Monday, April 18, 2016

5 MEV DOEMINIE EN DIE BOS-ENGEL

Ek het nooit gevra vir een nie of ooit gedink aan die voordeel van ’n engel in mens se lewe nie. Maar eendag het sy voor my deur gestaan. Sy het in ’n vreemde engeltaal gepraat wat ek nie verstaan het nie.

Ek het toe nie geweet dis ’n engel nie. Hoe kon ek? Sy het nie vlerke gehad nie. Ook nie besonder geskitter nie. Sy was ’n Afrika bos-engel. Haar vel was donker. Sy kom van KwaNdebele af, het sy in haar taal gesê. En ek het vreemd genoeg verstaan.
Ek was ver swanger met my eersteling en ’n voltydse hulp was woes nodig. Sy het ingespring en alles gedoen wat ek nie kon nie; vloere, klere, skottelgoed gewas. Ek het nog steeds nie geweet sy’s ’n engel nie. Sy was maar maar net sy, Afrikamens sonder finesse en fieterjasies. ’n Jaar en ’n half later het my pragtige seuntjie ’n breinvirus opgedoen. My engel het saggies in die kombuis gehuil en Bybel gelees en gebid vir my, terwyl ek histeries in die hospitaal gehuil het en met ‘n ‘wrede’ God baklei het.
By die huis het my engel stil-stil my baba se poefdoeke gewas, en steeds die huiswerk bygehou; my stukkende baba vasgehou as ek doodmoeg en vrot van depressie was; die stil, sterk krag wat my staande gehou het as selfs my man inmekaar gestort het. Sy het my twee dogters, wat later gebore is, met liefde ge-abba en versorg as ek nie krag gehad het nie. (Sy kan bly wees ek het nooit daardie vlerke van haar opgespoor nie, dalk het ek dan lankal in ’n donker depressie-aanval daarmee weggevlieg!)
22 jaar later, is my engel steeds hier, waai sy my met steeds onsigbare vlerke koel en maak my breingestremde ‘baba’ van 23 se beddegoed skoon as hy ’n glips gehad het. Onvoorwaardelike Jesusliefde in die vorm van ’n swart engel: Rosina. Ek hoef nie vlerke te sien om te weet sy is pure engel nie, gestuur deur God om my, nietige mens, te bedien. Genade onbeskryflik groot.

No comments:

Post a Comment