(Op die foto is Linda Blatt, my vriendin wat vanoggend skielik gesterf het - hier is sy by 'n konsert van Kevin Leo, en sy het dit so gehaat as ek haar afneem! Ek het haar hier gedwing en toe gryp Kevin haar vas vir die foto!)
Geen pyn wat ek in my Horribale Jaar 2010 gehad het kom by die ouers se pyn nie. Ek dink weer aan die kruis wat Jesus vir ons kom dra het. Dit was nie Sy eie vergete drome of planne waaraan hy gedra het nie. Dit was die smart van mense en die gevolg van ons sondes wat die kruis swaar gemaak het. En ook so sinvol gemaak het. En daarom kon hy dit dra, want dit was wat alles sin gegee het. Nie sy eie hartseer of die feit dat hyself nie kinders gehad het of 'n mooi huwelik nie of die feit dat sy beste vriende (dissipels) hom almal verlaat het nie, of die feit dat hy toe nie self sy boek kon skryf nie, of die feit dat sy eie volk hom onregverdig verwerp het nie, of die feit dat hy toe nie 'n lang en gesonde en pynvrye lewe gehad het nie of die feit dat hy toe nie as suksesvolle koning gekies is op aarde nie...
Ek dink... so beteken dit ook dat as ek en jy 'n kruis dra, is dit nie ons eie pyn wat ons dra nie, want dit is ondraaglik, juis omdat dit betekenisloos en sinneloos is. Ons dra soos Jesus die kruis van 'n verlore wêreld, van vriende se pyn en lyding. Die oomblik wat jy jou oë op jou eie pyn fokus en die ongeregtigheid wat jy beleef op aarde, raak die kruis ondrabaar want dit is te swaar om alleen te dra. Maar as jy die las van ander op jou kruis laai, is dit of jy jou Via Dolorosa na Golgotha enduit kan loop, want dit is sinvol, dis die volle omvattenheid van die liefde, soos Jesus dit vir ons gehad het. En ja, Jesus het aan die inde van die pad hulp gekry van Simon van Sirene, so kry ons hulp van gedeelte vriende - vriende wat die smarte van die ander om jou raaksien en saam met jou hul smart help dra. Om ander se las of kruis te dra gee jou energie om die stryd vol te hou, want jy fokus op ander se pyn en lyding. Dit gee jou dan ook energie om uit jou eie 'selfsugtige dood' op te staan en soos Jesus barmhartig en diensbaar te wees sodat jy 'n seën kan wees vir ander.
Dit was hoe Linda gelewe het, my lewenslustige, gesonde vriendin wat twee weke gelede gehoor het sy het aggresiewe beenmurgkanker en wat vanoggend 5uur gesterf het. Sy was vir drie weke voor dit moeg en grieperig, maar min het sy geweet die doodsvonnis was reeds gevel. Haar enigste liefde, Anton, is baie jare gelede in 'n ongeluk dood skaars 4 jaar na hul getroud is. Linda het daar en dan besluit om die verlede agter te los en het die lewe aangegryp. Niks kon haar onder kry nie. Sy het haar hare die kleure van die reënboog gekleur en waar sy was het haar lag almal opgebeur. Sy het haar lewe daaraan gewy om ander te dien, te bederf en te laat lag. En nee, dis nie net praatjies omdat mens iemand wat dood is se dade wil mooimaak nie. Sy was net so. Sy het ander se kruis gedra, en dit het haar lewe gegee.
Sy het haar jare gelede oor haar ma Jossie ontferm en het vir haar 'n huisie langs hare gekoop in die Bataleur aftree-kompleks op Harties. Op 85 sou Jossie nog vir Linda aanspreek as sy laat van die werk af kom en haar dalk nie gebel het nie. En Linda het altyd gesê haar ma is so jonk en sterk dat sy wat Linda is nog voor haar ma gaan sterf. En daar sit Jossie nou op 85, 'n klein bondeltjie mens wat treur oor haar dogtertjie wat dood is. Dis so seer. (Op die foto is Linda en haar ma Jossie, wat nog die Magaliesberg uitklim en stap en tennis speel soos 'n jongmens nie kan nie!)

Linda en Anton het nooit kinders gehad nie. As sy my en my kinders so bederf, het ek vir haar gesê: Man, gebruik jou geld 'n slag op jouself! Dan sê sy: Hoekom, sy het nie kinders nie? En as sy nie ander bederf nie, hoe kan sy uiting gee aan die liefde wat ons so vanselfsprekend elke dag onvoorwaardelik op ons kinders kan uitstort. Sy sê 'n mens moet dit doen, dis hoe dit is.
Ek en sy het een keer 'n week Wimpy koffie gedrink. Ek sal nooit weer verby 'n Wimpy kan ry en nie aan haar dink nie. En sy kon my met kleur en geur en haar fyn humor vertel wat het met haar gebeur die dag: of dit nou was by haar werk die laaste 8 jaar by die Diepsloot Plakkersdorp met die programme vir die Oumense of sommer 'n besoeker wat by haar was.
Haar bynaam Hitler het sy onlangs gekry - nou die dag met Ommiedam se pannekoekstalletjie. My man, Anton, het die pannekoekstal so onverwags in haar skoot gegooi en sy het dit met mag aangevat en 'n reusagtige sukses daarvan gemaak. Ons vriend Christo 'Horse' Coetzee (oud-polisieman wat geen nonsens vat nie) het sy drie-uur uit die bed gehad om te help stalletjie opslaan. Geen mens in die nuwe of ou Suid-Afrika kon hom nog so iets laat doen nie!
(Op die foto is my dogter Chantal en Linda. Sy kon my kinders so bederf, omdat syself nie kinders gehad het nie.)Sy het met vriendinne en haar ma orals gegaan en dit voluit geniet: Wildtuin, konserte/sangers (het selfs Kurt Darren se boud geknyp op die verhoog na sy saam met hom Kaptein gesing het!), Simfonie-skeepvaarte, spa-besoeke en wat als. Sy het hande in die lug gesing in die kerk en gedans en nie omgegee of wie wat sê nie - die tannie met die bont hare wat so dans-dans haar kerk geniet! My gestremde seun, Sean, was altyd so bly om haar te sien; haar energie het hom skoon opgewonde gemaak. Hy het sy hande net so opgegooi in die lug in in die kerk as sy dit doen, dan skree hy vir haar: Higher, higher! Dit was sy naam vir haar: Higher. Wel, higher kan sy nie nou nie! Nou sing sy daar by Jesus, hande in die lug en dans.
Linda het my selfs geleer van "hoë-graad-swaksinniges" wat om ons lewe en ons lewe soms so hel maak. En wat ek nooit 'n naam voor kon kry nie... sy het my sowaar gehelp om van my vyande so te vergewe... deur aan hulle 'n verstaanbare titel toe te ken (Jammer as dit nou klink soos spottery - Ek en sy weet wat sy bedoel het!) Sy het net so maklik deur die lewe gegaan. Geen verdriet of verwerping kon haar onderkry nie. Die siekte ook nie. Sy het nie kans gesien vir die chemo nie en moes gisteraand finaal daaroor besluit. Sy was moeg en haar longe al pap gehoes en sy het vir tannie Jossie gesê: nee, sy kan nie; en vanoggend het sy haar asem uitgeblaas so in die slaap. Ek dink sy is baie bly om nou by haar Skepper en haar Anton te wees. No regrets. Sy het haar lewe geniet. Ek gaan haar so-so baie mis. Haar twee honde-kindertjies en pappegaai gaan haar so-so mis.
(Op die foto is Linda met my ander vriendin, Sandra, by 'n pannekoek-aksie by Kuierkerk. Altyd die middel van die pret, dié Linda.)
Dis 'n jaar gelede Mei-maand 2010- toe my Annus Horribilis in volle swang my getref het. My horribale jaar: Die Aswolk in Ysland, wat my die London Book Fair laat mis het, my vergete drome, my verlore vriende, my vrae aan God, die vernietigende gebeure in die tradisionele kerk en die skeuring wat gevolg het, en ons bloed wat letterlik gevloei het... Maar al was my pyn fel en opreg, is daar niks wat vergelyk met die dood van jou kind nie. Niks. Geniet die lewe, sê prediker, geniet die klein dingetjies, en bly naby aan God, dis al wat die lewe gelukkig maak. Dis wat Linda gedoen het.
No comments:
Post a Comment