Thursday, June 13, 2013

TEATER IS HEERLIK!

Hoe doen mens dit, vra iemand my nou die aand, om elke jaar 'n beter musiekblyspel te skryf wat mense van nuuts af geniet? Dis nou na die heerlike humoristiese produksie van Esther, Queen of Persia, wat ons pas vir en deur die gemeenskap in Hartbeespoort opgevoer het. Daar is mense wat glo elke jaar se blyspel is beter as die vorige een. Natuurlik is dit God se inspirasie en Sy kreatiwiteit wat alles veroorsaak en die wiele laat rol, want Hy is die groot Skepper. En dan is daar nog iets wat mens nie moet vergeet nie - die Bybel is 'n boek vol verhale wat altyd nuut is. Sodra mens dink jy ken die of daai storie, dan wys iemand dit vir jou op 'n ander manier en jy sien dit van nuuts af. Dis vir my so lekker as mense uit die teater stap en sê hulle het nog noot so aan die storie of die karakters gedink nie: Kan jy glo, die Bybelse mense was maar net mens soos ons!
Dis net so lekker as mense 'n paar dae na die vertoning kom vertel dat hulle die verhaal weer in die Bybel gaan lees het en dat dit voel of hul dit vir die eerste keer begin verstaan. Ek glo die Heilige Gees werk in 'n leerbare gees die beste. As jy jouself (en jou kinders) blootstel om meer oor God en sy Bybel uit te vind, sal Hy jou tegemoet kom en jou meer van sy skatte wys. Ek is so dankbaar vir elke akteur en sanger wat hul rol so goed gespeel het, en vir die maande se harde oefen. Daar is niks so lekker vir 'n skrywer as wanneer sy geskrewe stukkie werk deur mense gesnap word en uitgeleef word nie. Dis 'n stukkie van die skepping. Dis 'n stukkie van die verborge dinge wat God ons kom wys. Ek is dankbaar vir my talente en vir die mense om  my se talente wat alles saamwerk om God se naam te verheerlik, elkeen op sy unieke manier. Dankie, Jesus!

Hieronder is 'n uittreksel uit die Noordwes Beeld van Woensdag 12 Junie 2013 wat Carla vd Spuy vir ons geplaas het. Lekker dag!!

http://www.noordwesbeeld.com/68132/news-details/koningin-esther-met-n-kinkel

Nuus Koningin Esther met ’n kinkel
Koningin Vasti, wat vermoedelik die wêreld se eerste feminis was, ’n koning wat die koppe laat rol, sexy buikdansers en ’n lawaaierige harem met sy eie baasspelerige glam-ghoeroes was alles deel van die tweetalige interkerklike musiekblyspel Esther, Queen of Persia, wat onlangs deur Christian Musical Theatre in Hartbeespoort opgevoer is.
Hierdie Bybelse verhaal is op vindingryke wyse deur die plaaslike predikantsvrou René van Zyl van die Kuierkerk verwerk met musiek van Bon Jovi, Adéle en Roxette. Die opbrengs was ten bate van die liefdadigheid in die gemeenskap.
Esther, Queen of Persia is die sewende blyspel wat Van Zyl op die planke bring. Van die vorige blyspele, ook met Bybelse temas, het onder meer musiek van Abba en Elvis ingesluit.
Al die toeskouers was dit eens dat dié dorp se mense nie hul talente onder ’n maatemmer wegsteek nie.
So was Doreen Coetzee, wat ook ’n rol in Liefling in die Staatsteater vertolk, die regisseur.
Belinda Walker, ’n musiekstudent, het die hoofrol vertolk, terwyl Belly Buttons die dansers verskaf het.
Van Zyl is bekend daarvoor dat sy die Bybelse boodskap op ’n prettige en moderne manier aan die publiek oordra.