdie genoemde vriend hierbo. Maar 'n mens is mal oor hom, want hy is gefokus op sy gawe en sy werk. Hy het 'n passie om mense te help met sy gawe, want wat anders kan 'n mens met jou gawe doen? Om te probeer om die beste te wees in jou werk, maak jou gefokus en passievol en as jy dan boonop ander kan help met jou gawe, dink ek, het jy jou roeping bereik. Dit is heiligmaking. Dan is jy 'n spies wat God gebruik om te tref.
As ons ons jongmense kan kry om so oor hul passie, hul beroep en gawes te dink, kan ons wonderlike gelukkige kinders hê. Maar nee, wat dink die meeste jonges (en baie baie oueres wat ek ken) – hul is so opgeslurp in 'n kultuur van partytjie hou elke aand selfs, verdien baie geld, suip tot daglig toe, snuif dwelms, slaap met elke rok of broek wat voorkom, en is lewensmoeg voor hul dertig slaan. Party hou hiermee aan tot 80 en haat hul lewe en hul eggenote en kinders haat hul lewe ook. En moenie dink jy kan die mens se heilige koeie aanspreek nie en hom vertel hy smyt sy lewe weg nie, dan is jy die dweper. Die ding van vasgevang wees in die groef, is dat jy nie die moed het om uit te klim nie. Anton beraad baie jongmense wat in voorhuwelikse verhoudings vasgevang is wat hulle wurg. Trou is nie op die agenda nie, want dis darem te veel gevra, maar die twee mense in die (seksuele) verhouding vernietig mekaar omdat nie een die moed het om in of uit te klim nie. As jul mekaar vernietig, klim uit. Trek weg van jou probleem as dit moet. Trek flippen oorsee as dit moet, maar moenie aankarring met iets wat duidelik nie werk nie en wat jou energie steel nie. Fokus op jou gawes en jou droom en jy sal jouself uitsorteer dink ek. Dr Cal Lightman irriteer mens met sy maniertjies, sy takloosheid en sy slegte gewoontes, maar van al die karakters op televisie het ek vir hom die meeste respek en waardering. Want ek sien sy passie, sy gawe en sy diensbaarheid. En wat blus hierdie drie goed in 'n mens: drank, dwelms en verslawings... wat ook al jou verslawing is – jou werk, jou stokperdjie, jou wat ook al. Dis daai ding wat jou gemaklik in die groef intrek en jou vertel dis die lewe! Sodra jy die visie het van wat jy wil bereik, dan is dit ook makliker om uit die groef te kom.
Nou klink ek soos 'n moerige Mev. Doeminie wat preek. Ek is net SO gatvol vir die jonges wat van hoërskool af al dink dat drink, rook en dagga is die ding. Sjoe, nou is ek groot. Nee, sjoe, nou is jy in jou moer in, want universiteit gaan net so 'n lekker jol wees. Ek wil nou nie eers praat van grootmense nie... derduisende sit in werke, in skuld en haat hul lewe want hulle lewe nie. Maak daardie skuif... en LEEF in oorvloed! Hul sê mos die enigste verskil tussen 'n groef en 'n graf is die diepte... Klim uit daai groef want jy lewe, jy haal asem, jy kan. En wees 'n seën vir jouself en ander. Ek ken 'n vrou wat wie se man haar gelos het hier net voor 50. Na die ergste skok het sy oorsee gegaan en op rykes se Yachts (bote) gaan werk. Maak soos Forrest se ma gesê het: Mrs. Gump: You have to do the best with what God gave you.
Ek sluit af met nog 'n sêding of twee uit Forrest Gump. Nadat hul 'n Shrimp boot gekoop het en geen shrimps vang vir weke nie, selfs kerk toe gegaan het en gebid het, vra die ongelowige Luitenant vir Forrest nou waar is al die shrimp: Forrest Gump: [dejected] No shrimp. Lieutenant Daniel Taylor: Where the Hell is this God of yours? Forrest Gump: [narrating] It's funny Lieutenant Dan said that, 'cause right then, God showed up. En toe was daar 'n woeste storm waarin hul byna hul lewe verloor maar hulle en hul boot oorleef. Al die ander bote het onder gegaan. Hulle was die enigste shrimp vangers oor en word toe miljoenêrs! Ek bedoel nie God gaan jou ryk maak nie. Ek bedoel: kyk bietjie rond, God is by jou en wag net dat jy hom raaksien maar voor dit gebeur moet jy soos Forrest sê: My Mama always said you've got to put the past behind you before you can move on. En om aan te beweeg moet jy breek van jou verslawende en vernietigende gewoontes en verhoudings. Soos Forrest se ma en meisie altyd vir hom gesê het: Run, Forrest! Run! Ek wil sê hardloop weg hiervan en vat die sprong saam met God na 'n nuwe lewe met beter keuses en volg jou droom, volg die gawes wat jyhet voluit!





Aan die paar mense wat ek ken wat wel hul verlede agtergelaat het en die keuse gemaak het om die beste te maak van wat God hul gegee het - en hul passie en droom uitleef: Mag God jou nog meer seën sodat jy 'n seën vir ander kan wees.

Tuesday, July 19, 2011

MAGIC, MOSTERDSAAD EN MALVAPLANTE!

Mev Doeminie is steeds besig om die ou koeie uit die sloot te grawe wat met Sean-Jacques te make het. Sean is die gesonde seun wat ons op 15 maande verloor het aan 'n virus wat hom met breinskade gelaat het. Ek sê verloor want die seun wat hy voor dit was, is dood in die hospitaal en die enetjie wat ons huistoe gebring het was maar 'n skaduweetjie van Sean. Soos 'n mens seker 'n kind se dood probeer verwerk, het ons deur hierdie ‘dood’ van ons seun geworstel, en worstel seker steeds. Ons moes worstel met die dood van ons drome vir hom en worstel met die dood van 'n sorgvrye lewe, gemaklike gesinsvakansies, ongekompliseerde skoollewe, gesondheid en toekomsplanne en ja selfs die dood van 'n nageslag wat die Van Zyl naam kan voortdra, dink ek. Klomp goed is daardie dag dood, maar wat nie dood is nie, is 'n klein wonderwerkie wat teen alle doemprofete se prognoses in toe nie op 'n hopie bly lê het en net verder spasties geraak het nie. Wat wel oorgebly het was die vrolike en gelukkige kind wat diep binne in die beseerde breintjie toe tog oorleef het... ‘And that has made all the difference’ (to us, and to the road we were forced to take...) Ons kan dieselfde sê oor ons lewenspad, soos Robert Frost in 1920 gesê het: I shall be telling this with a sigh, Somewhere ages and ages hence: Two roads diverged in a wood, and I-- I took the one less traveled by, And that has made all the difference.
Ek wil vertel van ons geloofspad vol dorings; 'n pad van geloof in 'n God wat gee en neem soos Hy goeddink, in geloof wat berge versit of nie en in geloof in mens se eie geloof wat gevaarlik is. (Op die foto is Sean-Jacques twee weke nadat hy breinskade opgedoen het as 15maande oue baba a.g.v. 'n breinvirus. Al wat oor was van hom, was sy glimlag.)
Na die ergste skok en stof gaan lê het en ons tuis sit met 'n breingestremde kind wat niks kan doen nie en vir wie ek heeldag met fisioterapie na die lewe toe moet teruglok, begin mens mos maar oor jou geloof dink. Het God ons gestraf vir iets? Gaan hy ons binnekort weer straf vir daardie selfde iets wat ons nog nie mooi weet wat nie? Het ons te min kerk toe gegaan? Te min gebid? Te min geld gegee vir die kerk? Nie ons ouers geëer nie? As jy agterkom shit happens en jy is maar een van die met wie dit ge-happen het, dan begin jy wonder of jy iets aan die situasie kan verander. Jy is eers in so 'n gemorsput van depressie dat jy nie die krag het om in jou kar te klim om Pick-a-Pay toe te gaan om die nodige kos vir die gesin te koop nie. Jy lyk sleg en vermy almal want jy het gefaal. Iemand het jou gefaal. Dit moet God wees, want jy is darem nie so sleg nie. Mense kom bid vir jou en jy sien geen sin daarin nie. By die kerk bid hulle vir jou en die kind. Jy weet dit gaan nie help nie, hoekom sal dit? Watse magic gaan jou kind vir jou teruggee?
Dan sit jy eendag in die kerk en 'n preek praat net met jou: “Heb. 11:1: Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie... 19 (Abraham) was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het...” Jy sit regop want wat wil die Here vir jou sê? Nee, dink ek, ek hoor verkeerd. Sulke goed gebeur nie. Hoekom sal God die kind so laat siek word en hom dan weer so genees? Sinneloos. Buite die kerk sê my man, Anton: “God gaan vir Sean-Jacques genees.” Dis wat hy gehoor het. Ek wonder nog hieroor, wil nie te gou vertrou nie. Daardie week kry ek oorweldigende boodskappe, sommer op tv by iemand waar ons braai waar ek toevallig voor die tv verbyloop en die aanbieder sê: “God het my kind se breinskade genees as gevolg van my geloof en gebede...”. Ek ry Pretoria toe met Sean vir 'n doktersondersoek en die nuus is gewoon: geen verbetering, epilepsie neiging. Op die radio speel 'n lied net toe ek by die huis indraai: “God will do miracles when you believe... when you believe, when you believe...” tot ek stop. En die aanbieder sê: “Het jy gehoor? God wil vir jou 'n wonderwerk doen deur jou geloof. Glo jy dit?” Ek moes toe nou sê: “Okay, okay, ek glo dit! Dankie Here!”

(Op die foto is ons sitkamer na Sean se siekte, ingerig as 'n permanente terapie-kamer sodat ons dag en nag kan oefen om sy beseerde breinselle weer reg te help.)
En soos menige gelowiges voor my en na my, beland ek in 'n mallemeule maalkolk van geloofsgedagtes wat basies insluit: Ek moet dit net glo, en God sal my geloof beloon; Jy moet net geloof soos 'n mosterdsaad hê en dit sal gebeur; spreek dit en dit sal gebeur want jy herinner God aan sy beloftes; laat elke ou wat 'n geloof- of gebedsgeneser is vir hom bid, dit verbeter sy kanse op genesing; dit wat jy glo, sal gebeur (Die ewige SECRET!); ons bou 'n huis met trappe want jy moet weet, een van die dae klouter hy nes enige ander peuter daar op en af; ek trek sommer sy doeke uit en sy onderbroeke aan en glo dat die doeke nou oorbodig is want as jy dit glo, moet jy tot die daad oorgaan... (groot fout... onderbroeke vat nie nommer twee goed nie... ja, ook nie nommer een nie). Hiermee saam sal enige super-Christen vir jou vertel dat jy jou lewe moet skoon kry: bely jou sondes, ook die wat jy nie eers van weet nie, jy weet soos toe jy daardie jaar karate geneem het, of toe jy daardie dag in 'n Moskee was in Turkye of toe jy Queen geluister het op skool; smyt enige voorwerpe uit jou huis wat dalk demonies kan wees: dit sluit in alles van Egiptiese skilderye tot die bonsaiplant of is dit die malvaplant (soos Koos Kombuis tereg gesê het?). (Op die foto is Anton en Sean en Michelle - pas gebore, sowat agt maande na sy siekte.)
Nou ja, as jy al die takies afgehandel het en jy voel so skoon soos 'n engel, dan moet jy ook waak oor elke keer wat jy dalk bietjie swak word in jou geloof oor die genesing. Want, jy en jy alleen is verantwoordelik daarvoor as God nie jou gebed verhoor nie, want sien, jou ongeloof bepaal die uitkoms. En hieroor is Super-Christene baie duidelik. As genesing nie plaasvind nie, is dit nie God se skuld nie, dit is jy wat twyfel of jy wat onbeleide sondes het! Nie? O, nee, dan moet jy gaan soek, suster, want jou voorouers het dalk onbeleide sondes gehad of vloeke op hulle... Gaan soek, gaan soek... Jy soek jou malle verstand af en elke keer as jy na jou kind kyk, dan wonder jy hoekom jy so sondig is en onrein want dis jou skuld dat jou kind so krepeer. Jy gaan van Stilfontein na Stanger vir gebede by groot manne... jy wil met alle geweld by TB Joshua uitkom, want hy genees. Ons is uiteindelik bespreek op 'n vlug Nigerië toe en die kaartjies is betaal en Geelkoors inspuitings is gekry. Ons het soos ons moes ons name deurgestuur sodat TB Joshua kan bid vir die name en wie moet kom, maar toe is Sean nie op die lys wat moet kom nie, net ek en Anton. Maar ons besluit om ons kind saam te neem na die haglike omstandighede en slaapplekke by die TB Joshua kerk. God sal mos sorg. Hy wil dalk net ons geloof toets. Als sal uitwerk. God is in beheer. Ek bid en bid dat God ons nie op 'n 'wild goose chase' moet stuur nie.
Als wat ek van TB Joshua gelees en gesien het, glo ek is waar en rein en edel. Hy is beslis 'n Godsman. Nie soos ons gewoond is nie, maar daar in Nigerië werk God beslis anders met gelowiges as hier aan die Suidpunt van donker Afrika. Ek vra almal om te bid, want hierdie is ‘n groot en ongerieflike stap in geloof met 'n klein breingestremde seuntjie so op die vliegtuig in vuil Afrika in. Ek vra God om my geloof sterk te hou, want jy moet jouself behoorlik opsweep en positief hou sodat jy kan bly glo in wat jy doen, veral as Super-Christene hul snaters oor alles oop en toe maak. Twee dae voor die vlug word die toer gekanseleer. Dit was tien teen een ouens wat net uit ons arme gelowiges wou geld maak en dit werk toe nie uit nie. My teleurstelling in God ken geen perke nie. Anton aanvaar dit so as deel van die geloofspad. Dit neem my weke om hieroor te kom. Kan God nie net een ding laat uitwerk nie? Ek bedoel, my geloof staan soos 'n ligtoring, my geloof is nie eers meer so groot soos 'n mostertsaad nie, dit het gegroei tot 'n hele boom. Ek bedoel, mense sit onder die boom, en ek getuig en vertel vir almal wat wil hoor en nie hoor nie wat God alles gaan doen met my geloof en met Sean. Vernedering is seker maar deel van mens se geloofspad. Ek staan weer op en besef dat God ons wel gespaar het van heelwat ongemak en mislukking dalk? Hy het seker ander planne.
Dis maar een storie in 'n boek vol van my planne wat ek al gemaak het om God se arm te buig om te doen wat ek wil – en ja, natuurlik glo ek ook dis wat Hy wil, want ek en Hy gaan mos berge verskuif met hierdie wonderwerk. Intussen gaan elke dag soos die vorige, ons oefen Sean se onwillige spiere en breintjie wat bitter bitter stadig vorder, sien die dokters en terapeute, versorg my twee dogters, ruil Sean se doeke, maak kos, koop kos, en so aan. Niks verander nie. Ek stoei voort met God. (Op die foto bo is ek en Sean en Michelle - ons moes almal die beste maak van 'n baie uitdagende situasie, ook Michelle en Chantal wat later bygekom het. Op die foto regs is Sean in 'n tipe loopraam wat ons gebou het om hom te help om weer te kan loop. Links tydens 'n dieretuin uitstappie in 2004.)
Ek en Anton het in 1998 en 99 die Lynwoodrif Bybelskool oorsigkursus en diepte kursusse gedoen en so bietjie meer geleer oor God en sy plan met die mens. Mens kom seker maar agter op jou geloofspad dat alles nie gaan oor jou eie gemak nie en nie gaan oor die sterkte van jou geloof nie. Daar is baie voorbeelde in die Bybel van groot geloofsmense en kleintjies wat nie geglo het nie en tog het God gedoen wat Hy moes. God doen wat Hy wil soos hy wil. Ja, jy moet glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk, nogtans nie soos jy wil nie. Mens kom seker maar mettertyd agter dat jou eie gebede net soveel krag het soos die volgende geloofsgeneser s'n, want God kan werk deur wie Hy wil. Jy kom agter dat dit nie vir God saak maak watse skilderytjies in jou huis hang nie. Hy doen wat Hy wil. (Op die foto is Michelle by Sean op 'n tipe kruipraam om hom te help kruip. Hy het meestal net daarop gelê en geglimlag. Ek moes die kruipwerk doen, so kan die eelte wat nou nog aan my kneukels is getuig.)
Ek glo God waardeer ons geloofsdade, want dit wys ons herken hom as God en Vader. Maar Hy gaan nie die heelal laat onstpoor omdat jy ongerieflik is nie of omdat jy tien uit tien gekry het vir 'n skoon huis nie. Ek dink Hy wil maar net hê ons moet weet Hy weet die beste. Hy sal sorg, in die goeie en slegte tye. Ek glo nie meer die duiwel spring op jou omdat jy 'n Oosterse plant in jou huis het of 'n Oosterse gevegskuns beoefen nie. Ek soek deesdae eerder die Here in alles voor ek die duiwel in alles soek. Almal is nou die joos in vir Lady Gaga se Judasliedjie. Sy is 'n kreatiewe siel wat maklik misverstaan word. Ek gaan lees self wat Lady Gaga skryf in haar liedjie oor Judas. En vir my lyk dit net of sy 'n stryd het met die Judas kêrel, en sy weet Jesus is haar virtue (haar reinheid, haar redding), maar soos baie van ons, kan sy nie wegbly van die slegte nie, net soos Paulus gesê het: "Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte doen ek!" As Gaga sing van die ‘King with no crown’, dan praat sy van Judas. Hy is net so bekend soos Jesus oor al die eeue heen, maar was nooit 'n koning van enige aard nie - dalk die koning van verraad; almal ken die Jesus verhaal en ken dus die Judasverhaal net so goed.
EK WENS... Ek wens Christene wil ophou om die duiwel in alles en almal te sien. Sien Christus se kreatiwiteit, sy grootheid en sy genade in alles. Ek wens Christene wil ophou om ander mense en ander Chrsitene te veroordeel: elkeen is op sy eie geloofspad en as jy dit nie verstaan nie, moenie jou onkunde en gebrek aan insig so aan die groot klok hang nie. Ek wens Christene wil ophou om hul geloof te verdien: Jesus het dit reeds gedoen aan die kruis. Ontspan nou en gaan wees 'n seën vir die wêreld soos Jesus was. Ek glo dis al begeerte wat hy vir ons het. As jy heeltyd fokus op hoe om beter, skoner en heiliger te word, gaan jy jouself en almal om jou mal maak. En jy gaan niks vir die koninkryk beteken nie.
Na al my gestoei met gebed, met my geloof in genesing, en my daaglikse roetine van oefen, terapie en slim toestelle bou, is Sean nie genees soos ons wou nie. Hy het nie een oggend opgestaan, soos ek baie gebid het, en skielik is al sy breinselle 100% reg en werkend nie. Hy is vandag 18, dra nog doeke, en hy is vroliker en gelukkiger as geen ander mens wat ek ken nie. Hy dink hy is wonderlik en dat almal altyd bly is om hom te sien. Hy het geen inhibisies nie, geen geloofsvrae nie, geen worsteling met God nie, en hy is net 'n seën vir almal om hom. Hy is gasvry, laat almal altyd goed voel, hyself voel nooit verneder of onvergenoeg of in die gesig gevat nie. Hy glo hy is goed genoeg net soos hy is. Dit is hoe ons moet wees. Hy is volkome genees van alle aardse emosies, kwellings en waansin - in sy menswees en in sy gees. Ek ken niemand wat dieselfde kan sê nie. Ek wens hierdie genesing vir alle mense op aarde.
Ek het al gewonder wat mens vir jou kinders kon wens in die lewe: 1. 'n Gesonde selfbeeld wat gegrond is op wat Jesus van jou dink en nie die skewe beeld van wat jy of ander van jou het nie. 2. En 'n onvoorwaardelike liefde vir mense om jou, sodat jy hul kan verstaan en liefhê sonder vooropgestelde idees of oordeel. Beide die twee goed, het my seun. Ek bid dit vir my dogters, Michelle en Chantal, toe in die lewe. Ek dink dis al hoe 'n mens ooit jou volle potensiaal kan bereik. En ek bid dit vir al my vriende. (En ja, vir wat dit werd is, ek dink nog verjaarsdae en kersfees daaraan dat ek dalk gaan wakker word en die Here het wonderbaarlik vir Sean-Jacques in die nag genees, soos wat ek diep-diep in my hart nog altyd hoop... maar ek verstaan, ons aanbid nie 'n God wat magic doen nie, maar een wat die beste vir ons beplan en gee. En ek sien uit met alles in my na eendag in die hemel as ons almal volkome genees gaan wees en geen pyn meer ken nie.)
Intussen is ons elkeen op ons eie geloofspad...
THE ROAD NOT TAKEN. Robert Frost. 1920.
Two roads diverged in a yellow wood, And sorry I could not travel both, And be one traveller, long I stood, And looked down one as far as I could To where it bent in the undergrowth; Then took the other, as just as fair, And having perhaps the better claim, Because it was grassy and wanted wear; Though as for that the passing there, Had worn them really about the same, And both that morning equally lay In leaves no step had trodden black. Oh, I kept the first for another day! Yet knowing how way leads on to way, I doubted if I should ever come back. I shall be telling this with a sigh Somewhere ages and ages hence: Two roads diverged in a wood, and I-- I took the one less traveled by, And that has made all the difference...

Tuesday, July 5, 2011

VLIEGKAARTJIES VIR DISNEY WORLD MAAR ONS LAND IN NIGERIë!

Mev. Doeminie se Annus Horribilis-verhaal is nie volledig as ek nie hierdie verhaal vertel nie. Dis ‘n heel ander Annus Horribilis... 1994. Nee, dit het so niks met Mandela se vrylating te doen of die eerste demokratiese verkiesing nie; dit het niks te doen met ons almal wat ‘n arsenaal koeëls longlife melk en blikkieskos versamel het vir die groot swart oordeel wat kom nie. Inteendeel. Ek het dit heeltemal gemis toe my eie vrot jaar my vaskoek en begin versmoor. Was dit erger as my 2010 annus horribilis? Ja. Beslis. Maar ek het toe nie geweet ek moet skryf om die vrot uit my gestel te kry nie. Ek het toe nie geweet dat God eintlik regtig in beheer is nie.
Verbeel jou jy beplan ‘n gesinsvakansie: Disney world! Vir weke, maande, jare beplan jy dit. Jy weet al wat jy gaan dra, wat jy als gaan besoek. Jou visums is reg, jy kan die taal praat selfs, jy weet dag en datum waar jul gaan wees en wat jul gaan besoek, waar jul gaan bly en watter kar jul gaan huur om als te sien. Almal is gepak. Die vliegtuig styg op. Jy kyk movies bo in die lug en eet lekker vliegtuigkos, voel so nou en dan of jou Kaartjies na Universal studios en die Disney Theme park nog veilig in jou sak is. Die vliegtuig land. Die vlienier heet jou welkom in Nigerie. Nigerie? Jy proe aan die woord maar dit smaak nie reg nie. Jou brein registreer nie mooi nie. Jy klim uit die vliegtuig en dit lyk nie soos Disney World nie. Dis woes warm. Dit lyk boomloos, vol geboue, vol misdadigers en erg derdewêrelds. Dit neem jou ‘n ruk om te registreer dat jou bestemming verander is sonder jou medewete. Die onregverdigheid, die teleurstelling en die vreemde taal en gebruike wat jy nie verstaan nie, wil jou oorweldig, maar jy sit nou daar. ‘n Gesinsvakansie in Nigeriê. Jy bid dat die nagmerrie verbygaan. Jy bid weer en weer. As die skok oor die fout wat ingesluip het tot jou deurdring en jy klaar jou vloermoere gegooi het in elke denkbare kantoor waar jy kan, moet jy berus. Jy is nou in Nigerië. Vir die volgende hoe lank moet jy jou aanpas by hierdie lewe. Dis moeiliker want als is anders as wat jy gewoond is, maar as jy die toeristekantoor besoek, dan besef jy, sowaar, hier is ook interessante plekke en dinge om te besoek. Disney World was jou eerste keuse, maar hoe langer jy in Nigerië sit, hoe interessanter en makliker raak dit.
Die lang inleiding is nodig om te vertel van ‘n kind wat normaal gebore is, wie se toekoms rooskleurig was en wat ‘n breinvirus opgedoen het. Ons as ouers het ‘n ander bestemming en droom vir hom gehad, maar ons vliegtuig het op ‘n ander plek geland en ons moes aanpas, 180 grade omdraai, radikaal, onomkeerbaar, onvergeetlik, pynlik en tog nie onaanvaarbaar of totaal onaangenaam nie. Ek het al genoem dat Sean-Jacques (op die foto in 2005) wat nou 18 is, het op 15 maande ouderdom ‘n breinvirus opgedoen, twee weke in die hospitaal was wat vir ons hel was en toe word hy die wêreld ingelaat in ‘n vegetatiewe staat. Ek hoor ek is swanger met Michelle in die hospitaal terwyl ek by hom waak. Ek kan nie in menslike taal oorvertel wat daardie jaar alles deur my gewonde kop gegaan het nie. Ek was soos ‘n zombie en het dag vir dag oorleef op niks. Nee, nie niks nie: daar was die normale daaglikse gevoelens en roetine: Geen hoop, voer die slap pap teelepel vir teelepel in sy keelgat af, groteske vrees vir God, gee hom bottel en vryf sy keel sodat hy kan sluk, vrees vir mense, vee die kwyl en kos af wat nie ingegaan het nie, vrees vir my toekoms, maak doek skoon, vrees vir my gesondheid, oefen die pap spiere, vrees vir die lewe en die geboorte van die ongebore Michelle, onbeholpenheid wat jou wil oorweldig. Jy wil nie opstaan in die oggend nie. Daar was slapelose nagte waartydens jy die asempie van ‘n kind wat in jou seun se bed lê, sit en dophou omdat jy bang is hy hou op asem haal of hy kry ‘n ergere epilepsie aanval. Hy het nie geslaap nie, die dingetjie. As hy aan die slaap raak, ruk hy homself wakker en sy spiere (wat agv die skade op daardie deel van die brein, geen beheer het nie) kom nie tot rus nie.
(Op die foto is ek en Sean in 2002, 8 jaar nadat hy breinskade gekry het. 'n Leeftyd later.)
God was die groot een wat ek gevrees het. Hy was vir my toe onbetroubaar, hard, ongenaakbaar, wreed, ondeursugtig, onbarmhartig, sonder liefde, sonder simpatie, en veral was Hy onbereikbaar. Ek het gevra: Hoe kon Hy nie my nagtelike versugtinge hoor nie. My gesmeek om een nag te kan slaap. Dat my kind net ‘n nag deurslaap. Dat ek hom genoeg en reg oefen sodat hy met die ses maande doktersbesoek darem self kan sit (wat nie gebeur het nie en wat tot gevolg gehad het dat die dokter ons vertel dat dit omtrent die hoeveelheid is wat sy brein en liggaam sal vorder!). My sitkamer word ‘n terapiekamer. Ek oefen met my moëe swanger lyf my kindjie dag en nag. Hy smile net van al die dosisse Epinuton (swaar medikasie vir epilepsie). Ons ry maandeliks van Pietersburg af na Pretoria om ‘n Neorologiese Fisio terapeut te besoek. Sy gee ‘n maand se oefeninge en ons moet elke oefening met elke spiertjie 2000 keer herhaal. Nee, hy moet dit 2000 keer herhaal. Ek mag nie vir hom dit doen nie. Ek moet sy spiere knyp, mooipraat en smeek en bid dat hy sy arm optel... 1... 2... 3... 4... skryf dit neer. Mooi, 4 keer. Voor die maand om is moet dit 2000 keer gebeur want dan vorm die brein weer sy neurobane of what-the-friggen-ever. Ek moet man alleen sorg dat die beskadigde breinselle weer leer wat om te doen. Dis die ma se werk, vertel almal wat weet en nie weet nie. Dit is nag. Dit is donkernag. Ek is swanger. Ek kan nie anti-depressante, angspille en chemiese gemors in my en my ongebore kind se liggaam injaag nie. Want wat as... sê nou net...? En Anton vlug werk toe, met sy anti-depressante. Sy ma help my so ver sy kan met haar seer gewrigte. Sy is 'n engel in die tyd. Ouma Martie. Sy maak kos en is net haar rustige self. Sy en Oupa Piet.
Ek is vreesbevange met Michelle se geboorte maar alles loop toe wonderlik reg. Dankie Vader. En so ook tussen die geoefen en gestoot van looprame, so maak Chantal ook haar opwagting twee jaar later. (Ja, die huwelik het dit toe oorleef, Dankie Here.)







(Op die foto is ek en Chantal links en Michelle in 2002 in Hartbeespoort.)
Maar ek wil nie vertel van die jare se gebede, se hoop en geestelike groei en val en opstaan en stoei wat gevolg het nie. Ek wil nie nou vertel van hoe Sean se halwe lewetjie vir ander mense besielend was nie en hoe hy ander se lewens geraak het in sy 18 jaar nie. Ek wil vertel van die snaakse goed wat toe gebeur met ons daar in die vreemde plek waar ons ons bevind. Waar ons die vreemde taal moes aanleer van breingestremdheid, die plek waar ons moes leer om alles te hanteer: die vreemde kyke en opmerkings, mense wat ons vermy, kinders wat my kind terg en seermaak, vreemde situasies wat ons op die ou einde maar net laat lag het.
My kind is nou 18, sy maats skryf hierdie jaar matriek. Hul ma’s jaag op en af skooltoe vir ekstra matriekklasse want die onderwys boikotte en baie vakansiedae en dinge is eens te veel vir ‘n normale moeder en moenie die matriekafskeid vergeet nie. Want kyk, mevrou se pragtige dogter of seun moet net volgens die nuutste modes geklee wees. Parys se modehuise is selfs nie goed genoeg nie. Intussen probeer ek vir my seun die goedkoopste broekiedoeke in die land opspoor, want hy dra nog doek op 18. En ek moet daagliks skoonmaak: ja, nr. Een en twee en soms als gelyk in tornadiese proporsies. As ek die dag ‘n mooi baadjie of hemp spesiaal vir hom koop, vroetel sy dom en altyd besige vingertjies die goed so onder sy borskas in dat jy naderhand nie meer weet wat het hy aan nie. Hy torring sy doeke, skoene en baadjies stukkend want sy hande moet vroetel en torring. Maar hy kan darem sy hande gebruik, so effens. Nou wel nie om matriek te skryf nie. Hy loop darem. Ek onthou die dae toe hy nog (tot op 8 jaar) op sy boude geseil het en ek leerbroeke moes maak want ‘n materiaal broek hou net ‘n uur. Die leerbroek het darem ‘n dag of twee of week gehou voor ek moes patch.
Ons leer ons kinders, moenie met vreemdes in die dorp praat nie, ja, ignoreer sommer die bekendes ook, mens weet nooit wat gaan in hul huise aan nie. My kind kan nie in die dorp loop sonder om te babbel (want dis nie gesels nie) met elke vreemde mens op straat nie. Hy gooi sommer by: ‘n soen, ‘n kielie (op vreemde plekke soms) en ‘n druk, as dit lyk of die angs die arme vreemdeling nie heeltemal onderkry nie.
Eendag gaan ons gesin, ek en Anton, Sean en Michelle en Chantal, na ‘n buitelug restaurant hier naby Hartbeespoort (ek mag nie die naam noem nie, anders spoor hul ons op!) – ons bestel pizza en die kinders speel op die klimrame. Sean kon toe al bietjie loop en so waggel hy daar rond met sy lang lyf. Hy maak toe sy doek heeltemal sopnat en ek moes dit uittrek by die kar, maar trek toe net sy kortbroek weer aan aangesien ek nie ‘n skoon doek ingepak het nie. Ons gaan mos net pizza eet en huistoe gaan. Wat is die kans... Hy staan nog so en winddroog word... en ek sien toe skielik hoe hy sy een been so skeef draai en skud en so wrintiewaar val daar ‘n goedgevormde kluit uit op die grasperk. Vir ‘n breukdeel van ‘n sekond weet nie ek of hy wat om te doen nie. Maar met my kennis van James Bond se seepgladde bewegings, spring ek uit my stoel, lig my kind weg van die gedoente en plaas ‘n lekker plat klip bo-op die kluit. Alles het so vinnig gebeur dat niemand ‘n oog geknip het nie, behalwe dalk ek. (Op die foto is ek en Sean tydens so eetsessie...)
‘n Ander keer probeer ons gesin die Aardklop kunstefees in Potchefstroom bywoon. (Op die foto is Anton en Sean by Aardklop in Potchefstroom). Ons kan nie die teatergoed bywoon nie, want Sean is te luidrigtig. Ons sit so in Huisgenoot tent rond of loop deur die stalletjies wat ‘n uitdaging is met hom want hy groet almal en vat aan almal. En dwaal weg as jy hom nie aan sy arm agter jou aansleep nie. Maar heeltyd trek hy sy broek aan die een kant op want die ding lyk my is te groot en pla hom. Ek besluit in my wysheid as moeder dat sy broek ‘n belt kort. My handsak het net die regte belt aan en Anton moet nou die belt aan Sean se broek kry. Sean hou niks van die nuwe verwikkelinge nie. Kyk hy is dood-happy as dinge loop soos hy wil maar as jy iets doen wat vreemd is, dan gil hy. Sean val op die grond neer en begin skreeu en skop en wurm. En hoe meer hy skreeu hoe meer probeer Anton hom wys wie is baas en uiteindelik is die belt aan. Die toeskouers het toegeneem en ek wou begin geld vra vir die unieke vertoning. Want daar lê Sean toe en skreeu en tantrum gooi so op die gras en lig sylyfie so op met sy voete. Vloermoer by uitstek. Hy was toe 10. So dans hy op die grond rond en gil vir nog tien minute. “Ek dink jy moet maar die belt weer afhaal,” besluit ek en Anton takel hom weer. Die Sekuriteitsmanne het nadergestaan, maar die afhaal was genadiglik makliker as die aansit. En daar is Sean weer happy. Ons stap voort en hy groet en soen almal wat wil en nie wil nie. (Op die foto is Sean tydens 'n besoek aan 'n wildplaas - dit is hoe hy met 'n verkyker kyk.)
So gaan ons lewe voort. Hy is nie soveel anders as ander tieners nie. Hy kan nie mixit op ‘n foon nie – dit doen hy orals op straat sommer so in jou gesig. Hy is lief vir fliek. Hy kan nie ‘n 3D fliek kyk nie, want die bril is een te veel vir hom. Hy kyk alles: aksie, animasie, komedie, bangmaakflieks – nie dramas nie, en hy gil en gesels uit sy hart saam, tot my tienerdogters se groot verleentheid in die teaters. Mr. Bean is sy hero; en Tom en Jerry en Scooby Doo (met laasgenoemde twee skreeu hy uit volle bors van angs vir die spoke of van angs vir Jerry wat moet wegkom). Hy kan amper al mr. Bean (van die tv) se woorde praat. Dis maar min. Hy loop soos mr Bean en lyk sommer soos Bean. Ek wens ek kan hom eendag London toe vat om mr. Bean te ontmoet! Hy sal flou val: ek bedoel Mr. Bean! Sean sal hom opsoen! Hier is hoeka 'n vriend van ons, Wikus Hatting met sulke groot oê wat vir Sean groet soos Bean. "helloo!" dan raak Sean mal. Hy glo vas Wikus is Bean.


Hy kan bulle skree en scrum roep, en skreeu uit sy keelgat vir alle rugby. As daar 'n mooi meisie op tv is of 'n fashion show wat my dogters kyk, dan sê hy: Mooi. Deesdae is Doreen Coetzee, Rene' my vriendin, se drama-dogter vir hom die mooiste!
Hy is gelukkig. Hy staan met sy twee voete in die hemel. Ek het hom lief soos hy is, want dis wie hy is. Hy is volmaak. ‘n Super Christen (jul onthou mos dis die ouens wat geen sonde of foute het nie, wat heiligmaking onder die knie het en graag ander vertel hoe om die status te bereik) sê eenkeer van 'n gay persoon: ‘God het hom nie so gemaak nie. God maak nie foute nie. Hy skep mense perfek.’ Wel, weet jy: Shit happens. Die wêreld is nie perfek nie. Kyk na die brein- en fisies gestremdes om jou. Foute sluip in. God werk met foute. God raak mense aan met ander se foute. Met jou foute. Met jou kind se foute. God slaan reguit houe met krom stokke. (Ek dink buitendien dat alle mense met breinskade grootword: die wêreld en ons ouers doen ons bes om 'n ongeskonde leliewit kinderbrein in 'n boksie vol sekere denkepatrone en fobies en reëls in te forseer sodat daar besliste breinskade is voor die kind nog uit die laerskool uit is.)
Ek wil dus graag moed in praat vir jou mevrou en jou meneer wie se vliegtuig nie gearriveer het op die regte lughawe nie. Joune het dalk geland in Gay-town of in Baby-ville. Jou seun of dogter het vir jou kom vertel hul is homoseksueel, of hul verwag ‘n buite-egtelike kindjie of hul trou met iemand van ‘n ander ras. Weet jy, gooi jou vloermoer, kom oor jouself en jou skok en jou vrese, geniet die nuwe land en taal en besienswaardighede. Jy het ‘n keuse om dit te doen of andersins kan jy in sak en as sit en jou kind verloor. God maak nie foute nie. Jy is reg. Hy werk met foute. As jy foutloos is kan Hy nie met jou werk nie. Of met die mense om jou nie. Jou kind is perfek, maak nie saak, wat die wêreld of jou eie sienings dalk aan hom gedoen het nie. Aanvaar hom of haar 100% met poefdoeke en al. Eintlik het jy nie ‘n keuse nie. Jy doen dit of jy verloor. Vir God is hy perfek met sy foute. God het hom lief net soos hy jou liefhet - vir jou wat dalk volgens jou bogemiddelde intelligensie geen foute of breinskade het nie.

En ek wil bysê: Gestel jou vliegtuig land nie eers in 'n ander land nie, gestel hy stort neer iewers in 'n woestyn en jy is die enigste oorlewende... Dan het jy darem nog foto's en herinneringe van vorige vakansies wat absoluut asemrowend was!

Tuesday, June 7, 2011

'N HANDVOL VRESE, TITANIUM-SKROEWE EN PRINSE!

Hoofstuk 16. Dis nog steeds Mevrou Doeminie se Annus Horribilis wat klop: Ek onthou met angs my horribale Junie 2010: die groot rugoperasie wat my twaalfjarige dogter, Chantal, toe moes ondergaan. Dit was een van my pynlike groot vrese van 2010 wat ek aan die begin van my blog noem (Begin Januarie 2011). Ons kom agter hier teen begin 2010 dat haar rug lekker skeef begin trek. Sy is ‘n fikse dansertjie wat tot onlangs toe nog akrobaat truuks uitgehaal het met daardie einste skewe rug. Sy disko en bellydans en tap en ballet. Skoliosis, sê die Ortopeet en ons moet binne die volgende paar maande die operasie doen. Maklik: hulle sny haar rug oop, skroef met 18 titanium skroewe en nog ‘n lang stuk langs die ruggraat af, en haar rug is mooi reguit in plek in. Want die krom rug is iets soos 64 grade krom en gaan soos sy ouer word net krommer trek. Of so iets. Terwyl die dokter dit sê, spring al my hospitaal-‘triggers’ van die verlede in rat in en marsjeer oor my brose gemoed dat die bloed spat.
Ek wil in trane uitbars, my hare uitpluk en histeries in die hospitaalgange op en af hardloop en gil dat ek alle dokters wantrou en haat!! Maar ek moet kalm glimlag soos 'n goeie moeder sou en vir haar laat dink dit is 'n wonderlike ding wat haar gaan oorkom. Sy moet net nie my vrese aanvoel nie, want sy is die een met die woeste verbeelding wat 'n sonbesie in 'n alien spaceship kan omskep – of dan nou ‘n berg van 'n molshoop maak. (Wonder waar erf sy dit?)








(Op die foto is Chantal nou in Junie 2011 'n jaar na die operasie.)
Hospitale, dokters. Ons grootste nagmerrie. Ek kan op my een hand opnoem hoeveel familielede in hospitale gesterf het as gevolg van hospitale of dokters se nalatigheid. Ons 18jarige seun Sean-Jacques is op 15 maande met 'n koorstuipe opgeneem in Pietersburg in 'n hospitaal en is daar uit met ergere breinskade as gevolg van goeie dokters se nalatigheid (wat ons nooit ooit sal kan bewys nie). Ons gesonde kind se lewe is vernietig. Ons lewe is vernietig in daardie week. Ja, die Here het ons stukkie vir stukkie weer opgetel en ons leef. Maar dit is my ervaring van hospitale. Nou moet ek my gesonde meisiekind daar instuur. Wat gaan ek terugkry? En ek moet voor haar maak asof dit die natuurlikste en wonderlikste ding is wat sy ooit kan oorkom. Sy gaan 'n titanium rug kry. Maar haar rug pyn dan nie eers nie, wonder sy. Dit lyk nie vir haar so vreeslik krom nie.
En dit alles gebeur in die middel van 2010 terwyl my geloof aan 'n draadjie hang, geloof dat God vir 'n mens luister as jy bid. Dat God jou 'n vis gee as jy een vra en nie 'n slang nie. Dit voel teen hierdie tyd of ek met 'n paar slange in die hand staan. My London Boekskou en my soeke na 'n uitgewer wat Meimaand so geflop het toe die vuurspuwende berg in Ysland my lewe en my hoop en drome geskaak het – en dit na jare se diepsinnige gebed en gepleit by God om saam met my hier in te gaan en my reis en my boek te seën; en nog iets: hoeveel jare en maande bid ons vir die tradisionele kerk se vendetta teen my man, Anton, en ons gesin en dat God hul harte sal verander en versag en sal rede laat insien. (Ja, nou sien ons dat ons daar moes uit en ons eie kerk begin, maar toe was ons nog vas oortuig dat God ons paaie gaan gelykmaak en ek wou glo dat God ons pyn gaan minder maak en ons meer beskerm). Hierdie goed was te vars in my gemoed. Ons het in die vars varkmis gestaan, man, hoe kan jy nou rede sien? Ek sien steeds nie regtig rede nie en verstaan steeds nie hoe 'n groot God dink en doen nie.



(Die foto is van Chantal se rug met die titanium skroewe in.)
Hier stuur ek my kind in 'n hospitaal in sodat haar lewe vir 8 ure lank van 'n dokter se betroubaarheid afhang, want dit lyk toe nie vir my of God 'n hand bysit by ons groot krississe nie. Dinge het net te verkeerd geloop en te pynlik. Kyk, ek weet mos dat God by 'n mens is, of dinge goed of sleg gaan. Jy sal maar oorleef. Ons het 18 jaar van Sean-Jacques se breinskade oorleef. Jy dink mos jy gaan vrek van ellende en smart, maar elke dag staan jy maar weer van voor af op en God gee mens krag vir die dag of jy dit wil vat of nie. Sover het ons so val-val en opstaan deur ons lewe gekom, al klouende aan God. Wat ek wel geleer het, is dat God nie alles laat gebeur soos ons pleit nie. Hy is nie daar om ons lewe gemaklik te maak nie. Ons moet bid en vertrou dat Hy ons sal ophelp. En met 'n kind in die operasiesaal, is dit nie die tipe geloof wat 'n mens wil hê nie. Jy wil weet dat God sag en dierbaar is en al jou gebede verhoor soos jy vra, want sowaar, jy het nie krag vir nog 'n reuse krisis nie, veral nie in Junie 2010 nie!
En ja, ons het die dag oorleef. Met vriende soos Greame Peplar en Marinda van Zyl wat die hele dag saam met ons in die koffiewinkel van die hospitaal gesit het, en ons hande letterlik vasgehou het en nonsens saam met ons gepraat het totdat die kafeïene by ons ore uitgeloop het. En die feit dat niemand van die T-kerk eers die moeite gedoen het voor, tydens en na die operasie om vir ons te bel en moed in te praat of te bid nie, maak nie nou saak nie, maar dit was toe net nog 'n bewys dat daardie mense wat hulself ons vriende genoem het, niks vir ons voel nie. Ek bedoel, dis darem net goeie maniere om jou dominee en sy gesin wat deur die hel gaan, te ondersteun, of te maak of jy hul ondersteun? Toe nie. Dit was maar net nog 'n beplande manier van die groep bestuurspanlede om ons duidelik te laat verstaan: julle is nie ons energie werd nie. Verdwyn net voor ons oë. (Op die foto is Chantal -12 jaar oud - 'n paar pynlike dae na die operasie in haar stut.)



Kuierkerk se mense het ons geweldig ondersteun en bemoedig. Dankie tog daarvoor. En sowaar, God was goed vir ons. Hy het ons gebede verhoor en daardie muur saam met my oorgespring. Chantal was met pyne en pille binne 'n week by die huis, 5 cm langer en trots daarop, en met genade het sy die ses maande met die stut wat gevolg het, haarself rustig kon gedra en sy is nou piekfyn. Behalwe dat sy nie so heeltemal al haar hip-hop truuks regkry nie, maar sy speel hokkie, dans weer bellydans, disco en ballet en tap. Ons is so dankbaar. As ek kon kies watter gebed van 2010 verhoor moes word, dan was dit die een, die een wat te doen het met my kinders se gesondheid. Dankie Here daarvoor.



Ek het 2011 suutjies ingesluip met die wete dat ek nie meer groot verwagtings gaan hê nie. Dis maar 'n perd wat ek moet tem elke dag van my lewe, want my geaardheid is om groot te droom en groot te glo. Die groot-droom-ding is in 2010 grootliks uit my uit gemartel. Ek is nogal uitgewoed. Ek is uitgeput gedroom. Na my vriendin Glendine se seun so jonk dood is in Meimaand 2011, en my ander vriendin Linda skielik aan kanker dood is in dieselfde maand, het ek mos nou besef, ek is net hier om te troos en 'n seën te wees op hierdie aarde. Ja, ek kan maar my talent aanwend vir kinderkerkprogramme en stories vir die ekerk – klein goetertjies wat my besig hou en so ietsie hier en daar, maar solank ek fokus op my drome en my ambisie, is ek in my m**rin.
Of jy saam stem of nie. Dis die plek waar ek myself nou bevind. Enigiets wat jou energie en tyd so in beslag neem, hoe edel of hoe evangelies ook al, kan nie reg wees nie. Jy brand jouself uit. My kinders is gesond. Sean is happy. Almal is happy. Dus is ek ook happy.



Ja ek weet baie mense sal sê nou sal dinge gebeur as ek "let go and let God". Selfs dit het ek al jare gelede gedoen, weer geskryf aan nog goed, weer probeer, weer gebid, weer gedroom, want hoe lank kan mens nou sit en wag. Ek glo buitendien dat wag beteken jy bly besig met jou roeping terwyl jy wag. En die ding van wees positief, dis die geheim van als. Dink dit dan gebeur dit. Ja 'been there, done that for many many years; sometimes it works sometimes not.' Alles hang af van wat God wil doen. Wat Sy plan is. Geloof is seker om Sy plan te volg sonder vrae en verder besig te bly met jou roeping sodat ander geseën kan word. (Op die foto is ek en my breingestremde agtienjarige seun Sean in sy gewone goeie bui.)
Ek kyk vir my seun, Sean-Jacques, nou die dag in die kerk terwyl ons sing: My pa is die Koning en ek wil skielik huil. Ek smag na wat hy het. Hy gooi sy hande in die lug en lag en probeer selfs 'n woord of twee saamsing soos ‘Jou’ (want sien, hy kan nie juis praat nie) en ek dink: die lied is net vir Sean geskryf. Hy staan met beide voete op aarde en in God se koninkryk. Niks jaag hom nie. Hy vat elke dag soos dit kom en is happy. As jy hom vra hoe hy voel, sê hy: Happy. Hy het dit wat ons almal na smag: Vrede. Flippen vrede. Niks dryf hom behalwe liefde, vrede, geduld, en vriendelikheid nie. Hy ken nie oordeel, kerklike dogmatiek en tradisies, skynheiligheid, selfverwyt, drome, velkleur of skuldgevoelens nie. Hoe smag ons almal nie daarna nie.
Hier is Sean se lied: My Pa is die Koning
Jy glimlag so breed as jy my vriendelik groet,
Jy lyk tog so selfversekerd,
Met die wêreld aan jou voete,
Voel jy soos 'n reus, bly die lewe 'n fees,
As teespoed jou tref, dan skeel dit jou min,
Dit lyk of jy dans as jy loop, ek kon dit nooit verstaan nie,
Moes die antwoord hê toe hoor ek jou sê:
*My Pa is die Koning van die heelal jy weet, en kom wat wil ek sal dit nooit vergeet nie, die wind kan waai die berge kan val, Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal!
Ek’s die koning se kind, ja dit maak my 'n prins, my lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins! Vir niks is ek bang nie, dit sê ek jou nou, my Pa is die Koning onthou.
Hoe moes ek nou voel, ek wens ek was jy maar eks net 'n gewone ou!
Dit klink so onregverdig om 'n Koning te hê vir wie jy Pa kan sê! Toe het jy my genooi en sê kom luister nou mooi: hoe kan jy so gou vergeet, ons is mede-erfgename;
Toe ek my kon kry, toe se jy vir my.
*Jou Pa is die Koning van die heelal jy weet, en kom wat wil jy sal dit nooit vergeet nie, die wind kan waai die berge kan val, Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal! Jy’s die koning se kind, ja dit maak jou 'n prins, jou lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins! Vir niks is jy bang nie, dit sê ek jou nou, jou Pa is die Koning onthou.



Amen.

Thursday, May 26, 2011

DIE KRUIS IS TOE NIE JOU KRUIS NIE...

So staan ek binne dieselfde maand van Mei 2011 voor 2 diep bedroefde ma's wat 'n kind verloor het. Die woord bedroef is nie omskrywend genoeg nie, en ek wil die woord 'besmart' gebruik. Die feit dat die een ma 44 is en haar seun 19; of die feit dat die ander ma 85 is en haar dogter 62, maar nie verskil aan die intensiteit van die pyn en verlies nie. Albei is my goeie vriende en ek voel hulle smart aan tot hier voor my rekenaar. Dis intens, dis seer en dis ontroosbaar. My hart is stukkend vir hulle.




(Op die foto is Linda Blatt, my vriendin wat vanoggend skielik gesterf het - hier is sy by 'n konsert van Kevin Leo, en sy het dit so gehaat as ek haar afneem! Ek het haar hier gedwing en toe gryp Kevin haar vas vir die foto!)


Geen pyn wat ek in my Horribale Jaar 2010 gehad het kom by die ouers se pyn nie. Ek dink weer aan die kruis wat Jesus vir ons kom dra het. Dit was nie Sy eie vergete drome of planne waaraan hy gedra het nie. Dit was die smart van mense en die gevolg van ons sondes wat die kruis swaar gemaak het. En ook so sinvol gemaak het. En daarom kon hy dit dra, want dit was wat alles sin gegee het. Nie sy eie hartseer of die feit dat hyself nie kinders gehad het of 'n mooi huwelik nie of die feit dat sy beste vriende (dissipels) hom almal verlaat het nie, of die feit dat hy toe nie self sy boek kon skryf nie, of die feit dat sy eie volk hom onregverdig verwerp het nie, of die feit dat hy toe nie 'n lang en gesonde en pynvrye lewe gehad het nie of die feit dat hy toe nie as suksesvolle koning gekies is op aarde nie...


Ek dink... so beteken dit ook dat as ek en jy 'n kruis dra, is dit nie ons eie pyn wat ons dra nie, want dit is ondraaglik, juis omdat dit betekenisloos en sinneloos is. Ons dra soos Jesus die kruis van 'n verlore wêreld, van vriende se pyn en lyding. Die oomblik wat jy jou oë op jou eie pyn fokus en die ongeregtigheid wat jy beleef op aarde, raak die kruis ondrabaar want dit is te swaar om alleen te dra. Maar as jy die las van ander op jou kruis laai, is dit of jy jou Via Dolorosa na Golgotha enduit kan loop, want dit is sinvol, dis die volle omvattenheid van die liefde, soos Jesus dit vir ons gehad het. En ja, Jesus het aan die inde van die pad hulp gekry van Simon van Sirene, so kry ons hulp van gedeelte vriende - vriende wat die smarte van die ander om jou raaksien en saam met jou hul smart help dra. Om ander se las of kruis te dra gee jou energie om die stryd vol te hou, want jy fokus op ander se pyn en lyding. Dit gee jou dan ook energie om uit jou eie 'selfsugtige dood' op te staan en soos Jesus barmhartig en diensbaar te wees sodat jy 'n seën kan wees vir ander.
Dit was hoe Linda gelewe het, my lewenslustige, gesonde vriendin wat twee weke gelede gehoor het sy het aggresiewe beenmurgkanker en wat vanoggend 5uur gesterf het. Sy was vir drie weke voor dit moeg en grieperig, maar min het sy geweet die doodsvonnis was reeds gevel. Haar enigste liefde, Anton, is baie jare gelede in 'n ongeluk dood skaars 4 jaar na hul getroud is. Linda het daar en dan besluit om die verlede agter te los en het die lewe aangegryp. Niks kon haar onder kry nie. Sy het haar hare die kleure van die reënboog gekleur en waar sy was het haar lag almal opgebeur. Sy het haar lewe daaraan gewy om ander te dien, te bederf en te laat lag. En nee, dis nie net praatjies omdat mens iemand wat dood is se dade wil mooimaak nie. Sy was net so. Sy het ander se kruis gedra, en dit het haar lewe gegee.
Sy het haar jare gelede oor haar ma Jossie ontferm en het vir haar 'n huisie langs hare gekoop in die Bataleur aftree-kompleks op Harties. Op 85 sou Jossie nog vir Linda aanspreek as sy laat van die werk af kom en haar dalk nie gebel het nie. En Linda het altyd gesê haar ma is so jonk en sterk dat sy wat Linda is nog voor haar ma gaan sterf. En daar sit Jossie nou op 85, 'n klein bondeltjie mens wat treur oor haar dogtertjie wat dood is. Dis so seer. (Op die foto is Linda en haar ma Jossie, wat nog die Magaliesberg uitklim en stap en tennis speel soos 'n jongmens nie kan nie!)


Linda en Anton het nooit kinders gehad nie. As sy my en my kinders so bederf, het ek vir haar gesê: Man, gebruik jou geld 'n slag op jouself! Dan sê sy: Hoekom, sy het nie kinders nie? En as sy nie ander bederf nie, hoe kan sy uiting gee aan die liefde wat ons so vanselfsprekend elke dag onvoorwaardelik op ons kinders kan uitstort. Sy sê 'n mens moet dit doen, dis hoe dit is.


Ek en sy het een keer 'n week Wimpy koffie gedrink. Ek sal nooit weer verby 'n Wimpy kan ry en nie aan haar dink nie. En sy kon my met kleur en geur en haar fyn humor vertel wat het met haar gebeur die dag: of dit nou was by haar werk die laaste 8 jaar by die Diepsloot Plakkersdorp met die programme vir die Oumense of sommer 'n besoeker wat by haar was.


Haar bynaam Hitler het sy onlangs gekry - nou die dag met Ommiedam se pannekoekstalletjie. My man, Anton, het die pannekoekstal so onverwags in haar skoot gegooi en sy het dit met mag aangevat en 'n reusagtige sukses daarvan gemaak. Ons vriend Christo 'Horse' Coetzee (oud-polisieman wat geen nonsens vat nie) het sy drie-uur uit die bed gehad om te help stalletjie opslaan. Geen mens in die nuwe of ou Suid-Afrika kon hom nog so iets laat doen nie!
(Op die foto is my dogter Chantal en Linda. Sy kon my kinders so bederf, omdat syself nie kinders gehad het nie.)


Sy het met vriendinne en haar ma orals gegaan en dit voluit geniet: Wildtuin, konserte/sangers (het selfs Kurt Darren se boud geknyp op die verhoog na sy saam met hom Kaptein gesing het!), Simfonie-skeepvaarte, spa-besoeke en wat als. Sy het hande in die lug gesing in die kerk en gedans en nie omgegee of wie wat sê nie - die tannie met die bont hare wat so dans-dans haar kerk geniet! My gestremde seun, Sean, was altyd so bly om haar te sien; haar energie het hom skoon opgewonde gemaak. Hy het sy hande net so opgegooi in die lug in in die kerk as sy dit doen, dan skree hy vir haar: Higher, higher! Dit was sy naam vir haar: Higher. Wel, higher kan sy nie nou nie! Nou sing sy daar by Jesus, hande in die lug en dans.


Linda het my selfs geleer van "hoë-graad-swaksinniges" wat om ons lewe en ons lewe soms so hel maak. En wat ek nooit 'n naam voor kon kry nie... sy het my sowaar gehelp om van my vyande so te vergewe... deur aan hulle 'n verstaanbare titel toe te ken (Jammer as dit nou klink soos spottery - Ek en sy weet wat sy bedoel het!) Sy het net so maklik deur die lewe gegaan. Geen verdriet of verwerping kon haar onderkry nie. Die siekte ook nie. Sy het nie kans gesien vir die chemo nie en moes gisteraand finaal daaroor besluit. Sy was moeg en haar longe al pap gehoes en sy het vir tannie Jossie gesê: nee, sy kan nie; en vanoggend het sy haar asem uitgeblaas so in die slaap. Ek dink sy is baie bly om nou by haar Skepper en haar Anton te wees. No regrets. Sy het haar lewe geniet. Ek gaan haar so-so baie mis. Haar twee honde-kindertjies en pappegaai gaan haar so-so mis.




(Op die foto is Linda met my ander vriendin, Sandra, by 'n pannekoek-aksie by Kuierkerk. Altyd die middel van die pret, dié Linda.)


Dis 'n jaar gelede Mei-maand 2010- toe my Annus Horribilis in volle swang my getref het. My horribale jaar: Die Aswolk in Ysland, wat my die London Book Fair laat mis het, my vergete drome, my verlore vriende, my vrae aan God, die vernietigende gebeure in die tradisionele kerk en die skeuring wat gevolg het, en ons bloed wat letterlik gevloei het... Maar al was my pyn fel en opreg, is daar niks wat vergelyk met die dood van jou kind nie. Niks. Geniet die lewe, sê prediker, geniet die klein dingetjies, en bly naby aan God, dis al wat die lewe gelukkig maak. Dis wat Linda gedoen het.















Monday, May 23, 2011

'n HORRIBALE KORTVERHAAL...

Net om julle bietjie te treat... 'n kortverhaal oor iemand wat ek glad nie ken nie... enige ooreenkomste is bloot toeval... nee regtig... hierdie is grootliks fiksie.... gemeng met die bloed en verbeelding van die skrywer... (Ek het dit vir 'n kortverhaal kompetisie ingeskryf...)


Op die foto is die soldate in my regte Simson, God se Leeu, opvoering wat ons in Mei by die Kuierkerk opgevoer het. Dit het natuurlik niks met my fiktiewe storie hieronder te doen nie!)


KORTVERHAAL: Mevrou Doeminie se Annus Horribilis
My asem stink na laatnag se rooiwyn en knoffelpasta. Die enigste ordentlike rok in my kas sit skeef aan my bas want ek was te haastig om die ding aan my lyf te dwing. Ek moes minder geëet het dié langnaweek. Ek sleep my liggaam moeisaam voort tot op die vyfde van die tien trappies van die kerksaal. My stink asem hyg. Pleks ek nie al drie daai Lord of the Rings flieks gelyk probeer kyk het nie. Kon niemand my waarsku dit gaan my nege ure vat om deur te werk nie?
Die drie ure se slaap wat ek ingekry het, hang onder my ooglede soos vrot sokkies.
“Mevrou Dominee! Voel jy sleg?” 'n skril stem kom van iewers bo my af. Ek kyk op, in 'n verblindende sonstreep in, dan sien ek haar, die dinamiese mev. Rita Waldenaar. Nee, ek sien eers die über-modieuse puntskoene, die skraal kuite en bypassende ontwerpers-minirok, die ontwerpersborste en dan die skerp neusie wat my uit die hoogte uitkyk. Vir 'n oomblik lyk haar blou oë groot en onskuldig soos Smeagol s'n van die Lord of the Rings fliek wat nog kleef aan my hele wese.
“Ek is reg, dankie...” Ek sleep myself tot bo langs haar en probeer my krulhare wat punt in die wind staan, plat forseer. Ek trek my rok effens reg en sien dat ek nog boonop my krok-sandale aanhet. Ek het darem oorbelle en lipstiffie aan, hoop ek.
Ek word binnegelei deur mev. Smeagol. Is dit die min slaap wat my verstand aantas? Want hierbinne sit die gryskop Gandalf (ou mevrou Griekie Steenkamp) en die dwerg Gimli (mev. Kotzé) en ’n paar van daardie skewe-tand Orcs uit my laataand fliek. Ek skud my kop om al my varkies bymekaar te kry.
Nog iemand kom in. “Is ek laat? Jammer tog, dames!” Dit is een van daardie Elfie-vroue, die Lady of the Lake, Sandra Potgieter. Dankie tog, ’n vriendelike gesig.
Die agenda word gelees. Dis die wyse Gandalf the Grey met haar grys rok. Ek voel naar. Ek voel beslis nie soos een van hierdie lekkerruik Vlindervroue van die kerk nie. Ek proe nog gisteraand se knoffel.
“Mevrou Dominee, ons wil u welkom heet by ons Vlindervrou groepie. Vandat Dominee begin van die jaar aangestel is, het ons besluit om u ’n kans te gee om aan te pas by die nuwe... hmmm titel, maar nou is dit tyd om u volstoom te begin gebruik. Ons vertrou u het nou al u voete gevind?” vra mev. Gandalf.
Ek staan by die ketel en skep koffie met bewerige vingers. Ek probeer onsigbaar lyk met die all-seeing evil eye op my. Het Frodo so gevoel toe hy opgesaal is met die lewensbelangrike ring. Klein en onbevoeg. “Ja, dankie mev. Steenkamp,” wurg ek.
“U sal ook agterkom dat ons ’n paar oulike klerewinkels het op die dorp wat stylvolle pakkies aanhou. Gaan maak gerus daar ’n draai...” Dis Smeagol wat my op en af kyk met ’n fyn glimlag en aandui dat my enigste precious rok nie in haar smaak val nie. Ook nie my vlooimark oorbelle nie.
Wat verwag sy? My ingenieurman het net voor veertig besluit om voltyds predikant te gaan swot. Waar moes ek en die kinders geld kry vir klere? Vryskut joernalistieke werk het nou nie juis die pot of my bas heeltyd aan die kook gehou nie. En die feit dat ons al tien jaar lidmate in die gemeente is, maak blykbaar ook nie dat hierdie Fellowship van vroue verstaan watter hel ek met twee dogters en ’n breingestremde seun deur is in die ses maer jare nie. Nee, nou is ek die formidabele mev. Doeminie wat hulle deur ’n ring wil trek.
Dankie tog vir oom Gielie wat nou die dag die ewigheid in is, en ’n paar ordentlike pakke klere nagelaat het, anders het Doeminie ook met sy kroks en bokser op die preekstoel geklim. Vir wat moet mens nou so wonderlik aantrek as jy voor die Here of dié vlindergroepie verskyn? Het Jesus nie ook maar met plakkies en ’n kaftan rond geloop nie? Hoekom sal Hy nou verwag ons spul boere moet in 2011 in die hitte van die stryd met warm pakke klere rondloop? Hy ken immers van warm kry.
“... ek sê, mev. Dominee? Het jy dalk voorstelle waar jy betrokke wil raak in die gemeente?” Dit is die onvriendelike rooikop dwerg met haar rasperstem. Seker al daai pakkies Lexinton wat ek haar al skelm sien rook het.
Asof ek nie al tien jaar lank in die gemeente betrokke is by fondsinsameling vir die breingestremde skooltjie op die dorp nie. En wat die feit dat ek al jare lank op my knieë agter die poppekas staan op Sondae vir die kinderkerk?
Ek gryp verwoed na die agenda en my oë hardloop oor die lysie bedienings. Armesorg. Basaarkomitee. Gebedsgroep. Enkellopende vroue. Ouetehuis. Doodsbegeleiding. My kop spin. Waar kry mens flippen tyd vir nog ’n uitreik? Wat van my dogters se sport, my gestremde seun se skooltjie, troues en begrafnisse en gemeenskapsfunksies bywoon saam met my man? En wat van my Jeugverhaal wat ek in elke vry minuut probeer voltooi. Ek wil weghardloop van hierdie vroue Fellowship. Ek hoort nie hier nie. Ek is nie opge-dress vir dit nie.
Heel onder aan die lysie is iets aanvaarbaar. Toneelstuk vir die jeug. “Ek sal die toneelstuk vat.” Ek sidder van verligting en verstik aan ’n vuurwarm sluk koffie.
Dis die Elfie wat my rug byna afklap en my lewe red. Die dames gons onder mekaar terwyl ek my verbrande mond troetel.
“Ons sou verkies dat u betrokke raak by die vroue Bybelstudie en die gebedsgroep.” Dit is nou weer Smeagol met haar ewige ‘vriendelike’ glimlag.
Sandra die Elfie red my: “Ek dink weer mev. Steenkamp is uitgeknip vir hierdie besondere take. Sy is immers al jare in die gemeente en so volwasse in die geloof. Mev. Dominee is ’n opgeleide joernalis en skryf is in haar bloed. Ek sal haar help met die toneelstuk.” Ek stuur ’n dankgebed op. Ek dink Jesus met sy kaftan is dalk vandag bietjie aan my kant.




So trek my Annus Horribilis jaar in eerste rat weg. Die Queen van Engeland het al so horribale jaar gehad. Ek sou later die jaar in my swaar gemoed nogals bevoorreg voel om ook een te hê. Myne het nou wel nie te doen met my seun wat van Lady Diana wil skei nie of nog minder het dit te doen met my kasteel en kroonjuwele wat halfpad afgebrand het nie, maar myne is toe inderwaarheid net so pynlik.
Ek kry ’n oproep. Mev. Smeagol se matriekdogter is ’n kranige sangeres as ek haar kan gebruik in my toneelstuk. Sy het immers al in die skool operettes gespeel, sê Smeagol. Ons word selfs vir ete genooi na hul kasteel daar op die berg. Duur karre staan in oopdeur motorhuise. Die beste kos word voorgesit. Ek is heeltyd naar. Sê nou ek gebruik die verkeerde mes of vurk? Watter vurk sou Jesus kies? Nee, ek dink hy het sommer met die hand geëet. My gestremde sestienjarige seun, Johan, voel my angs aan en is ook skielik naar. Hy gooi op oor Persiese mat voor die televisie. Wie sit so ’n mat in die tv-kamer, verdomp? Die Smeagol tienerdogter word naar van die nare spul. Sy hol darem toilet toe.
“Ek dink ons moet trek,” sê ek vir my man oppad huistoe.
“Nee, man, ons bly al so lank hier. Al ons vriende is hier. Ons sal die klomp nog regkry.” Ek sien nuwe plooie om my man se oë en besef hy gaan met die ou manne op die kerkraad deur dieselfde horribale krisisse as ek. Hy is ook maar ’n verligte ou.
“Ja, kom ons trek Londen toe,” meen my veertienjarige dogter Miekie.
“Ja, cool!” meen die twaalfjarige, Chane’. Albei se ogies blink by die gedagte aan Camden mark en die fantastiese klerestalletjies. “Johan! Skuif op, jy stink na kots, man!” Sy stoot haar naargesig broer weg van haar op die agterste sitplek.
Londen met sy koue reënweer klink skielik vir my baie aanloklik. Net more gaan Google ek UK Immigration, besluit ek.




Die koffiepot sing soos ek daardie week aan my toneelstuk skryf. Simson, God se Leeu! Die volgende Saterdag bekyk ek en Sandra die spul ‘akteurs’ wat opgedaag het vir die oudisie met groot verwagting. Daar is Smeagol se dogter, Ansie, wat nie te sleg lyk as jy verby die groot blou Smeagol-ogies kyk nie. ’n Redelike aantreklike matriekseun, my twee dogters, en ses hoërskool seuns en meisies wat duidelik nie by ’n sportspan of ander kultuuraksies betrokke is nie. My seun Johan het ook saamgepiekel maar hy is redelik onbruikbaar in 'n toneelstuk. Ek besef hierdie is die uitgeworpenes, die anderster kinders wat nie juis ’n plek het nie. Die wat soos ek is. Die breingeremdes. Ouens wat in ’n mate breinskade opgedoen het as gevolg van die lewe se stelsels.
“Eks beïndruk!” probeer ek positief klink. Dis mos die groot geheim. Hoe sou Jesus die skaam spul binne drie maande in ’n toneelstuk omskep het? “Julle gaan hierdie gemeenskap aan julle voete hê! Ek en Sandra gaan julle wys hoe!”
“Tannie, my ma sê ek moet haar net sê watse musiek ons gaan gebruik?” Dis Ansie, natuurlik. Ek kan aan haar hele neus in die lig houding sien haar persoonlikheid en breintjie is maar goed verniel in daardie agtermekaar huis.
En daar word in my kop gebore, ’n vreeslose gedagte... ek wou mooi Christenmusiek gebruik het... ek wou Willie Joubert, Jan de Wet en Wanda de Kock ingespan het.... maar dis al so oor en oor gebruik, besef ek met klinkklare helderheid. Dis asof Smeagol self in my kop nesmaak. My alterego lê nog ’n paar eiers in daardie einste nessie. Ons gaan die gemeente iets nuuts gee, besluit ek.
“As jy deel wil wees van die groep, moet jy beloof, hier en nou, dat geen detail oor die play mag uitlek nie. Jy mag niemand vertel wat en hoe ons hier werk nie. Ons wil dit as ’n algehele verrassing hou... ook vir jou ma, Ansie. Reg so?” Ansie lyk verlep. Ek sê: “Jy kan vir jou ma sê sy moenie bekommerd wees nie. Die musiek is geskryf deur ’n groep opgeleide mense wat almal doktorsgrade in musiek het.” En dis die waarheid.
Almal knik hul koppe en is skielik deel van ’n geheime Fellowship. The Fellowship of the theatre!
"Goed! Wie kan sing? Dans? Enigiets?” Sandra verstaan wat aangaan en daar begin ons met ’n ding wat ons dorpie op sy kop gaan keer. Iets wat my lewe op sy kop gaan keer. Iets wat my jaar horribaal gaan verander...




Vlindervroue vergadering. Ek en Sandra troetel ons geheim tot die dood.
“Dis onaanvaarbaar, mev. Dominee. Dit is ons reg om te weet wat agter daardie geslote deure aangaan. Ons kinders is immers betrokke.” Dis mev. Smeagol.
"Ons kan nie praat nie, Rita. Dis ’n teaterding. Die een wat uitpraat is uit die play.” Ek kry lekker tot in my kleintoontjie.
“Sandra... Jy verstaan tog hoe ons hier werk...?” Sy takel die onskuldige Elfie.
“Jammer, Rita, jy sal moet wag tot die openingsaand soos al die ander.” Sandra glimlag vriendelik, soos van haar verwag word. En soos alle Elfies is sy getrou tot die dood. Ek vreet haar sommer op.




Rita praat met haar man, die voorsitter van die Kerkraad. ’n Spesiale kerkraadsvergadering word belê en daar word voorbidding gevra in Sondag se diens. My man word onder kruisverhoor geplaas.
“Dominee, u vrou weier om inligting oor die drama bekend te maak, ek bedoel, ons kerkraad moet goedkeuring gee vir hierdie tipe goed! U moet met haar praat.” Dis mnr. Smeagol met sy goue ketting om die nek en blink ringe. ’n Vername man in die dorp. Hy het ook al jare gelede ’n fantastiese personeelkursus in Londen bygewoon. Drie weke lank. Hy weet dus waarvan hy praat.
“Ek is jammer, maar dit is my vrou se bediening. Ek gaan nie daar inmeng nie. Is dit nie genoeg dat julle weet die drama gaan oor Simson nie?” My man is darem altyd aan my kant.
"Dit word nie so gedoen nie, Dominee. Die kerkraad is die hoogste gesag in die gemeente en moet te alle tye ingelig wees. Ons is die wakers oor die saligheid van ons mense...” Dis die grysbaard, mnr. Gandalf. Hy is ’n afgetrede weermagman. Hy is sy lewe lank al aan die regte kant: NP, NG, en wat nog als.
“Ek dink darem die Here is die hoogste gesag in die gemeente, broer,” meen my man.
“Iets is nie reg nie, Dominee. U sal mevrou onder hande moet neem. Sy speel nie volgens die reëls nie,” aldus mnr. Smeagol met sy goue ringe.

So gebeur dit toe dat broers Smeagol en Gandalf hul eie aksie teen mnr. en mev. Doeminie loods. Een wat die jaar nog meer in sy moerin gaan lanseer.
Ons drama word die teiken. As ons saans in die kerk oefen, word die amptelike ketel en koffie weggesluit in die kerk se kombuis. Selfs die toiletpapier verdwyn skielik. Ek kry die boodskap. So, wat sou Jesus doen? wroeg ek by my selwers. Koop maar jou eie flippen goed, besluit ek. Ek merk die krat met ’n swart kokiepen: LOS UIT!
Van die klere wat ons mee oefen verdwyn uit die krat en land in die armesorg se houers. Wie op aarde sou dekselse Bybelse rokke wou dra? Selfs armes het tog hul trots!
Ons oefen flink voort. My breingestremde seun sit in en klap hande en juig vir elke flou grappie en probeer selfs saamsing met ons ingewikkelde musiek. Hy is man alleen verantwoordelik vir my moraal wat hoog bly. Sandra slaan die klavier se klawers soos net sy kan en my mensies oefen woes. Ek sien dat selfs die grootste bleeksiel onder hulle begin blom. Ek voel vrek goed oor wat ek vermag. Openingsaand kom nader. Ek voel naar. Ek weet hier kom groot moeilikheid. Maar ons groepie geniet onsself.

Openingsaand. Die kerk is tjok en blok vol mense al het stories oor mev. Doeminie se gekonkel die hele dorp vol gelê. Almal is vrek nuuskierig; uitgevat in hul aandklere, ringe en oorbelle. Dominee het immers afgekondig dat almal asseblief die tieners se aksie moet ondersteun. Selfs al die katkisasieklasse is daar. Hulle is wel gedwing om te kom anders gaan hul nie hul papier die einde van die jaar kry nie. Almal se ouers is bang hul pluk katkisasie, daarom kom hul maar en hou hul bekke.
Mev. en mnr. Smeagol sit voor in die kerk op hul uitgekose plek, soos altyd. Langs hulle is die grys Gandalf egpaar. Langs hulle sit my Johan wat opgewonde en onophoudelik babbel. Hy ken net vyftien woorde. Agter die verhoog is almal in rep en roer. Man en muis word grimeer. Hare word gedoen en woorde vir oulaas deurgegaan. Die Fellowship van ons klein teatergroepie het ontwikkel in ’n hegte lewenslange vriendskap.
Ons openingstoneel. Simson en sy eerste vrou, Philista, verskyn op die verhoog met flambojante Bybelse trouklere. Hul lyk stunning en word gevolg deur ’n spul Filistyne wat kom bruilof hou. Simson en sy vrou trek weg met Queen se “We will Rock you”. My dogters doen 'n soort bellydans op die ritme van die lied. Hul is deksels goed. Hul dans nie verniet al van hul drie jaar oud is nie.
Die tieners in die kerk is onmiddellik op hul voete. Skielik is kerk nie so sleg nie. Hul ouers klap saam hande want kyk, Queen is waarmee ons groot geword het. Ons is wel gewaarsku dat jy nie hul liedjies agterstevoor om moet luister nie want daar is blykbaar allerlei Sataniese boodskappe op, maar niemand het gesê ons mag dit na die regte kant om luister nie! (En regtig, wie van ons kon nog ooit ’n plaat agteruit speel? Wie het dit uitgedink?)
Toe Simson oplaas vir die Filistyne sing, ‘I want to break free’, vlug ’n paar vooraanstaande lidmate snikkend uit die kerk. Die Smeagols is totaal verlam; die skok sit wit om hul kiewe, totdat hul dogter as Delila verskyn met oorbelle en bangles en abnormale welgevormde borste onder haar rooi rok. Ek meen, as die ma flippen ingeplante borste kan hê, hoekom nie die dogter nie? En Delila gooi haar lyf en sing ‘It’s a kind of Magic’ uit volle bors. Simson sing saam en die twee val neer op ’n bed met ’n french kiss. Dan is die Filistyne op hulle.
Mev Smeagol storm die kerk uit, gevolg deur mnr. Smeagol. Sy goue hangertjie blink in die donker. Ek wonder, was hulle nie ook eens gewone mense wat na gewone musiek geluister het nie? Wat verander ’n mens in ’n Smeagol? Geld? Mag? Godsdiens? Gelukkig is die kerk donker en Ansie is verdiep in haar rol. Ons groep eindig met ‘This could be heaven’ van Queen.
Ek is toe deur die kerkraad onder sensuur geplaas. Verskeie hoogs geleerde Sinodemanne het my probeer bekeer en my duiwels probeer tem. As hulle my brein met elektriese skokke kon herprogrammeer, het hulle. Maar ek is nou maar ek. Kommin en weird. Beslis nie ’n fenomenale mev. Doeminie nie. My man is deur die kerkraad, Sinode en die Broederbond onder hande geneem. Ek dink die Vrye Messelaars, die Nasionale party en Interpol het ook ’n anonieme sê gehad. My Annus Horribilis was in volle swang. Ansie is na ’n ander hoërskool, maar ek hoor sy en Simson vry nog die mixit-lyne vuurwarm.




Die gewone mense het darem by ons gestaan. Die ouens wat kyk na flieks soos Oh, Shucks it’s Shuster, die ouens wat luister na liedjies soos die Leeuloop, dié wat kyk na ‘bose’ flieks met towenaars en trolle in, soos Lord of the Rings... Die ouens wat ’n bier drink saam met braaivleis en na Queen luister. Wat sou Jesus doen? wonder ek altyd. Ek dink hy het in Smeagol se plek ingeskuif en die show enduit geniet met sy woestynrok en sy plakkies aan.











(Fluit fluit my storie is uit - maar regtig - ons het 'n Simson show op die planke gebring: Ek en my vriendin Marlene, maar by Kuierkerk, dit was so lekker. Die eerste keer - en dis ons 5de show, was alles so maklik. Van die klankingenieur, die klank, die atmosfeer. Daar was geen spanning nie. Dit was 'n plesier om 'n show te kan oefen en opvoer, sonder die negatiewe energie wat ons opgetel het in die Tradisionele kerk. Dankie Here vir 'n wonderlike opvoering en dankie dat ons die Bybel kan verkondig met selfs die musiek van Queen!) Op die foto bo is Simson na sy oë uitgesteek is: Gilliaume Srtydom. Regs is my dogters: Michelle en Chantal (bo regs) wat ook rolle in die show gehad het. Ek is so trots op hulle. Mag hulle ervaring van kerkwees ontspanne, genotvol en 'n heerlike avontuur wees, en mag hul nooit skuldig voel oor hul belewenis van God nie. God is uniek in ons elkeen want Sy Gees werk uniek met ons elkeen. Dankie daarvoor.