Thursday, May 26, 2011

DIE KRUIS IS TOE NIE JOU KRUIS NIE...

So staan ek binne dieselfde maand van Mei 2011 voor 2 diep bedroefde ma's wat 'n kind verloor het. Die woord bedroef is nie omskrywend genoeg nie, en ek wil die woord 'besmart' gebruik. Die feit dat die een ma 44 is en haar seun 19; of die feit dat die ander ma 85 is en haar dogter 62, maar nie verskil aan die intensiteit van die pyn en verlies nie. Albei is my goeie vriende en ek voel hulle smart aan tot hier voor my rekenaar. Dis intens, dis seer en dis ontroosbaar. My hart is stukkend vir hulle.




(Op die foto is Linda Blatt, my vriendin wat vanoggend skielik gesterf het - hier is sy by 'n konsert van Kevin Leo, en sy het dit so gehaat as ek haar afneem! Ek het haar hier gedwing en toe gryp Kevin haar vas vir die foto!)


Geen pyn wat ek in my Horribale Jaar 2010 gehad het kom by die ouers se pyn nie. Ek dink weer aan die kruis wat Jesus vir ons kom dra het. Dit was nie Sy eie vergete drome of planne waaraan hy gedra het nie. Dit was die smart van mense en die gevolg van ons sondes wat die kruis swaar gemaak het. En ook so sinvol gemaak het. En daarom kon hy dit dra, want dit was wat alles sin gegee het. Nie sy eie hartseer of die feit dat hyself nie kinders gehad het of 'n mooi huwelik nie of die feit dat sy beste vriende (dissipels) hom almal verlaat het nie, of die feit dat hy toe nie self sy boek kon skryf nie, of die feit dat sy eie volk hom onregverdig verwerp het nie, of die feit dat hy toe nie 'n lang en gesonde en pynvrye lewe gehad het nie of die feit dat hy toe nie as suksesvolle koning gekies is op aarde nie...


Ek dink... so beteken dit ook dat as ek en jy 'n kruis dra, is dit nie ons eie pyn wat ons dra nie, want dit is ondraaglik, juis omdat dit betekenisloos en sinneloos is. Ons dra soos Jesus die kruis van 'n verlore wêreld, van vriende se pyn en lyding. Die oomblik wat jy jou oë op jou eie pyn fokus en die ongeregtigheid wat jy beleef op aarde, raak die kruis ondrabaar want dit is te swaar om alleen te dra. Maar as jy die las van ander op jou kruis laai, is dit of jy jou Via Dolorosa na Golgotha enduit kan loop, want dit is sinvol, dis die volle omvattenheid van die liefde, soos Jesus dit vir ons gehad het. En ja, Jesus het aan die inde van die pad hulp gekry van Simon van Sirene, so kry ons hulp van gedeelte vriende - vriende wat die smarte van die ander om jou raaksien en saam met jou hul smart help dra. Om ander se las of kruis te dra gee jou energie om die stryd vol te hou, want jy fokus op ander se pyn en lyding. Dit gee jou dan ook energie om uit jou eie 'selfsugtige dood' op te staan en soos Jesus barmhartig en diensbaar te wees sodat jy 'n seën kan wees vir ander.
Dit was hoe Linda gelewe het, my lewenslustige, gesonde vriendin wat twee weke gelede gehoor het sy het aggresiewe beenmurgkanker en wat vanoggend 5uur gesterf het. Sy was vir drie weke voor dit moeg en grieperig, maar min het sy geweet die doodsvonnis was reeds gevel. Haar enigste liefde, Anton, is baie jare gelede in 'n ongeluk dood skaars 4 jaar na hul getroud is. Linda het daar en dan besluit om die verlede agter te los en het die lewe aangegryp. Niks kon haar onder kry nie. Sy het haar hare die kleure van die reënboog gekleur en waar sy was het haar lag almal opgebeur. Sy het haar lewe daaraan gewy om ander te dien, te bederf en te laat lag. En nee, dis nie net praatjies omdat mens iemand wat dood is se dade wil mooimaak nie. Sy was net so. Sy het ander se kruis gedra, en dit het haar lewe gegee.
Sy het haar jare gelede oor haar ma Jossie ontferm en het vir haar 'n huisie langs hare gekoop in die Bataleur aftree-kompleks op Harties. Op 85 sou Jossie nog vir Linda aanspreek as sy laat van die werk af kom en haar dalk nie gebel het nie. En Linda het altyd gesê haar ma is so jonk en sterk dat sy wat Linda is nog voor haar ma gaan sterf. En daar sit Jossie nou op 85, 'n klein bondeltjie mens wat treur oor haar dogtertjie wat dood is. Dis so seer. (Op die foto is Linda en haar ma Jossie, wat nog die Magaliesberg uitklim en stap en tennis speel soos 'n jongmens nie kan nie!)


Linda en Anton het nooit kinders gehad nie. As sy my en my kinders so bederf, het ek vir haar gesê: Man, gebruik jou geld 'n slag op jouself! Dan sê sy: Hoekom, sy het nie kinders nie? En as sy nie ander bederf nie, hoe kan sy uiting gee aan die liefde wat ons so vanselfsprekend elke dag onvoorwaardelik op ons kinders kan uitstort. Sy sê 'n mens moet dit doen, dis hoe dit is.


Ek en sy het een keer 'n week Wimpy koffie gedrink. Ek sal nooit weer verby 'n Wimpy kan ry en nie aan haar dink nie. En sy kon my met kleur en geur en haar fyn humor vertel wat het met haar gebeur die dag: of dit nou was by haar werk die laaste 8 jaar by die Diepsloot Plakkersdorp met die programme vir die Oumense of sommer 'n besoeker wat by haar was.


Haar bynaam Hitler het sy onlangs gekry - nou die dag met Ommiedam se pannekoekstalletjie. My man, Anton, het die pannekoekstal so onverwags in haar skoot gegooi en sy het dit met mag aangevat en 'n reusagtige sukses daarvan gemaak. Ons vriend Christo 'Horse' Coetzee (oud-polisieman wat geen nonsens vat nie) het sy drie-uur uit die bed gehad om te help stalletjie opslaan. Geen mens in die nuwe of ou Suid-Afrika kon hom nog so iets laat doen nie!
(Op die foto is my dogter Chantal en Linda. Sy kon my kinders so bederf, omdat syself nie kinders gehad het nie.)


Sy het met vriendinne en haar ma orals gegaan en dit voluit geniet: Wildtuin, konserte/sangers (het selfs Kurt Darren se boud geknyp op die verhoog na sy saam met hom Kaptein gesing het!), Simfonie-skeepvaarte, spa-besoeke en wat als. Sy het hande in die lug gesing in die kerk en gedans en nie omgegee of wie wat sê nie - die tannie met die bont hare wat so dans-dans haar kerk geniet! My gestremde seun, Sean, was altyd so bly om haar te sien; haar energie het hom skoon opgewonde gemaak. Hy het sy hande net so opgegooi in die lug in in die kerk as sy dit doen, dan skree hy vir haar: Higher, higher! Dit was sy naam vir haar: Higher. Wel, higher kan sy nie nou nie! Nou sing sy daar by Jesus, hande in die lug en dans.


Linda het my selfs geleer van "hoë-graad-swaksinniges" wat om ons lewe en ons lewe soms so hel maak. En wat ek nooit 'n naam voor kon kry nie... sy het my sowaar gehelp om van my vyande so te vergewe... deur aan hulle 'n verstaanbare titel toe te ken (Jammer as dit nou klink soos spottery - Ek en sy weet wat sy bedoel het!) Sy het net so maklik deur die lewe gegaan. Geen verdriet of verwerping kon haar onderkry nie. Die siekte ook nie. Sy het nie kans gesien vir die chemo nie en moes gisteraand finaal daaroor besluit. Sy was moeg en haar longe al pap gehoes en sy het vir tannie Jossie gesê: nee, sy kan nie; en vanoggend het sy haar asem uitgeblaas so in die slaap. Ek dink sy is baie bly om nou by haar Skepper en haar Anton te wees. No regrets. Sy het haar lewe geniet. Ek gaan haar so-so baie mis. Haar twee honde-kindertjies en pappegaai gaan haar so-so mis.




(Op die foto is Linda met my ander vriendin, Sandra, by 'n pannekoek-aksie by Kuierkerk. Altyd die middel van die pret, dié Linda.)


Dis 'n jaar gelede Mei-maand 2010- toe my Annus Horribilis in volle swang my getref het. My horribale jaar: Die Aswolk in Ysland, wat my die London Book Fair laat mis het, my vergete drome, my verlore vriende, my vrae aan God, die vernietigende gebeure in die tradisionele kerk en die skeuring wat gevolg het, en ons bloed wat letterlik gevloei het... Maar al was my pyn fel en opreg, is daar niks wat vergelyk met die dood van jou kind nie. Niks. Geniet die lewe, sê prediker, geniet die klein dingetjies, en bly naby aan God, dis al wat die lewe gelukkig maak. Dis wat Linda gedoen het.















Monday, May 23, 2011

'n HORRIBALE KORTVERHAAL...

Net om julle bietjie te treat... 'n kortverhaal oor iemand wat ek glad nie ken nie... enige ooreenkomste is bloot toeval... nee regtig... hierdie is grootliks fiksie.... gemeng met die bloed en verbeelding van die skrywer... (Ek het dit vir 'n kortverhaal kompetisie ingeskryf...)


Op die foto is die soldate in my regte Simson, God se Leeu, opvoering wat ons in Mei by die Kuierkerk opgevoer het. Dit het natuurlik niks met my fiktiewe storie hieronder te doen nie!)


KORTVERHAAL: Mevrou Doeminie se Annus Horribilis
My asem stink na laatnag se rooiwyn en knoffelpasta. Die enigste ordentlike rok in my kas sit skeef aan my bas want ek was te haastig om die ding aan my lyf te dwing. Ek moes minder geëet het dié langnaweek. Ek sleep my liggaam moeisaam voort tot op die vyfde van die tien trappies van die kerksaal. My stink asem hyg. Pleks ek nie al drie daai Lord of the Rings flieks gelyk probeer kyk het nie. Kon niemand my waarsku dit gaan my nege ure vat om deur te werk nie?
Die drie ure se slaap wat ek ingekry het, hang onder my ooglede soos vrot sokkies.
“Mevrou Dominee! Voel jy sleg?” 'n skril stem kom van iewers bo my af. Ek kyk op, in 'n verblindende sonstreep in, dan sien ek haar, die dinamiese mev. Rita Waldenaar. Nee, ek sien eers die über-modieuse puntskoene, die skraal kuite en bypassende ontwerpers-minirok, die ontwerpersborste en dan die skerp neusie wat my uit die hoogte uitkyk. Vir 'n oomblik lyk haar blou oë groot en onskuldig soos Smeagol s'n van die Lord of the Rings fliek wat nog kleef aan my hele wese.
“Ek is reg, dankie...” Ek sleep myself tot bo langs haar en probeer my krulhare wat punt in die wind staan, plat forseer. Ek trek my rok effens reg en sien dat ek nog boonop my krok-sandale aanhet. Ek het darem oorbelle en lipstiffie aan, hoop ek.
Ek word binnegelei deur mev. Smeagol. Is dit die min slaap wat my verstand aantas? Want hierbinne sit die gryskop Gandalf (ou mevrou Griekie Steenkamp) en die dwerg Gimli (mev. Kotzé) en ’n paar van daardie skewe-tand Orcs uit my laataand fliek. Ek skud my kop om al my varkies bymekaar te kry.
Nog iemand kom in. “Is ek laat? Jammer tog, dames!” Dit is een van daardie Elfie-vroue, die Lady of the Lake, Sandra Potgieter. Dankie tog, ’n vriendelike gesig.
Die agenda word gelees. Dis die wyse Gandalf the Grey met haar grys rok. Ek voel naar. Ek voel beslis nie soos een van hierdie lekkerruik Vlindervroue van die kerk nie. Ek proe nog gisteraand se knoffel.
“Mevrou Dominee, ons wil u welkom heet by ons Vlindervrou groepie. Vandat Dominee begin van die jaar aangestel is, het ons besluit om u ’n kans te gee om aan te pas by die nuwe... hmmm titel, maar nou is dit tyd om u volstoom te begin gebruik. Ons vertrou u het nou al u voete gevind?” vra mev. Gandalf.
Ek staan by die ketel en skep koffie met bewerige vingers. Ek probeer onsigbaar lyk met die all-seeing evil eye op my. Het Frodo so gevoel toe hy opgesaal is met die lewensbelangrike ring. Klein en onbevoeg. “Ja, dankie mev. Steenkamp,” wurg ek.
“U sal ook agterkom dat ons ’n paar oulike klerewinkels het op die dorp wat stylvolle pakkies aanhou. Gaan maak gerus daar ’n draai...” Dis Smeagol wat my op en af kyk met ’n fyn glimlag en aandui dat my enigste precious rok nie in haar smaak val nie. Ook nie my vlooimark oorbelle nie.
Wat verwag sy? My ingenieurman het net voor veertig besluit om voltyds predikant te gaan swot. Waar moes ek en die kinders geld kry vir klere? Vryskut joernalistieke werk het nou nie juis die pot of my bas heeltyd aan die kook gehou nie. En die feit dat ons al tien jaar lidmate in die gemeente is, maak blykbaar ook nie dat hierdie Fellowship van vroue verstaan watter hel ek met twee dogters en ’n breingestremde seun deur is in die ses maer jare nie. Nee, nou is ek die formidabele mev. Doeminie wat hulle deur ’n ring wil trek.
Dankie tog vir oom Gielie wat nou die dag die ewigheid in is, en ’n paar ordentlike pakke klere nagelaat het, anders het Doeminie ook met sy kroks en bokser op die preekstoel geklim. Vir wat moet mens nou so wonderlik aantrek as jy voor die Here of dié vlindergroepie verskyn? Het Jesus nie ook maar met plakkies en ’n kaftan rond geloop nie? Hoekom sal Hy nou verwag ons spul boere moet in 2011 in die hitte van die stryd met warm pakke klere rondloop? Hy ken immers van warm kry.
“... ek sê, mev. Dominee? Het jy dalk voorstelle waar jy betrokke wil raak in die gemeente?” Dit is die onvriendelike rooikop dwerg met haar rasperstem. Seker al daai pakkies Lexinton wat ek haar al skelm sien rook het.
Asof ek nie al tien jaar lank in die gemeente betrokke is by fondsinsameling vir die breingestremde skooltjie op die dorp nie. En wat die feit dat ek al jare lank op my knieë agter die poppekas staan op Sondae vir die kinderkerk?
Ek gryp verwoed na die agenda en my oë hardloop oor die lysie bedienings. Armesorg. Basaarkomitee. Gebedsgroep. Enkellopende vroue. Ouetehuis. Doodsbegeleiding. My kop spin. Waar kry mens flippen tyd vir nog ’n uitreik? Wat van my dogters se sport, my gestremde seun se skooltjie, troues en begrafnisse en gemeenskapsfunksies bywoon saam met my man? En wat van my Jeugverhaal wat ek in elke vry minuut probeer voltooi. Ek wil weghardloop van hierdie vroue Fellowship. Ek hoort nie hier nie. Ek is nie opge-dress vir dit nie.
Heel onder aan die lysie is iets aanvaarbaar. Toneelstuk vir die jeug. “Ek sal die toneelstuk vat.” Ek sidder van verligting en verstik aan ’n vuurwarm sluk koffie.
Dis die Elfie wat my rug byna afklap en my lewe red. Die dames gons onder mekaar terwyl ek my verbrande mond troetel.
“Ons sou verkies dat u betrokke raak by die vroue Bybelstudie en die gebedsgroep.” Dit is nou weer Smeagol met haar ewige ‘vriendelike’ glimlag.
Sandra die Elfie red my: “Ek dink weer mev. Steenkamp is uitgeknip vir hierdie besondere take. Sy is immers al jare in die gemeente en so volwasse in die geloof. Mev. Dominee is ’n opgeleide joernalis en skryf is in haar bloed. Ek sal haar help met die toneelstuk.” Ek stuur ’n dankgebed op. Ek dink Jesus met sy kaftan is dalk vandag bietjie aan my kant.




So trek my Annus Horribilis jaar in eerste rat weg. Die Queen van Engeland het al so horribale jaar gehad. Ek sou later die jaar in my swaar gemoed nogals bevoorreg voel om ook een te hê. Myne het nou wel nie te doen met my seun wat van Lady Diana wil skei nie of nog minder het dit te doen met my kasteel en kroonjuwele wat halfpad afgebrand het nie, maar myne is toe inderwaarheid net so pynlik.
Ek kry ’n oproep. Mev. Smeagol se matriekdogter is ’n kranige sangeres as ek haar kan gebruik in my toneelstuk. Sy het immers al in die skool operettes gespeel, sê Smeagol. Ons word selfs vir ete genooi na hul kasteel daar op die berg. Duur karre staan in oopdeur motorhuise. Die beste kos word voorgesit. Ek is heeltyd naar. Sê nou ek gebruik die verkeerde mes of vurk? Watter vurk sou Jesus kies? Nee, ek dink hy het sommer met die hand geëet. My gestremde sestienjarige seun, Johan, voel my angs aan en is ook skielik naar. Hy gooi op oor Persiese mat voor die televisie. Wie sit so ’n mat in die tv-kamer, verdomp? Die Smeagol tienerdogter word naar van die nare spul. Sy hol darem toilet toe.
“Ek dink ons moet trek,” sê ek vir my man oppad huistoe.
“Nee, man, ons bly al so lank hier. Al ons vriende is hier. Ons sal die klomp nog regkry.” Ek sien nuwe plooie om my man se oë en besef hy gaan met die ou manne op die kerkraad deur dieselfde horribale krisisse as ek. Hy is ook maar ’n verligte ou.
“Ja, kom ons trek Londen toe,” meen my veertienjarige dogter Miekie.
“Ja, cool!” meen die twaalfjarige, Chane’. Albei se ogies blink by die gedagte aan Camden mark en die fantastiese klerestalletjies. “Johan! Skuif op, jy stink na kots, man!” Sy stoot haar naargesig broer weg van haar op die agterste sitplek.
Londen met sy koue reënweer klink skielik vir my baie aanloklik. Net more gaan Google ek UK Immigration, besluit ek.




Die koffiepot sing soos ek daardie week aan my toneelstuk skryf. Simson, God se Leeu! Die volgende Saterdag bekyk ek en Sandra die spul ‘akteurs’ wat opgedaag het vir die oudisie met groot verwagting. Daar is Smeagol se dogter, Ansie, wat nie te sleg lyk as jy verby die groot blou Smeagol-ogies kyk nie. ’n Redelike aantreklike matriekseun, my twee dogters, en ses hoërskool seuns en meisies wat duidelik nie by ’n sportspan of ander kultuuraksies betrokke is nie. My seun Johan het ook saamgepiekel maar hy is redelik onbruikbaar in 'n toneelstuk. Ek besef hierdie is die uitgeworpenes, die anderster kinders wat nie juis ’n plek het nie. Die wat soos ek is. Die breingeremdes. Ouens wat in ’n mate breinskade opgedoen het as gevolg van die lewe se stelsels.
“Eks beïndruk!” probeer ek positief klink. Dis mos die groot geheim. Hoe sou Jesus die skaam spul binne drie maande in ’n toneelstuk omskep het? “Julle gaan hierdie gemeenskap aan julle voete hê! Ek en Sandra gaan julle wys hoe!”
“Tannie, my ma sê ek moet haar net sê watse musiek ons gaan gebruik?” Dis Ansie, natuurlik. Ek kan aan haar hele neus in die lig houding sien haar persoonlikheid en breintjie is maar goed verniel in daardie agtermekaar huis.
En daar word in my kop gebore, ’n vreeslose gedagte... ek wou mooi Christenmusiek gebruik het... ek wou Willie Joubert, Jan de Wet en Wanda de Kock ingespan het.... maar dis al so oor en oor gebruik, besef ek met klinkklare helderheid. Dis asof Smeagol self in my kop nesmaak. My alterego lê nog ’n paar eiers in daardie einste nessie. Ons gaan die gemeente iets nuuts gee, besluit ek.
“As jy deel wil wees van die groep, moet jy beloof, hier en nou, dat geen detail oor die play mag uitlek nie. Jy mag niemand vertel wat en hoe ons hier werk nie. Ons wil dit as ’n algehele verrassing hou... ook vir jou ma, Ansie. Reg so?” Ansie lyk verlep. Ek sê: “Jy kan vir jou ma sê sy moenie bekommerd wees nie. Die musiek is geskryf deur ’n groep opgeleide mense wat almal doktorsgrade in musiek het.” En dis die waarheid.
Almal knik hul koppe en is skielik deel van ’n geheime Fellowship. The Fellowship of the theatre!
"Goed! Wie kan sing? Dans? Enigiets?” Sandra verstaan wat aangaan en daar begin ons met ’n ding wat ons dorpie op sy kop gaan keer. Iets wat my lewe op sy kop gaan keer. Iets wat my jaar horribaal gaan verander...




Vlindervroue vergadering. Ek en Sandra troetel ons geheim tot die dood.
“Dis onaanvaarbaar, mev. Dominee. Dit is ons reg om te weet wat agter daardie geslote deure aangaan. Ons kinders is immers betrokke.” Dis mev. Smeagol.
"Ons kan nie praat nie, Rita. Dis ’n teaterding. Die een wat uitpraat is uit die play.” Ek kry lekker tot in my kleintoontjie.
“Sandra... Jy verstaan tog hoe ons hier werk...?” Sy takel die onskuldige Elfie.
“Jammer, Rita, jy sal moet wag tot die openingsaand soos al die ander.” Sandra glimlag vriendelik, soos van haar verwag word. En soos alle Elfies is sy getrou tot die dood. Ek vreet haar sommer op.




Rita praat met haar man, die voorsitter van die Kerkraad. ’n Spesiale kerkraadsvergadering word belê en daar word voorbidding gevra in Sondag se diens. My man word onder kruisverhoor geplaas.
“Dominee, u vrou weier om inligting oor die drama bekend te maak, ek bedoel, ons kerkraad moet goedkeuring gee vir hierdie tipe goed! U moet met haar praat.” Dis mnr. Smeagol met sy goue ketting om die nek en blink ringe. ’n Vername man in die dorp. Hy het ook al jare gelede ’n fantastiese personeelkursus in Londen bygewoon. Drie weke lank. Hy weet dus waarvan hy praat.
“Ek is jammer, maar dit is my vrou se bediening. Ek gaan nie daar inmeng nie. Is dit nie genoeg dat julle weet die drama gaan oor Simson nie?” My man is darem altyd aan my kant.
"Dit word nie so gedoen nie, Dominee. Die kerkraad is die hoogste gesag in die gemeente en moet te alle tye ingelig wees. Ons is die wakers oor die saligheid van ons mense...” Dis die grysbaard, mnr. Gandalf. Hy is ’n afgetrede weermagman. Hy is sy lewe lank al aan die regte kant: NP, NG, en wat nog als.
“Ek dink darem die Here is die hoogste gesag in die gemeente, broer,” meen my man.
“Iets is nie reg nie, Dominee. U sal mevrou onder hande moet neem. Sy speel nie volgens die reëls nie,” aldus mnr. Smeagol met sy goue ringe.

So gebeur dit toe dat broers Smeagol en Gandalf hul eie aksie teen mnr. en mev. Doeminie loods. Een wat die jaar nog meer in sy moerin gaan lanseer.
Ons drama word die teiken. As ons saans in die kerk oefen, word die amptelike ketel en koffie weggesluit in die kerk se kombuis. Selfs die toiletpapier verdwyn skielik. Ek kry die boodskap. So, wat sou Jesus doen? wroeg ek by my selwers. Koop maar jou eie flippen goed, besluit ek. Ek merk die krat met ’n swart kokiepen: LOS UIT!
Van die klere wat ons mee oefen verdwyn uit die krat en land in die armesorg se houers. Wie op aarde sou dekselse Bybelse rokke wou dra? Selfs armes het tog hul trots!
Ons oefen flink voort. My breingestremde seun sit in en klap hande en juig vir elke flou grappie en probeer selfs saamsing met ons ingewikkelde musiek. Hy is man alleen verantwoordelik vir my moraal wat hoog bly. Sandra slaan die klavier se klawers soos net sy kan en my mensies oefen woes. Ek sien dat selfs die grootste bleeksiel onder hulle begin blom. Ek voel vrek goed oor wat ek vermag. Openingsaand kom nader. Ek voel naar. Ek weet hier kom groot moeilikheid. Maar ons groepie geniet onsself.

Openingsaand. Die kerk is tjok en blok vol mense al het stories oor mev. Doeminie se gekonkel die hele dorp vol gelê. Almal is vrek nuuskierig; uitgevat in hul aandklere, ringe en oorbelle. Dominee het immers afgekondig dat almal asseblief die tieners se aksie moet ondersteun. Selfs al die katkisasieklasse is daar. Hulle is wel gedwing om te kom anders gaan hul nie hul papier die einde van die jaar kry nie. Almal se ouers is bang hul pluk katkisasie, daarom kom hul maar en hou hul bekke.
Mev. en mnr. Smeagol sit voor in die kerk op hul uitgekose plek, soos altyd. Langs hulle is die grys Gandalf egpaar. Langs hulle sit my Johan wat opgewonde en onophoudelik babbel. Hy ken net vyftien woorde. Agter die verhoog is almal in rep en roer. Man en muis word grimeer. Hare word gedoen en woorde vir oulaas deurgegaan. Die Fellowship van ons klein teatergroepie het ontwikkel in ’n hegte lewenslange vriendskap.
Ons openingstoneel. Simson en sy eerste vrou, Philista, verskyn op die verhoog met flambojante Bybelse trouklere. Hul lyk stunning en word gevolg deur ’n spul Filistyne wat kom bruilof hou. Simson en sy vrou trek weg met Queen se “We will Rock you”. My dogters doen 'n soort bellydans op die ritme van die lied. Hul is deksels goed. Hul dans nie verniet al van hul drie jaar oud is nie.
Die tieners in die kerk is onmiddellik op hul voete. Skielik is kerk nie so sleg nie. Hul ouers klap saam hande want kyk, Queen is waarmee ons groot geword het. Ons is wel gewaarsku dat jy nie hul liedjies agterstevoor om moet luister nie want daar is blykbaar allerlei Sataniese boodskappe op, maar niemand het gesê ons mag dit na die regte kant om luister nie! (En regtig, wie van ons kon nog ooit ’n plaat agteruit speel? Wie het dit uitgedink?)
Toe Simson oplaas vir die Filistyne sing, ‘I want to break free’, vlug ’n paar vooraanstaande lidmate snikkend uit die kerk. Die Smeagols is totaal verlam; die skok sit wit om hul kiewe, totdat hul dogter as Delila verskyn met oorbelle en bangles en abnormale welgevormde borste onder haar rooi rok. Ek meen, as die ma flippen ingeplante borste kan hê, hoekom nie die dogter nie? En Delila gooi haar lyf en sing ‘It’s a kind of Magic’ uit volle bors. Simson sing saam en die twee val neer op ’n bed met ’n french kiss. Dan is die Filistyne op hulle.
Mev Smeagol storm die kerk uit, gevolg deur mnr. Smeagol. Sy goue hangertjie blink in die donker. Ek wonder, was hulle nie ook eens gewone mense wat na gewone musiek geluister het nie? Wat verander ’n mens in ’n Smeagol? Geld? Mag? Godsdiens? Gelukkig is die kerk donker en Ansie is verdiep in haar rol. Ons groep eindig met ‘This could be heaven’ van Queen.
Ek is toe deur die kerkraad onder sensuur geplaas. Verskeie hoogs geleerde Sinodemanne het my probeer bekeer en my duiwels probeer tem. As hulle my brein met elektriese skokke kon herprogrammeer, het hulle. Maar ek is nou maar ek. Kommin en weird. Beslis nie ’n fenomenale mev. Doeminie nie. My man is deur die kerkraad, Sinode en die Broederbond onder hande geneem. Ek dink die Vrye Messelaars, die Nasionale party en Interpol het ook ’n anonieme sê gehad. My Annus Horribilis was in volle swang. Ansie is na ’n ander hoërskool, maar ek hoor sy en Simson vry nog die mixit-lyne vuurwarm.




Die gewone mense het darem by ons gestaan. Die ouens wat kyk na flieks soos Oh, Shucks it’s Shuster, die ouens wat luister na liedjies soos die Leeuloop, dié wat kyk na ‘bose’ flieks met towenaars en trolle in, soos Lord of the Rings... Die ouens wat ’n bier drink saam met braaivleis en na Queen luister. Wat sou Jesus doen? wonder ek altyd. Ek dink hy het in Smeagol se plek ingeskuif en die show enduit geniet met sy woestynrok en sy plakkies aan.











(Fluit fluit my storie is uit - maar regtig - ons het 'n Simson show op die planke gebring: Ek en my vriendin Marlene, maar by Kuierkerk, dit was so lekker. Die eerste keer - en dis ons 5de show, was alles so maklik. Van die klankingenieur, die klank, die atmosfeer. Daar was geen spanning nie. Dit was 'n plesier om 'n show te kan oefen en opvoer, sonder die negatiewe energie wat ons opgetel het in die Tradisionele kerk. Dankie Here vir 'n wonderlike opvoering en dankie dat ons die Bybel kan verkondig met selfs die musiek van Queen!) Op die foto bo is Simson na sy oë uitgesteek is: Gilliaume Srtydom. Regs is my dogters: Michelle en Chantal (bo regs) wat ook rolle in die show gehad het. Ek is so trots op hulle. Mag hulle ervaring van kerkwees ontspanne, genotvol en 'n heerlike avontuur wees, en mag hul nooit skuldig voel oor hul belewenis van God nie. God is uniek in ons elkeen want Sy Gees werk uniek met ons elkeen. Dankie daarvoor.

Monday, May 9, 2011

'N OOP GRAF EN "ALL YOU NEED IS LOVE..."



'n Ongelukslag in die nag. Metaal teen metaal. En ek het skielik nie meer rede om oor enigiets te kla nie. My Annus Horribilis het amptelik in duie gestort. My beste vriendin se seun is in 'n ongeluk dood Sondagoggend. Niks wat ek in 2010 deurgemaak het kan enigsins hierby kers vashou nie. Ek onttrek nou my slegte jaar amptelik.


Wat kan ek sê van Glendine se pyn? Om by 'n oop graf van 'n kind te staan, is die ergste trauma wat 'n ouer kan deurgaan. Niks van ons vergete drome, vriende wat jou in die rug steek of afskuwelike vyande wat jou wil afbreek, kom hierby nie. Nou noem ek nie eers die vergifnis wat moet volg vir die dronk drêl wat in die tronk sit as gevolg hiervan nie en wat nog probeer weghol het nadat hy by 'n rooi robot deur die stilstaande Volkswagen waarin Dean en sy twee vriende was, gejaag het nie. Dean en sy vriend Henno is dood. Johan Botha, sy ander vriend leef wonderbaarlik. (Op die onlangse foto is Glendine en Dean.)











Toe ek die oproep voor sonop van Glendine kry daardie Sondagoggend, wou ek nie die foon optel nie. Sy sal my nie daardie tyd bel nie. Ek het met 'n loodswaar hart opgetel en die nuus was skrikwekkend. Ek kan nie weet wat sy deurgaan nie.





Ek kerm en kla oor simpel goed al vir weke lank op my blog en nou dit. Ek skaam my. Ek weet niks van pyn en seer en verwerping nie. Ek weet niks van God se planne nie (dit weet ek darem al 'n geruime tyd) en daar is geen troos in der ewigheid op hierdie aarde wat daardie seer van Glendine kan wegvat nie. En die groot vrees wat dit agterlaat: hoe lank is my kids nog by my? Hoe lank is ek nog by hulle? Gelukkig weet niemand nie.





Oor Dean kan mens kleurvolle boeke skryf. Hy is maar negentien maar het die manier waarop ek en my kinders en baie baie mense dink, beïnvloed. Van kleins af is hy die kunstige vreemde weird ene met BAIE nou skinny jeans en hoedjies. Menige kuns onderwyser het gesidder by aanskoue van sy totaal eerlike verbeeldingsvlugte wat hy op canvas vasgelê het. En dit kon hom min skeel. Ja, hy was seker een of twee keer in trane oor mense hom verkeerd verstaan en skeef uitkyk. Maar hy het nie opgehou nie. Hy is van daardie siele wie se kuns, insig en verbeelding ver voor sy tyd en ons denke was. In Pro Arte skool het hy geblom. Uiteindelik mense wat hom verstaan het. Hy het 97% vir ontwerp gekry, iets wat in jare nog nie gebeur het by die skool nie. Plus nog drie onderskeidings verstaan ek.
(OP die foto is een van Dean se vele ontwerpe)

En soos alle goeie kunstenaars was sy kuns 'n weerspieëling van ongeregtighede wat hy om hom raaksien. Ons almal kyk mos maklik oor dit. Hy sien dit met velle intensiteit en weerspieel dit met suiwer kreatiwiteit. Soos 'n diep gedig. Jy moet mooi kyk om alles raak te sien en liewer nie te veel sê nie want jy gaan aanvanklik nie alles verstaan nie.







Sy begrafnis was op 'n Vrydagmiddag, terwyl ander mense rustig werk of kroeg toe ry. Sy vriende, meeste kunssinniges soos hy wat jy op 'n afstand kan uitken met hare, hoede en noupyp broeke, het geruk van die trane. My kinders het gehuil soos ek hul nog nie sien huil het nie. Sy ma het besluit om vir hom 'n eenman kunsuitstalling te reël op dieselfde dag van sy begrafnis. Sy eerste uitstalling. Die kerksaal was vol van sy besondere verbeeldingryke werke.





Hy was iemand wat 'n mens beïndruk het. 'n Legende. My man, Anton het die diens gedoen, en vir Dean met Josef vergelyk wat ook voor sy tyd was en anders was en kleurvol. En wie se kreatiewe drome vir min mense (ook homself) verstaanbaar was. Hy moes net uiting daaraan gee, maar baie het hom verkeerd verstaan, en op die ou einde het dit groot verdriet maar ook groot redding meegebring. Maar deurentyd het hy gedoen wat hy moes, gegaan waar God hom gelei het.





Ek het 'n skyfievertoning gemaak van Dean met die liedjie: I had the time of my life (and I owe it all to You!) van Black-eyed Peas. Dit was wie hy was. Hy het die tyd van sy lewe gehad en so ook ons wat hom geken het. God het hom die tyd van sy lewe toegelaat op hierdie aarde. Hy het holderstebolder geleef, soos Koos Dup sê: leef holderstebolder want die kis staan op die solder... Ons almal kan leer by Dean. Leef holderstebolder. Moenie dat iets jou onderkry nie. Laat mense ook op jou begrafnis kan sê: I had the time of my life and I owe it all to you! Dean het 'n hart vol barmhartigheid gehad. Hy het tyd spandeer met mense of hy hul ken of nie en hy het nie velkleur raakgesien nie.





Is God se nuwe reël nie vir ons: Wees barmhartig want ek is barmhartig nie? Ons klou so maklik vas aan die ou Testament se reëls en regulasies en waar God vir sy volk gesê het: Wees heilig want Ek is heilig. Jesus het daardie ou reël met 'n nuwe kom vervang en ons lees dit so maklik mis: Wees barmhartig want ek is barmhartig (Lukas 6). Dit was Dean. Hy het mense aangeraak.


Lysie van goed wat ek oor die 13 jaar wat ek hom geken het, by hom geleer het:


Wees jouself.


Volg jou drome.


Wees barmhartig.


En hy het nooit kwaad geword nie. (Okay, ek sukkel nog met daai ene...)


All You need is love (Sy beste liedjie ooit van die Beatles)


(Ons het net liefde nodig. Ek dink dis wat Jesus vir ons probeer vertel het!)




Glendine vertel my op moedersdag , die Sondag na sy begrafnis. Dean het vir haar gesê al die kinders kla en kerm so oor hul ma's, maar hy het die coolste ma wat enige kind kan hê. Sy laat hom toe om homself te wees. Sy het hom lief soos hy is en probeer hom nie verander nie.




My hart breek as ek aan Glendine dink, aan alle ma's wat 'n kind verloor het. Maar ek moet myself herinner dat ons net in 'n tydelike woning is. Een van die dae is ons almal bymekaar in die hemel, dan sal ons Dean sien waar hy lang stukke gesels met Salvador Dali, John Lennon, en Picasso en met die groot Kunstenaar en Skepper wat alles so kleurvol op hierdie aarde geskep het.





Mag God ons vergewe dat ons Hom, in boksies druk van ons eie verstaan. Mag God ons vergewe dat ons so maklik na ander mense vingers wys sonder dat ons hulle hart of hul gawe verstaan. Mag God ons help om met 'n barmhartige hart na mense en die skepping om te sien. Ons weet so min. Al wat ek weet is: leef holderstebolder terwyl jy kan.





Ons hou hierdie week 'n musiekblyspel by die kerk wat ek geskryf het, Simson, God se leeu, met die musiek van Queen, ook begaafde mense wat dalk maar voor hul tyd was (al was hul bietjie woes vir die meeste van ons se ouers!). Maar hul gawe, hul musiek, wat vandag nog van die gewildste is op aarde, sal ons altyd by ons hê. Ons dra ons show aan Dean op want so baie van ons wat deelneem, het hom goed geken. Dis die verhaal van Simson wat 'n leeuhart gehad het en wat God op die aarde gebruik het om met sy gawe (krag) die volk se lewens te verander en te verbeter. Hulle en ons verstaan ook nie lekker vir Simson nie, maar dit maak juis dat hy met sy andersheid uitstaan en 'n verskil maak, net soos Dean. Mag jy in vrede rus, Dean, soos die groot Godsmanne voor jou! Ons hou vir jou 'n sitplek oop Saterdagaand! Geniet dit! (Al haat jy die gewone tipe musicals - hierdie een is anders...! We will rock you!) Peace out!