Monday, September 23, 2024

René van Zyl: Wenner van 'n ATKV-Woordveertjie 2024: Belle met die hart vol blomme (Romanse)

My glimlag loop vandag reg rondom my kop: Dié e-pos ontvang ek vanoggend: ATKV sit veer in

liefdesverhale se hoed. Dit is weer daardie tyd van die jaar – die ATKV vier skrywers, digters en dramaturge se uitsonderlike pennevrugte, toewyding en kreatiwiteit. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord. Boekwurms wêreldwyd sal jou vertel dat min dinge ’n goeie liefdesverhaal klop, en ook in Afrikaans staan liefdesromans hul plek op boekrakke vol.

Die Prys vir Romanses word vanjaar aan Belle, met die hart vol blomme – René van Zyl (Romanza) toegeken. Volgens die beoordelaars Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen is die taalvaardigheid en gemaklike skryftrant van die skrywer deurgaans uitstaande. Die aanvangstoneel van die verhaal is besonder sterk en die leser kry dadelik insig in die gemoedstoestand van die heldin asook die rede vir haar paniek.

Die kalmte waarmee die held haar hanteer is ’n puik teenvoeter en tegelyk ’n aanduiding van sý karakter. Die verrassende einde van die eerste hoofstuk is ’n motivering om gretig verder te lees – ook die eerste van talle onverwagte wendings wat die geslaagde storielyn oplewer.

Baie geluk ook aan al die ander wenners in die ander kategorië.
Dankie aan Deo-Dané Van Der Merwe wat toestemming gegee het dat ek haar foto mag gebruik - julle twee is net eenvoudig pragtig. Toe ek die foto op facebook sien, het ek sommer inspirasie gekry om 'n boek te skryf! En kyk nou!
Beskikbaar by boekwinkels landwyd, LAPA Uitgewers, Graffiti Books en as e-boek op lapa en Amazon se blaaie. met René van Zyl, Skrywer

*******
Ek het 'n lys gaan maak van al my boeke - van die eerste jeugboek wat ek geskryf het, Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality (aksie-avontuur) tot die nuutste Romanza wat Februarie verskyn: Storieboekheld.
Ek geniet alle genres. Sover het ek twee samesweringsromans, Die Alfadokument (Weknbrou, Lapa) en Die Omegakomplot, nog twee jeugromans, Die monster in my melkskommel (Lapa) en Tuimeltrein (NB )en sowat 15 Romanzas (Lapa). Daar is ook 'n paar bundels waarin my kortrverhale verskyn.
Twee toekennings:
ROSA/Imbalie toekenning 2020 vir Storm vol Liefde
ATKV-Woordveertjie 2024: Belle met die hart vol Blomme.