* Wenner ATKV-Woordveertjie 2024 (Romanse) * Wenner 2020 ROSA Imbali prys: skryf van Romanse. * Tuimeltrein jeugboek (NB) voorgeskryf vir gr. 12 - IEB skole/ AET vanaf 2026. * Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality * Die Alfadokument (Wenkbrou) & Die Omegakomplot (Samesweringsrillers) * 16 Romanses (Lapa/PRH) * Die Monster in my Melkskommel (PRH) * Ontwerper: interaktiewe kinderkerkmateriaal Bybelboekwurm * Skrywer van 12+ musiekblyspele
Tuesday, May 3, 2016
MEV. DOEMINIE EN DIE MOERASPADDAS!
Min dinge kan die
mevrou Doeminie se alterego, Gielie Galbraak, so opklits soos mense wat wragtig
alles weet: daardie super-wesens wat arrive het terwyl ons ander
ellendige Christene nog wriemel in strome vol van dampstank swanger soos
een oorwerkte dominee eendag preek: “Ons is soos paddas wat kwaak uit die
moeras van ellende vir God se genade doerbo...”
Ek kon my
paddaboudjies nie gou genoeg by daardie kerk uitspring nie. Maar gelukkig is
daardie ander Christene nie so laag soos ons wat in die paddaplaag-brigade
vasgevang is nie. Nee, hulle weet wat is reg en verkeerd. Hulle het daardie
boom-van-kennis-van-goed-en-kwaad se vrugte gepluk, ’n super-smoothie
gemaak, gedrink en ’n super-Christen-ek-weet-nou-alles fase bereik.
Hulle glo hul is
gebless met meer geestelike seeninge as moerasmense; hulle voldoen aan al die
vereistes om uit daardie modder gelig te word na ’n fase van algehele kennis en
dus, voorspoed. Hulle vertel graag vir die paddas hoekom húlle gebede nie
verhoor word nie en hoe sonde en ongeloof hul dieper die modder insuig. Jy
weet, daardie vloekwoordjie soms, daardie sigaret, glas wyn en daardie Oosterse
Bonzaiplant op jou stoep! En behoede jou as jy ’n televisie besit, iets wat ’n
Super-Christen lankal afgelê het, want hierdie aardse verleidings kan jou
insluk. Hul glo die duiwel is in alles te vinde, van Oprah (die ‘anti-chris’)
tot die Teletubbies; selfs in die Christen bordspel wat ek opgestel het om
gesinne meer oor Jesus te leer. God het dit nie nodig om tot ’n bordspel
verlaag te word nie, vertel een my: Hy’s te heilig. Een super-Christen verbied
my Middeleeuse storieboek haar winkel: Wee Monk’s Tale, wat handel oor
Christentieners wat Vikings en Druïdes moet uitoorlê terwyl hulle ’n kosbare altaar-Bybel
beskerm. Die voorblad lyk kwansuis duiwels! Regtig? Moet ons Christene mekaar
se unieke geloofspad en gawes afkraak terwyl ons almal spartel om te oorleef?
Daai ouens is oorgewig brulpadda-boelies wat mede-Christene met verwaendheid
dieper die moeras indruk. Kwaak liewer liefde as jy jou ou platbek MOET
oopmaak! DALK as jy so moeraspadda liefde gee (soen!) verander hy in die prins
wat hy is!
Subscribe to:
Posts (Atom)