Thursday, June 13, 2013

TEATER IS HEERLIK!

Hoe doen mens dit, vra iemand my nou die aand, om elke jaar 'n beter musiekblyspel te skryf wat mense van nuuts af geniet? Dis nou na die heerlike humoristiese produksie van Esther, Queen of Persia, wat ons pas vir en deur die gemeenskap in Hartbeespoort opgevoer het. Daar is mense wat glo elke jaar se blyspel is beter as die vorige een. Natuurlik is dit God se inspirasie en Sy kreatiwiteit wat alles veroorsaak en die wiele laat rol, want Hy is die groot Skepper. En dan is daar nog iets wat mens nie moet vergeet nie - die Bybel is 'n boek vol verhale wat altyd nuut is. Sodra mens dink jy ken die of daai storie, dan wys iemand dit vir jou op 'n ander manier en jy sien dit van nuuts af. Dis vir my so lekker as mense uit die teater stap en sê hulle het nog noot so aan die storie of die karakters gedink nie: Kan jy glo, die Bybelse mense was maar net mens soos ons!
Dis net so lekker as mense 'n paar dae na die vertoning kom vertel dat hulle die verhaal weer in die Bybel gaan lees het en dat dit voel of hul dit vir die eerste keer begin verstaan. Ek glo die Heilige Gees werk in 'n leerbare gees die beste. As jy jouself (en jou kinders) blootstel om meer oor God en sy Bybel uit te vind, sal Hy jou tegemoet kom en jou meer van sy skatte wys. Ek is so dankbaar vir elke akteur en sanger wat hul rol so goed gespeel het, en vir die maande se harde oefen. Daar is niks so lekker vir 'n skrywer as wanneer sy geskrewe stukkie werk deur mense gesnap word en uitgeleef word nie. Dis 'n stukkie van die skepping. Dis 'n stukkie van die verborge dinge wat God ons kom wys. Ek is dankbaar vir my talente en vir die mense om  my se talente wat alles saamwerk om God se naam te verheerlik, elkeen op sy unieke manier. Dankie, Jesus!

Hieronder is 'n uittreksel uit die Noordwes Beeld van Woensdag 12 Junie 2013 wat Carla vd Spuy vir ons geplaas het. Lekker dag!!

http://www.noordwesbeeld.com/68132/news-details/koningin-esther-met-n-kinkel

Nuus Koningin Esther met ’n kinkel
Koningin Vasti, wat vermoedelik die wêreld se eerste feminis was, ’n koning wat die koppe laat rol, sexy buikdansers en ’n lawaaierige harem met sy eie baasspelerige glam-ghoeroes was alles deel van die tweetalige interkerklike musiekblyspel Esther, Queen of Persia, wat onlangs deur Christian Musical Theatre in Hartbeespoort opgevoer is.
Hierdie Bybelse verhaal is op vindingryke wyse deur die plaaslike predikantsvrou René van Zyl van die Kuierkerk verwerk met musiek van Bon Jovi, Adéle en Roxette. Die opbrengs was ten bate van die liefdadigheid in die gemeenskap.
Esther, Queen of Persia is die sewende blyspel wat Van Zyl op die planke bring. Van die vorige blyspele, ook met Bybelse temas, het onder meer musiek van Abba en Elvis ingesluit.
Al die toeskouers was dit eens dat dié dorp se mense nie hul talente onder ’n maatemmer wegsteek nie.
So was Doreen Coetzee, wat ook ’n rol in Liefling in die Staatsteater vertolk, die regisseur.
Belinda Walker, ’n musiekstudent, het die hoofrol vertolk, terwyl Belly Buttons die dansers verskaf het.
Van Zyl is bekend daarvoor dat sy die Bybelse boodskap op ’n prettige en moderne manier aan die publiek oordra.

Thursday, February 28, 2013

MEV DOEMINIE HAAL DIE KOERANT: NOORDWES BEELD!


Dis met groot bewoënheid dat ek kan sê ek het al die koerante gehaal: mag
 'n uitgewer of agent my talente raaksien en my kontak - want self uitgee
 sit nie in my broek nie! Ek haat proeflees, bemarking, pakkies opmaak
 en pos, boekhou en alles wat daarmee gepaard gaan! Maar ek is maar
 te nederig bly as iemand 'n cd bestel! Dankie vir almal wat al een besit
 - ek dink dis awesome!!!
Dankie Carla van der Spuy vir die beriggie!
Nuus Dié mev. dominee se pen is nooit stil nie
’n Mens sal René van Zyl, predikantsvrou van die gewilde Kuierkerk in Hartbeespoort, 
nie sommer agter ’n basaartafel kry nie.
Nee, hierdie “mev. dominee”, wat bekend daarvoor is dat sy en haar man, 
ds. Anton van Zyl, “buite die boks” dink, toor eerder met woorde.
Daar is net geen einde aan die skeppende talente van dié eertydse joernalis nie.
Van Zyl, wat ook ’n kinderwerker en skrywer is, se jongste projek wat spruit uit haar 
behoefte om “in te lig, op te voed en te vermaak”, is om kinders op ’n lekker manier 
te leer hoe om al 66 boeke van die Bybel te ken. Sy het al die Bybelboeke in 
“geheuesketse” opgesom en leidrade, asook ’n Bybelse tydlyn, op ’n CD saamgestel.
Van Zyl verduidelik dat hierdie bonte mengelmoes van prente in kleur sowel as 
swart-en-wit die produk van jare se navorsing, versameling van inligting en van 
sketse ontwerp is waarin die kern van elke Bybelboek letterlik “opgeteken” is.
Die illustrasies is deur haar suster, Esmé Walker, gedoen.
Dié het al ’n ATKV Veertjie vir ’n vorige kinderboek se illustrasies ontvang. 
Die CD kom boonop saam met ’n geheuespeletjie.
“Ek wil die kinderkerk hervorm,” verduidelik sy. Daarom leer sy die kinders by 
hul kinderkerk ook om hierdie Bybelboeke in volgorde te leer deur middel van 
interaktiewe lesse wat sy weekliks skryf.
Daar lê vir haar min waarde daarin om die kinders, soos oor al die jare, van 
Bybelkarakters te leer met slegs ’n morele les daarby.
Van Zyl skryf reeds jare stories vir die jongspan op die webtuiste van die 
kuberkerk wat deur prof. Stephan Joubert gestig is. Die verhale, wat tweeweekliks
 op die webwerf verskyn, word vertel deur ’n kat met die naam Kristof en dit handel
 oor sy dierevriende uit die Bybelse tyd. Die stories wemel van donkies, kraaie, 
duiwe, akkedisse, kamele, visse en insekte wat elk op ’n aksieryke manier met 
Bybelse karakters te doen gekry het.
“En so leer die kinders die Bybelse waarhede sonder dat hulle dit besef.”
Van Zyl het ook met poppeteater begin. Sy het in 1998 ’n bordspel, Kruispad, 
ontwikkel en self uitgegee. In 2011 het sy ’n Christelike jeugboek, 
Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality, wat in Middeleeuse Ierland 
afspeel, uitgegee.
Nou droom sy ’n uitgewer sal haar passie deel sodat vele uit haar Bybelboeksketse
 kan leer.
Rig navrae aan rene@kuierkerk.co.za of skakel 0082 396 4100.

Thursday, November 15, 2012

MEV. DOEMINIE SE ANNUS MIRABILIS!


Hier trek Mev. Doeminie by 'n lywige slotsom van haar laaste twee jaar se gewroeg. Dis al hoofstuk 33 as ek reg tel! Twee jaar gelede het ek uit pure frustrasie begin skryf aan hierdie blog, Mev. Doeminie se Annus Horibilis. Twee jaar lank wroeg ek oor my persoonlike skade en ellende soos dit deur hierdie onsimpatieke wêreld aan my opgedis word.
     Ek het die volgende gesê:
     Hierdie blog is die gevolg van spesifiek vier krisisse in my lewe:
1. Die vassit in Oslo, Noorweë, wat gemaak het dat ek die London Boekskou mis waar ek persoonlik my boek en draaiboek (na jare se werk en  maande se bid en hoop) aan agente wou voorlê. En wat ek toe mis as gevolg van ‘n vulkaan en aswolk in Ysland. Dit sou die hoogtepunt wees van jare se swoeg en sweet.
2. ‘n Tradisionele kerk in ons dorp se leiers wat my predikantman en ons gesin wou vernietig met skynheilige planne en agterbakse verdagmaking. Die kerkmanne wat glo dat die Bestuur van die kerk die HOOGSTE GESAG in die Tradisionele kerk is en nie God self nie. Geheime kerkvergaderings en aksies teen ons gesin het gemaak dat ek gewonder het waar God inpas as mense se eie planne seevier. Onder hulle was goeie Christenvriende . . . wat ons met skynheilig glimlagte vertrap het.
3. My dogter Chantal moes ‘n groot rugoperasie kry. Na my ouers se dood in goeie dokters en hospitale se hande en my seun Sean-Jacques se swak behandeling in hospitale wat gelei het tot sy breinskade, het ek ‘n vrees vir die soort plekke. Ek is bang vir wat God beplan met haar en die operasie. My vrese en vertwyfeling oor of God regtig my gebede verhoor, maak my mal want baie goed in my geskiedenis bewys die teendeel. Ek was in ’n gat van vertwyfeling en wroeging, en ek is net eerlik. Al weet ek diep, diep, baie diep, binne in my dat God wel in beheer is... My Annus Horribilis 2010 sê anders!
4. Ek sukkel met mense vertrou, met kritiek hanteer elke keer wat ek my kop uitsteek met my skryfwerk (en so bietjie buite die boksie dink). Dit gebeur baie omdat ek gemeenskap musiekblyspele skryf - Bybelse verhale met moderne musiek, soos Abba, Celine Dion, Elvis en Queen. (Sies, mev. Doeminie, jy van alle mense kan mos nie so iets doen nie - ek bedoel - jy is tog MEV. DOEMINIE!). As jy dink Queen is nie uit die hel nie, wat van ons kinders? Sies, man.)
     Ek het nie geweet wat die uiteinde van my boek (blog) gaan wees nie. Maar ek het geworstel met God. Ek het nogals gevra:
       Mag God my deur my geloofs-geveg help en verras, het ek gevra.
     Dit was my krisisse aan die begin van 2011. Hier sit ek nou einde 2012. Na 33 bloginskrywings en ‘n lewe wat nie stilgestaan het nie en probleme wat nie verdwyn het nie, wat het ek geleer?
   Annus horribilis is a Latin phrase meaning "horrible year", or alternatively, "year of horrors". Koningin Elisabeth van Engeland het 1992 genoem haar wroegingsjaar as gevolg van vele krississe daardie jaar soos haar dogter en nog haar seun, Charles, wat geskei het en nog brand wat uitgebreek het in haar kasteel wat baie kosbare dinge vernietig het, ens.
     In my eie Annus Horibilis was ek en my gesin was byna vernietig deur die Tradisionele kerkmense omdat ons durf waag het om te dink kerk mag ‘n lekker ervaring wees waar jy informeel oor jou geloof kan praat. Ons het geglo kerk hoef nie van ‘n paar ou diktators se reëls en regulasies af te hang nie. Kerk is wat Jesus dit kom maak het. Dit verdra alles, glo alles en hoop alles en liefde is die belangrikste: liefde vir God se skepsels, maak nie saak van afkoms of kultuur of maniere nie. God was immers so lief vir ons dat Hy sy seun laat sterf het vir ons sondes. Hoekom sal reëls nou skielik die kerk moet beheer? Hoekom sal die Gees nie in elkeen anders mag werk nie? God is ‘n genadige God, het Martin Luther besef toe hy die magtige Rooms Katolieke kerk se tradisionele reëls aangevat het en sy stellings teen die Guttenberg kerk gaan vasslaan het. Die gevolg was dat die verskillende kerke se mense mekaar vermoor het en soos diere geveg het om elkeen sy eie mening te verdedig.
     Dus: my en Anton se geveg op Hartbeespoort was kinderspeletjies teen wat in die Geskiedenis van die mens en die kerk al gebeur het. Die wonderwerk is dat ons nog leef na 2010 in dieselfde dorp waar sekere mense nog dink ons is uit die hel en alles wat ons verkondig en doen is uit die hel. Ons het aanbeweeg maar hulle spoeg nog vuur en maak ons sleg. Ek sê maar: Vader vergewe hulle want hul weet nie wat hul doen nie. En hoe minder ek tyd en aandag aan hulle spandeer hoe beter vir my siel. Ek bly gefokus op my werk om kinderkerk materiaal te ontwerp en om die Bybel ‘n lekker ervaring te maak vir gesinne.
     My dogter, Chantal se rugoperasie het goed gegaan in 2010. Sy het gou aangesterk en gou weer normale dinge gedoen, soos dans. Die dokters het daardie dag nie opgemors soos in my verlede nie. Dit was ‘n wonderwerk en sy kan ‘n normale lewe lei. Ek sê dankie Here.
     My grootse poging om ‘n passiespele vir die moderne mense oor te vertel in 2010 het soveel kritiek ontlok en party kerke in die dorp het hul rug op ons gedraai. Ek kry hul jammer want hulle het ‘n wonderwerklike toneelstuk gemis wat hul en hul kinders se lewens kon verander het. Ek gaan aan met my musiekblyspele. Ek het al intussen ‘Samson, the Lion of God’ met Queen se musiek geskryf en opgevoer, en ook ‘King David and his eight wives’, met die musiek van Shania Twain en Simon and Garfunkel. Die sowat 1000 mense wie se lewens ek elke jaar hiermee verryk en wie se Bybelkennis ek hiermee verbreed, is my grondgebied. Ten minste gee ek hulle iets wat ewigheidswaarde het.  Al dink ou Drusilla (die dromer in my) altyd dat hierdie stories die wêreld moet ingaan en die Evangelie verkondig, is dit nie tans my lot nie. Mense is dalk nie reg vir dit nie. Whatever.
     Ek bly gefokus werk daaraan en het gelukkig nou nie met onvergenoegde tradisionele mense te doen wat my heeltyd met kritiek gooi nie. Van hulle bly ek ver weg. Nie eers Christus kon die massas tevrede hou nie. Wie is ek dan nou altemit?
       En dan laastens: my hartseer, skok en ontnugtering oor die vassit in Oslo en die feit dat ek die London boekskou gemis het. Ek het mos altyd die droom dat my boeke of kinderkerk materiaal of musiekblyspele bestem is vir groot gehore en dit moet die wêreld verander. Ek moes my denke hieroor verander. Dit wat ek doen vir die klein gehoor wie dit gebruik, is blykbaar genoeg. Die Here is tevrede want Hy maak nie ander deure oop nie, al skop en baklei ek soms om die deure oop te moker. Wat ek ook al hierdeur moet leer of nie leer nie. Dis hoe dit is. Ek het alles menslik probeer. As oorstromings, vuurspuwende berge en tradisie my keer, HOEF ek nie die droom aan te hou voed ten koste van my gesin nie.
     Die wonderwerk is dit: ek bly heeltyd skryf en nuwe idees uitdink. Dis meer as wat baie ander mense kan sê, dié wat slegs op hierdie aarde is om ander te kritiseer en te briek. Met die genade van die Here hou ek aan glo in myself en my idees en ek bly my goed op grondvlak publiseer. Ek bly glo in myself, ten spyte van alles. Ek bly glo dat God hiermee tevrede is, al is dit op klein skaal. As ek met my prentjiebrein te groot begin droom, slaan ek die gedagtes plat, voordat dit weer my lewe wil oorneem. Droom is goed, maar soos alles, mag dit nie jou vrede en jou verhoudings beïnvloed nie. Jou energie moet positief aangewend word, anders vernietig jy jouself en ander.
            Ek het ‘n paar goed besef oor die twee jaar. (Nou klink ek soos die Prediker skrywer!):
1.    Ellende gaan jou tref elke nou en dan. Deal with it, my ding. My dogter Chantal se voet gee nou probleme en hier gaan ons alweer na ‘n Ortopediese Chirurg toe! Hele storie van voor af. My dogter Michelle ly aan onderbewuste trauma/hartseer wat haar moeg en naar maak 24/7. Ek bid sy kom hieroor want dokters/sielkundiges het nie enige raad nie. My breingestremde seun van 19 poef nog elke dag in sy broek al bid ons al jare dat hy dit in die toilet regkry! Ons is deel van ‘n gebroke wêreld en: JA, DAAR IS MENSE MET WIE DIT SLEGTER GAAN AS MET JOU! MAAK OOP JOU Oë EN KYK OM JOU ROND! Hou op om in jou eie ellende vas te kyk. As jy hier KAN lees het jy ‘n rekenaar of ‘n kindle of ‘n boek in jou hande en dan is jy sekerlik een van die 5% goed bevoorregtes in die wêreld. Jy het ‘n lekkerder lewe as baie.
2.    Mense gaan jou heeltyd teleurstel. Deal with it, my ding! Johannes 2:23-25 stel dit duidelik hoe ons hierna moet kyk:
Jesus ken die mens
23Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. 24Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is. (Dis maar in die begin van Jesus se bediening, en Hallo??? Hy het steeds goed aan almal gedoen en almal lief gehad en vergewe. En vir die blikskottels gesterf. Dit sluit ons met ons foute en klagtes in.)
3.    Vriende/Christene gaan jou teleurstel. Party is vir ‘n seisoen in jou lewe. Ander vir altyd. Party gaan jou selfs probeer vernietig, al noem jy hul vriende en mors jy baie energie op hulle. Hulle onvermoë om jou lief te hê het niks met jou te doen nie. Dis hul eie stryd wat hul stry. Deal with it, my ding! Wees jy maar lief vir hulle en bly vergewe en anders vrot jy op. God sal hul wel verander, of nie. Sny die naelstring as hul jou aftrek. ‘n Goeie reël is dalk: moenie te veel vriende hê nie, want dit vat baie energie!
4.    Fokus op jou talente en gawes. Dit verskaf jou nie net energie nie, maar hou jou uit die kwaad! En dis uiteindelik ‘n seën vir ander. Is dit nie hoekom ons hier is nie?
Vertrou God, al gebeur die op en af in die lewe. Hy hou jou vas. Rom. 8:28: “28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Dit is jy en ek wat sy Naam bely. Dit is jy en ek wat glo dat Hy vir ons alles ten goede laat meewerk al gebeur skynbaar slegte goed met ons en al behandel mense of die lewe ons onregverdig.
5.    Jou kinders is vir jou geleen. Soos Jesus se ma, Maria, kan ons net sê: ‘Here, laat met my gebeur soos U goeddink!” en met daardie blinde geloof moet ons ons lewenspad aandurf. Hierdie aanhaling van iemand sê dit mooi: “I’ll lend you for a little time a child of mine,” He said, “for you to love the while he lives, and mourn for when he’s dead. It may be six or seven years, or ten or nineteen. But till I call him back, take care of him for Me? He’ll bring his charm to gladden you and should his stay be brief, you’ll have his lovely memories as solace for your grief.” Dis angswekkende woorde maar oor duisende jare heen moes ouers soos ek en jy kinders begrawe, by siekbeddens waak en bid as hul die pad byster raak. Dis ons lot; dis ons voorreg.
6.    Ek moet doen wat ek kan om my gesondheid te hou sodat ek vir my gesin iets kan beteken. Eet gesond, kry oefening, drink jou pille (Homopaties of chemies) as jou liggaam dit nodig het. Alles kom uit God se hand en het sy plek. Ek leef in God se vrede, maar ek drink my antidepressante en so kan ek deel met ‘n senutergende mallemeule rit van ‘n lewe. Ek is dan ‘n beter vrou en ma wat daagliks poef-onderbroeke takel sonder te veel gekerm!   
7.    Moenie almal kritiseer nie. Moenie dink jy weet alles nie. Hou maar soms net jou bek – nee, hou meeste van die tyd maar jou bek want dit maak dat jy jou minder ontstel!  
 Koningin Elizabeth II van Engeland het op 24 November 1992 gesê: “1992 is not a year on which I shall look back with undiluted pleasure . . . it has turned out to be an Annus Horribilis.”

     Dit was my 2010 maar my slotsom is na twee jaar: Soms lyk die lewe horibaal sleg soos ‘n Annus Horibilis en ons wroeg, maar as ons eerlik wil wees, is dit altyd ‘n Annus Mirabilis:  “a Latin phrase meaning "wonderful year" or "year of wonders" (or "year of miracles").”  
     Annus Mirabilis is ook die naam van ‘n tragiese gedig geskryf deur John Dryden in 1667 oor die verwoestende dinge wat London getref het in 1666: Dit sluit onder andere in die groot plaag wat London getref het, sekere gevegte waarin Engeland betrokke was en die groot vuur wat in London gewoed het. Die groot koning Charles II het egter wonderbaarlik planne gemaak om die stad op te bou en te verbeter. Dryden het tot die slotsom gekom dat God eintlik wonderwerkend gewerk het in Engeland en die land gered het.
     Ek stem saam met Dryden. Iets lyk dalk sleg maar ons geloof in ‘n God wat genadig en liefdevol is, laat ons besef dat die slegte situasies eintlik vol wonderwerke is. Al sien ons dit nie altyd raak nie. Ons glo dit. Ek glo dit, ten diepste glo ek dit, al kerm en kla ou Griekie Galbraak hier binne in my dikwels.
En so gaan ons 2013 binne . . . ons land is vol onluste, stakings, swak bestuur, aids, misdaad, bedrog en skynheiligheid, maar ook vol van goeie vriende, pragtige kinders, ‘n toekoms, ‘n verwagting, wonderwerke en hoop. Ek glo dat God alles ten goede sal laat meewerk vir elkeen. Ek bid dat almal raaksien hoe wonderwerkend Hy in elkeen se lewe werk, al gebeur slegte goed met ons en om ons. Paulus som alles mooi op in sy gebed in Effesiers 1:15:
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Ek’s geseën met pragtige kinders, wie se lewe nog deur baie hoogtepunte en laagtepunte gevorm gaan word. Dieselfde geld vir my, my wonderlike geseënde man met sy groot visie vir die kerk en my goeie vriende. Dis hoe dit is. Al wat ons kan doen is om die mallemeule rit saam met God en ons mede-reisigers aan te gryp en al gillend, laggend en huilend te geniet! Carpe Diem! Sjoe, Amen!

Saturday, October 20, 2012

MEVROU DOEMINIE SE KOP VOL BONT PRENTE!


(Beriggie in ons plaaslike koerant, die Kormorant, op Hartbeespoort - oor my nuutste projek waarmee ek al 'n paar jaar besig is en uiteindelik voltooi het! Hie-ha! Prys die Here!)

PREDIKANTSVROU ONTWERP BYBELBOEKE IN SKETSE!

Om kinders op ’n lekker manier al 66 boeke van die Bybel te leer, is die droom van René van Zyl, predikantsvrou, kinderwerker en skrywer van Hartbeespoort. Hierdie droom is gebore uit haar vroeëre beroep as joernalis, sê sy, toe haar leuse was: om in te lig, op te voed en te vermaak! Dit het sy toegepas op die Bybel en die vrug van haar werk is 'n laserskyf met al 66 boeke van die Bybel in geheue-prente saamgevat. Hieraan werk sy al die afgelope vyf jaar.   

Dié bonte mengelmoes van prente in kleur, asook in swart en wit, is die produk van jare se navorsing, versameling van inligting en van sketse ‘optower’ waarin die essensie van elke Bybelboek saamgevat is. Nou kan 'n mens met een oogopslag 'n geheelprent kry van elke Bybelboek. Dit is so kreatief gedoen dat groot en klein nou hul Bybel op die punte van hul vingers kan opsom, omdat die brein ’n prent het om mee te werk. Die pragtige en humoristiese illustrasies is gedoen deur René se kunstige suster, Esmé Walker, wat self spog met 'n ATKV Veertjie toekenning vir 'n vroeëre kinderboek se illustrasies.

Die laserskyf waarin al die Bybelboekprente saamgevat is, bevat ook die leidrade wat nodig is om elke skets te verstaan en René het 'n eenvoudige geïllustreerde Bybelse tydlyn aangeheg. Ja, onthou die leuse: inlig, opvoed en vermaak! Sy sê sy leer die kinders by die Kuierkerk waar haar man, Anton,die predikant is, ook hierdie Bybelboeke. Hiermee saam gebruik sy interaktiewe lesse wat sy weekliks skryf en wat pas by die Bybelboekprente. Daar lê vir haar min waarde in om die kinders, soos oor al die jare, slegs die Bybelkarakters met 'n morele les te leer. Die kind moet van kleins af die Bybel in sy volheid leer ken, met die tydlyn en die betekenis van elke boek vir ons in vandag se tyd, sê sy passievol. Haar man gebruik hierdie sketse ook met groot sukses by sy weeklikse Bybelskool om vir volwassenes die Bybel makliker verstaanbaar te maak. Die grootmense geniet die prente net soveel soos die kinders en almal is dit eens dat hul nou maklik die Bybelboeke kan onthou.

René het oor baie jare as kinderwerker en poppemeester begin agterkom hoe sleg kinders (en hul ouers) die Bybel ken. Sy wou hierdie tendens verander. Hoeveel mense weet selfs dat daar 66 boeke in die Bybel is? Die sketse is veral waardevol vir regterbrein mense (groot en klein) wat in prentjies dink. René sê dat sy met hierdie projek self buitengewone kennis opgedoen het en dat sy nou vir die eerste keer in haar lewe werklik voel sy begin die Bybel verstaan. Sy geniet dit as mense vertel hoe hul nou toegerus is om die Bybelboeke te onthou omdat hulle 'n geheue-skets het van elke boek en 'n eenvoudige tydlyn wat die Bybelse tyd verduidelik.  

René is ook die skrywer van die 2010 Christelike jeugboek, Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality en 'n Christen interaktiewe bordspel, Kruispad, wat sy self laat druk en uitgee het. Totdat sy 'n uitgewer vir die Bybelboek laserskyf kry, bemark sy dit self om haar kostes te dek. Navrae oor die produk kan gerig word aan: rene@kuierkerk.co.za of 082 3964 100. 

Monday, September 17, 2012

RENOIR . . . MATISSE . . . PICASSO . . . FLIPPEN HEL, LOS!


    As mevrou Doeminie so donderstorm-stil raak, beteken dit net een ding: ek het tyd vir myself en skryf ‘n muis uit ‘n gat uit of ‘n hond uit ‘n bos of ‘n voël uit sy nes! Met ander woorde, dit gaan of baie goed met my sensitiewe siel, of ek skryf om weg te probeer hol van een of ander moeilikheid en vermy mense. Dis seker bietjie van altwee, want ek skryf lekker aan my nuwe boek, ‘n Afrikaanse een (aksie/spanning) wat in Kaapstad begin en eindig maar wat eintlik gaan oor ‘n Mega moderne new age kerk wat die wêreld oorneem en eintlik dans die duiwel onder rond . . . hmmmmm ja, jy sal die boek moet koop. Daar is geheime, moorde, raaisels, menseroof, verkragting, liefde, verraad en baie ander nonsens in wat ek uit my eie vrot kop dink. Ek is so twee derdes weg en geniet elke sekond.
     MAAR dan is daar my pragtige dogter, Michelle wat steeds worstel met die vreemde toestand van naar en moeg wees - al vir ‘n jaar lank. Langer. Dokters, sielkundiges, elektroniese klankgolf en vibrasie en wat als terapeute, homopate en Interniste speel raai-raai riepa en kyk wie kan die grootste rekening stuur. En sy voel steeds so. En sy worstel deur gr. 11 want sy moet. Dit maak my mal!!! Maar soos dit ‘n goeie vrou en ouer betaam mag jy nie te ontsteld voorkom nie, want dan ontstig jy die Pax Romana (oftewel die beleid van vrede en geen geweld en stoornisse) in die huis want jy as ma (en jy ALLEEN) bepaal die gemoedstoestand in die huis . . . dis ‘n hoofstuk op sy eie en Gielie Galbraak, my suurpruim alterego, kan baie hieroor sê.
     Maar tussen al my skryf en kla deur gebeur interessante dinge wat nooit met ander mense gebeur nie. Het jy al ‘n Franse Meesters Kunsuitstalling by die Standard Bank Galery in Johannesburg bygewoon met jou dogters . . . en met jou breingestremde 19jarige wat eintlik emosioneel 2 jaar oud is? (Dit gebeur net omdat jy ‘n (dom?) goeie vrou is en liewer nie toelaat dat jou man op ‘n reëndag jou einste gestremde kind saamsleep na ‘n veiling en ‘n potjiekos kompetisie toe nie.) En jou goeie bediende is weg na ‘n begrafnis, en daarom is die klompie van ons, vergesel deur my suster, Esme’, toe die middestad van Johannesburg in op ‘n rëendag.
     Eintlik is ek ‘n baie dapper (of dom) mens, want ek dink ALTYD dat dit nie so erg gaan wees as die prentjie wat ek vooraf in my kop het nie. En ek het ‘n goeie verbeelding, maar ek dink altyd Sean gaan hom gedra en maklik saam met my trappe op en af klim en mooi na al die prentjies kyk of by ‘n tafel sit, terwyl ek kyk of nie die mense te erg gaan pla nie. Ek dink altyd so. Wanneer ek die les gaan leer, weet die hemele alleen. So.... hier gaan ons. . . eers die spanning van Johannesburg en ek wat van die platteland af kom. En reën. Ja, danksy my man se goeie padkaart is ons uiteindelik daar. Parkeer. Hysbak, dankie tog. Ingangsportaal, alles gaan goed. Ag tog . . . twee stelle trappe . . . ons is bo met ‘n besondere gesteun en gesukkel (Sean kan loop maar nie hardloop nie, hy kan ook nie trappe klim nie, nie sonder ‘n goeie ondersteuningstelsel nie, en veral nie afklim nie en hy is langer as ek – darem is ek dikker as hy en dus sterker, dink ek.)
     Bo. Ag hoe mooi! Die Franse meesters van die 20ste eeu wat die menslike liggaam herontdek en beverf en als is te pragtig. Daar is GROOT name soos Matisse, Monet, Renoir, Picasso, Grüber, en nog wat ek nie ken nie. Ons oeee en aaa oor die balans, die kleur, die verfhale, die antieke rame, en is in vervoering. Daar is ‘n jong bewonderenswaardige ma wat haar driejarige dogter na die uitstalling gebring het en verduidelik vir haar elkeen se naam, tegniek en styl. Te mooi . . .
     BBBBIIIIIEEEEEEEPPPPPP! Skreeu ‘n alarm hier naby ons. Natuurlik is dit toe my kind wat te na aan die skilderye getrap het, want hy wil my mos nou vir die tannies wys daar is mooi mensies op die doeke. En as jy oor die masking tape streep trap wat jou van die tydlose meesters skei, dan gaan alarms af!! En die room van die elite van Johannesburg kyk almal in jou rigting asof jy probeer het om ‘n kosbare kunswerk te steel of nog erger . . . aan dit te raak met jou 21ste eeuse besmette vingers . . . of nog erger: as Sean daaraan raak met sy vingers wat nou net in sy neus was . . . Nodeloos om te sê hoe die res van ons oggend verloop het:
    Matisse . . .
    Sean, nie oor die streep nie!
    Flippen hel, Sean! Kyk vir die streep!
    Jammer, die kind verstaan nie, sorry, he doesn’t understand . . .
    Renoir . . .
    Maaa! Kyk vir Sean, hy gaan by die trappe afneuk!
    Los vir Sean, ek is sy ma! Gaan kyk op ‘n ander plek dan pla hy julle nie!
    Picasso . . . (nogal ‘n ou kleintjie . . . en net een van hom? Kaal tannie . . .
    Sean, moenie vat nie!
    Biiieeeeppp!
    Sean los die security guard uit!
    BBBIIIIEEEEP! (almal kyk)
    Sean! Nie oor die streep nie!
    Monet . . .
    Sean,  los die mense!
    Ma! Daar gaat hy streep toe!
    BBBIIIEEEP! (almal kyk)
    Los die kind! Ek’s sy ma! Ek sal hom dophou!
    O, en hoekom is hy doer anderkant!
    BBBIIIEEEPPP!! (Almal kyk)
    Grüber . . .
    Sean, Flippen hel, wil jy kar toe gaan?
    Los die tannie!
    BIIIEEEPPP (almal kyk, o, die keer is die nie Sean nie, maar ‘n ou tannie. Dankie tog!)
    Roger de la Fresnaye . . .
    BIEEEPPP!
    Jacques Monore . . .
    Sean, kom sit hier! Los die mense!
    Sean wil jy huistoe gaan?
    Verdomp! Kom ons gaan huistoe!
    Maaaa . . . .
    Oppas vir Sean by die trappe, ma!
    Kom Sean, sit, jy kan nie trappe klim nie! (Hy seil gewoonlik so by trappe af omdat dit vir my te moeilik is om sy groot-kind-swaar gewig en ongebalanseerde lomp lyf met die trappe af te help. Vele ongelukke het al amper so gebeur. . .)
    Neeeeee! Klim! (dis Sean se harde stem, harder as die alarms – en nou weier hy om te sit)
    Ma, sit langs hom op die trap dan sal hy sit. (Ma doen dit onder aanskouiing van die room van die Johannesburgse Elite - Sean sit nie vandag nie. Hy wil staan en afklim.)
    Sean, sit verdomp (ek pluk hom af na sy boude toe)
    Neeee!! (ja, nou sit hy, en ek sleep hom aan die voete af met die eerste stel trappe)
    Sean, sit! (Hy pluk my aan my baadjie van my balans af)
    (Vreemde vrou:) Are you allright?
    Neeeeeee! (skree Sean, En ek voel ook : Neeeeee! Ek’s so nie orraait nie, maar wil jy die hele storie hoor? Nee, ek dink nie so nie! Flippen hel, los ons uit!)
    Yes, thank you. I am allright . . .
    (En regop is Sean en ek het nie genoeg krag om hom weer af te trek op sy boude nie. Ek moet hom die tweede stel trappe laat afklim, sukkel, sukkel sukkel en dit neem ure.) Ek bring jou nooit weer iewers heen nie! Stoute blerrie kind!
    Boeta happy. Mamma kwaad . . .
    Ja, mamma moerig! Blerrie meisiekinders, pleks hulle op hul eie gaan skilderye kyk. Nou probeer hulle ma wees vir die klein wetter.  (Bla-bla-bal tot by die kar.)
    (Nou: almal moerig, slaan kardeure.)

    Dis ‘n verkorte weergawe van ‘n twee-uur lange kyk na skilderye in die Standard Bank Kuns galery.
    Kom by die huis. En my man kan nie verstaan hoekom ek so dikbekkerig lyk nie. En ek kan nie te erg dikbek wees nie want ek alleen moet die stemming in die huis bepaal: lig en happy verkieslik. Ek moet my frustrasies terugbyt en my glimlag opsit. En dankie sê dat ek veilig in die reën tuis is met my kinders en ek moet dankie sê dat ek wel na die 20ste eeuse meesters kon gaan kyk in ons eie land skaars ‘n uur se ry van my huis af. En dat my man my soveel vryheid gee om myself uit te leef. Ek bedoel, wie ken julle wat hulle gesinne aan hierdie besondere kunsuitstalling blootgestel het? My kinders is bevoorreg om ‘n ma te hê wat hulle aan kultuur blootstel. Verdomp dankie. 
(Op die foto is Michelle en Chantal my twee dogters tydens 'n danskonsert. Hulle moet ook maar op hul tande byt as Sean iewers saam met ons gaan, want dis 'n klein sirkus op sy eie.)

 (Op die foto is Sean-Jacques tydens bogenoemde danskonsert saam met ons vriendin, Doreen. Hy is baie bevoorreg om haar te ken want sy is die enigste een wat nie uit-freak as hy per ongeluk die boob raakvat nie! Soos iemand noem: Two Shades of Grey - die twee!!)
NASKRIF: Ek moet bylas dat ek vir Sean so twee weke gelede na die sirkus toe gevat het en dit het veel beter gegaan. Narre, poedels, ponies en sterkmanne wat swaar ysterballe ronddra is eerder sy koppie tee, al het hy die nar in die maag geboks toe die mannetjie hom kom kies het om saam te gaan optree . . . Ja, daar was al tye wat ek gedink het om vir Sean maar by die sirkus in te skryf . . . Of dalk moet ek self wegloop saam met die sirkus . . .  o, nee, ek't vergeet! Ek het my eie sirkus tuis!    

Sunday, July 29, 2012

DEMONE, HORMONE EN TOORDOKTERS


     In hierdie 30ste hoofstuk lyk dit of bliksemstrale en vreemdsoortige demone nieg om mev. Doeminie se wonderlike wêreld aan flarde te laat spat. Ek wou mos dink die jaar is rustiger, maar voor Junie nog sy gatkant gesien het, is my jaar omgedop en uitgepeul en so ook my derms.
     Dit het laasjaar begin, hierdie ding, maar ek het my oë toegeknyp want 2011 was mos my af jaar. My Sabbatical soos die Super-Christene dit noem. Nie heeltemal so rustig nie, want ek was net semi-sabbaties. Ek het nie groot skryfwerke aangepak nie – net die jaarlikse drama by die kerk (King David and his eight Wives, 'n rolprent vir ’n vriend van my: The Nazarite (oor Simson) en die kinderkerk se weeklikse lesse wat ek self skryf en wat oor elke Bybelboek gaan... en o-ja, die e-jongspan stories vir die ekerk webkerk van Prof Stephan Joubert. Sien, ek was rustig. Ja ek het begin skryf aan ’n boek... niks belangriks nie . . . net 'n storie oor ’n internasionale semi-Christelike kerk wat bo blink en onder stink en mense vermoor en regeer so onder die radar . . . en ’n Bybelsmokkelaar wat hulle aan die kaak moet stel en 'n . . . Nee, niks . . . NIKS. . . groot stories vir Hollywood of drome dat my boek deur ’n agent opgeraap gaan word nie of dat 'n uitgewer uit Engeland my een nag gaan bel as ek lekker slaap nie. . . Bliep-bliep – dis my ‘silent alarm’ dat ek moet terugkom aarde toe, na die realiteit van ma-wees en mev. Doeminie wees in Hartbeespoort. Hier is die plek waar mense doodgaan, siek word en in ellende verkeer rondom my, 'n plek vanwaar ek nooit sal ontsnap nie, 'n plek waar my wortels stewig lê. Dis die realiteit. Nie Hollywood nie. 
(Op die foto is my breingestremde seun, Sean-Jacques en sy fantastiese terapeut, Yolanda, by die Kuierkidz leersentrum.)
     Now having said that: Met 'n breingestremde 19jarige in die huis wat die breinkapasiteit en emosies van 'n 3-jarige het, is daar nie plek vir my kop om Hollywood toe te staan nie. My siel drup-drup wel kwylend as ek Michael Flatley se Riverdance of Feet of flames op televisie sien, of enige rolprent waar die spelers 'n Ierse of Skotse aksent het. . . want om een of ander rede wil ek berzerk raak net deur aan Ierland of Skotland te dink . . . wat is fout met my? Dis of daar tienduisend klein demoontjies of ‘leperchaurns’ opspring in my en my kop en hart uitmekaar uit ruk as ek net hieraan dink... ek klap hulle dan met 'n harde realiteits-‘check’ plat en uit my lewe uit en gaan aan met my alledaagse take: kosmaak, doek skoonmaak (want Sean is nog op doeke omdat hy eenvoudig nie die bollie-ding in die toilet verstaan nie), ry kinders skool toe, ry kinders na dans-aksies, skoolfunksies of haarskou-aksies of redenaars of wat ook al rond. Onthou daai storie wat party van ons op skool vir 'n voorgeskrewe werk gehad het: Andries, die verdomde robot? ... Aanhou beweeg en geraas maak, Andries, dit is die sin van die lewe . .  (Dit voel partykeer so!). Maar verlede jaar het 'n ding my oudste dogter begin onderkry... 'n ding wat ek geen beheer oor het nie, en sy ook nie. . . Eers meer oor my dogters: 

Dis baie uitdagend om 2 pragtige, talentvolle, kreatiewe dog hormonale dogters te hê. Dis meer uitdagend as om 'n breingestremde 3jarige tiener te hê - vir my. Sean is rustig, praterig, lomperig, liefdevol, passievol oor ander mense (dit sien mens in die paniekerige uitdrukking in elke mens in die dorp se oë as hy hul oor-vriendelik groet en wil soen of druk). Sean is my vrolike lot op aarde. Ek het lankal daarmee vrede gemaak dat hy soos my ‘happy’ Siamese tweeling met my gaan wees solank ek of hy lewe. Gelukkig is hy happy. Altyd. Hy verstaan mos nie ongeluk, probleme of drome nie. Hy is die een wat my nederig hou, wat my laat besef dat droom vir ander oulike mense beskore is. Hy laat my besef dat die realiteit (soos 'n vrot doek in jou gesig) jou anker op 'n veilige roetine plek waar drome ruik soos stront en in die toilet afspoel soos ... ja-wel, daardie einste drol.
     Maar voor my alterego, Gielie Galbraak, haar sê inkry, laat ek net my realiteit bietjie opvrolik. My man, Anton is mos dominee. Ek het ook al vrede gemaak dat ons, willens of wetens, deel is van 'n gebroke wêreld waar ellende soos riool uitspoel orals in die strate en ook in ons mooi dam hier op Hartbeespoort. En dit loop: dik en drillend duidelik uit die huise van ryk en arm. Van Skotstraat doerbo in Schoemansville wat so van ver uitkyk oor die dam, tot in die Popo Molefe plakkerskamp hier oorkant ons plot. Niemand word ellende gespaar nie. Selfmoord, kanker, armoede, verkragting, verwerping, egskeiding, verslawing en beskindering: dis deel van elkeen. Dis veral deel van 'n dominee se huishouding, want as dit jou mense raak, dan raak dit jou en jou gesinslede. My man is ’n baie goeie berader en kan oplossings uitdink so vinnig soos die riool uitloop in die dam. Maar juis daarom moet ek redelik altyd my eie oordramatiese gevoelens en derm-uitrygende worries eenkant toe skuif, want dit kan te veel raak vir hom. Dis iets waarmee ek moes vrede maak. Dis waarom ek ook my antidepressante daagliks drink, want ek kan sowaar nie met die Bybel alleen onder my arm, my weghol emosies en verbeelding, heeltyd kalm hou of aan my man ontbloot nie. Dit plaas hom onder geweldige spanning. Ek bedoel, dit plaas my onder geweldige spanning om die goed te droom en uit te dink, en dit plaas dan almal om my onder spanning. Dis soos 'n wegholperd as ek dit nie beheer nie. En 'n ma moet kalm wees. Te alle tye. Vir die behoud van die gesin.
     Gelukkig het ek goeie vriendinne ('n malle, 'n rustige, 'n suksesvolle, 'n kunstige, 'n terapeutiese en 'n eksotiese) wat met groot oë en die regte geluide na al my verwonde drome en bloedvergietende verhale luister - en sterk koffie skink sodat ek my trane daarin kan verdrink. Maar dan het ek ook twee pragtige tienerdogters wat my weer van voor af laat drome droom: vir hulle (maar dit doen ek saggies - versigtig soos 'n skoenlapper fluistering, want nooit wil ek op hul die las van te groot drome plaas nie). Hulle kan natuurlik droom. Hulle eie drome op hul eie tyd. (Op die foto is Chantal, ons veertienjarige dogter in 2012)
     Ek wou eintlik oor dié twee wondermensies praat wat te midde van hul eie demone en hormone, ook deel is van die probleme en realiteite van 'n predikantshuis - en nog 'n huis met 'n gestremde in, daar is dus ellende van alle kante, maar ek dink tog die twee dogters van ons oorleef tans nog al die aanslae... net-net: 
     Hier is hulle, ons twee dogters: Die mooie Michelle (17) die slim, kunssinige, kreatiewe modeontwerper met haar sagte gees en altyd vriendelike glimlag wat groot drome droom van die modehuise van Milaan, Parys en London; en die ewe mooie Chantal (14), die ewe slim, vurige, emosieryke volbloed aktrise met haar klein seerkry hartjie en groot aspirasies van Hollywood, Broadway en West-end. (Op die foto is Michelle tydens 'n Goldwell haarskou in 2012)
      Met twee sulke uiterste en passievolle dog hormonale siele in die huis, kan ek nie juis baie tyd spandeer aan my vergete drome nie. Hulle vol lewe hou my besig en jonk. Dis 'n wonderlike voorreg om hul te sien grootword: (as ek die beeld van wurmpies kan gebruik - ) om te sien hoe hulle van klein wurmpies ontwikkel en stewig toegespin in hul gekoesterde menswees (soos binne in 'n veilige kokon – hul ouerhuis) – hulself hierbinne rondwikkel, skop en stoei totdat hul self 'n opening uit die kokon krap en 'n stukkie van die toekomslig sien van waarheen hul oppad is. (Dit klink nou woes dramaties, maar byt vas . . )
     Ouers veg soms saam met hul kinders om die kokon oop te kry en te help ontdek waar die lig inkom. Dan stoei die skoenlappers verder en ontwikkel hul vlerkies en druk die koppies deur die gate en uit die kokon, pynlik maar dapper en uiteindelik druk hul lyfies en papgedrukte vlerkies deur en kan hul hul vlerkies saggies oopmaak, eers net klein en dan al hoe groter totdat hulle dit woes kan rondflap. Die nuwe vlerke klap 'n ouer seker maar dikwels in die gesig of onderstebo, want die passie en vreugde waarmee die nuwe skoenlapper haar vlerke bewonder en oopsprei, is selfs vir die skoenlapper self soms te oorweldigend. Sy stamp haarself ook soms in haar lompheid onderstebo. En dan is daar net een pad vorentoe: Daardie vlerke moet geoefen word. Soms wil mens die skoenlapper terugdruk in die kokon en haar beskerm, maar jy besef dat sy nooit weer terug gaan pas in daardie veilige boksie nie. Al wat oorbly is om die vlerke wyer en wyer te sprei totdat sy wegvlieg. Die groot wegvlieg lê voor vir my en ek wag met opgehoude asem daarvoor. Die dag as my twee mooi gekoesterde skoenlappers die wêreld invlieg en hul eie lewe gaan lei.
     Maar eers sit ons met die PROBLEEM wat iewers laasjaar aan my Michelle se kokon begin krap het:  Michelle is al ’n jaar kronies moeg en naar. Ek was al by al wat 'n dokter, homopaat en internis is. Nog net nie by 'n toordokter nie! Sy is net sonder energie en selfs bewerig – heeldag – en naar. Die rande vloei in daardie ewige rivier van doktersrekenings in en steeds is dit het einde niet. Ek betaal met ’n glimlag alles wat ons het aan dokters – as iets net wil help. En met my geskiedenis van dokters en homopate met ons breingestremde, is dit 'n woeste toets net om een van hierdie spesies te vertrou. Ten einde laaste is ons nou by 'n sielkundige. Ek wil nou dink dat die naar en moeg begin het na haar goeie vriend, Dean Steyn se dood in Mei 2011, want die simptome het net daarna begin. Post Traumatic Stress Disorder, noem die slimmes dit, maar selfs daaroor wonder ek: hierdie mensies kry lae bloeddruk, nagmerries oor die voorval wat stres veroorsaak, slegte nagrus, raak onsosiaal, ens ens, en niks hiervan is Michelle nie. Ek wil mal word. Ek bid vir haar. Erg. Daar was al iemand wat 'n duiwel wou uitbid en 'n ander het my vertel van heksery en wat als. Ek het haar al selfs beetgehad en enige toordery weggedryf! (Dis 'n hoofstuk op sy eie daardie, asof ek of sy so iets gewoond is!). (Op die foto is 'n vriendin Anastacia links, Michelle in die middel en Chantal regs tydens 'n Goldwell haarskou by Kuierkerk )
     Ek is so bekommerd oor Michelle se vreemde siekte-toestand maar kan niks vir haar doen nie. Nie Red-Bull of vitamien B-inspuitings help nie. Ons bid. Ons bid. Ons bid. Dis geen lewe vir ’n tiener nie. Tog bly sy vriendelik, aktief en sosiaal. Ek besef nou hoekom sy so aangedring het op homeschool vanaf middel verlede jaar. Die drie verdiepings trappe by die dorp se Hoërskool was daagliks te erg uitputtend vir haar. En dan nog die onuitputlike bron van onderwysers wat met alles foutvind, wat kleinlik die vensters van die klas toe hou as die kinders te veel praat om hul in 'n sauna-uitputtende omgewing te straf vir hul sondes. Of onderwysers wat heeldag teenoor die kinders kla oor hul eie onstabiele huislike en emosionele omstandighede of 'n onbevoegde onderwyseres wat glad nie in 'n klas hoort nie en soos 'n magsbehepte tiran die kinders uit haar klas laat vlug omdat sy net kans sien om 'n handjievol deur te vat matriek toe. Dit alles het Michelle totaal energieloos gelaat en ons moes haar inskryf by Impak tuisonderrig. Ek is nou bly hieroor want sy doen goed tuis met relatief min energie wat gemors word op iets anders as skoolwerk. Sy dans nog haar danse en neem orals deel aan sosiale geleenthede. Ek bid net dat sy gesond word. Wat ook al fout is. Sy steek haar siekte goed weg en niemand kom dit agter nie, behalwe ek. Sy leef haar uit in haar kuns en haar kreatiwiteit en haar droom is om in Kaapstad te studeer 'n internasionale modeontwerper te word.
     Chantal is 'n passievolle uitdaging op haar eie: Sy is tipies drama-Queen te hard op haarself en op haar toneelspel, dans, kleredrag, voorkoms en persoonlikheid. Ek bid dat sy balans sal vind in haar kreatiewe gees en haarself sal aanvaar vir die pragtige talentvolle meisie wat sy is. Sy het pas 5 voordrag/drama/gedig items gelewer op die Harties kunstefees en vir alles A++ gekry. Sy het my asem weggeslaan met haar voordrag en volwassenheid.
     Ek sien myself so 100% in hierdie twee dogters van my: ek sien elke swakheid maar ook elke sterkpunt van my wat hul by my geërf het. My swakhede is dalk hulle sterk punte en kan hul ander sterk punte net versterk. Ek sien ook Anton se intellek, sy passie vir mense, en al sy ander goeie en slegte eienskappe in hulle. Mag God alles van ons – sterk en swak – wat in hulle is, in een wonderlike toekoms vir hulle inweef sodat hulle skoenlappervlerke hulle nog ver oor die wêreld heen kan dra waar hulle 'n kleurvolle verskil gaan maak. 
     My gebed is dat God hulle sal bewaar terwyl hy hul drome waar maak en dat Hy hul sal laat sien hoe groot en wyd sy liefde en genade is vir hulle en vir ander. Ek bid dat hul 'n seën sal wees vir ander, orals waar hulle kom en dat hul God se genade en liefde ook aan ander sal oordra. Hierdie is dinge wat hul broer, in sy eenvoud en in sy gestremdheid alreeds ontdek het, maar dis iets wat 'n gesonde jongmens nog ver en wyd sal moet soek om te ontdek.